Marlise Scheepers het al talle kere verby Le Sel @ The Cradle in die Wieg van die Mensdom gery, maar nog nooit afgedraai en gaan inloer nie.

Na ’n lang, lui Sondag-middagete by die restaurant het dinge der mate so verander. Dis ’n plek waar ek beslis ’n gereelde kliënt kan word. Die restaurant se argitektuur skep ’n oop ruimtelike effek. Buite op die stoep het jy ’n lieflike uitsig oor die koppies en die Wieg van die Mensdom.

Die restautant het 'n pragtige uitsig oor die Wieg van die Mensdom.

Die restautant het ‘n pragtige uitsig oor die Wieg van die Mensdom.

Wanneer jy aansit, kry jy broodjies wat saam met growwe sout en Willow Creek se ekstra-suiwer olyfolie en balsamiese asyn bedien word. Vir voorgereg het ek gesukkel om te kies tussen die blomkool -en broccolisop met truffels, die slakke vol-au-vent met ’n Chardonnay-sous of die springbok-terrien met balsamiese asyn -en uiekonfyt. Laasgenoemde het gewen. In die terrien was daar stukkies sampioen wat dit ekstra tekstuur gegee het. Maar die ster van die voorgereg was die gekarameliseerde uie.

LeSel1

Die springbok-terrien met balsamiese asyn -en uiekonfyt.

My metgesel het die garnaal -koljander -en avokadopeerslaai bestel. Natuurlik moes ek ook ’n happie daarvan probeer. Dit was omtrent ’n mond vol smake. Met vars koljander kan ’n mens selde verkeerd gaan.

LeSel2

Die garnaal -koljander -en avokadopeerslaai.

Vir die hoofgereg het ek op lamvleis Saltimbocca met songedroogde tamaties en linguine-pasta besluit. Die linguine was perfek al dente gekook en die songedroogde tamaties het dit netjies afgerond. Die gereg was ’n perfekte balans van soet en suur. Die skapie was ’n bietjie oorgaar en kon ’n knertsie sagter gewees het. Maar die gereg as sulks was ’n wenner.

lamvleis Saltimbocca met songedroogde tamaties en linguine-pasta.

My metgesel het vis bestel. Die gediepbraaide stokvis was bedek met ’n Guinness-deeg en bedien saam met aartappelskyfies. Ek het weer my vurk oor die tafel gestuur om die goudbruin vis te proe. Die degie was lig, lieflik en bros. En die vis het in my mond weggesmelt. Absoluut verruklik.

LeSel4

Diepbraaide stokvis, bedek in ’n Guiness-deeg en bedien saam met aartappelskyfies.

Die bure se springbokskenkel met ’n botterskorsie-gratin het ons monde laat water. Die eendboud confit, bedien met ’n soetpampoengebak het ook heerlik gelyk. Dis egter die lamsrak met ’n steranys-sous en baba ganoush wat my sal laat terugkeer.

Die restaurant het ook ’n nageregbuffet op ’n Sondagmiddag. Die Amerikaanse toeriste was mal oor die pampoentert en sjokoladekoekies. Dan is daar ook nog brownie-poeding, ’n donker sjokolade -en lemoentert, strooppeertertjies en klein kaaskoekies. Ek was gaande oor die suurlemoentert met room.

Jy sal beslis 'n tweede besoek aan die nageregtafel aflê, na jy die suurlemoentert geproe het.

Jy sal beslis ‘n tweede besoek aan die nageregtafel aflê, na jy die suurlemoentert geproe het.

Kinders sal dol wees oor die tuisgemaakte malvalekkers. Die telg is welkom hier en kinders onder twaalf kan vanaf die kinderspyskaart bestel. Daar is staatmakers soos visvingers, botterskorsiesop, hoenderschnitzel, hamburgers en spaghetti bolognaise.
Daar is ook ’n kinderspeelplek ’n entjie van die restaurant af met ‘n springkasteel. Daar kan die jongspan gil en lag, sonder om die rustige atmosfeer van die restaurant te versteur.

Werd om te weet

Le Sel bied ’n heerlike eet-ervaring en rustige uitgerekte stoepkuiers. Die restaurant is rolstoelvriendelik en as jy nie met die bergtrappe vanaf die parkeerarea na die restaurant wil stap nie, is daar ’n gholfkarretjie wat kliënte heen en weer karwy. Sondagmiddagete by Le Sel is R250 per persoon en R85 per kind onder twaalf.

Die restaurant bied ’n uitgebreide dranklys met boetiekbier soos Naked Mexican, Boston IPA en Boston Premium Lager. Die wynlys spog met van Suid Afrika se beste wyne, soos Ernie Else Big Easy White, Diemersfontein se Coffee & Chocolate Pinotage en Darling Cellars Merlot.
Ek en my metgesel het Graham Beck ‘The Game Reserve’ 2013 Chardonnay bestel en ons was nie teleurgesteld nie.

Sjef Coco Reinarhz is die eienaar en uitvoerende sjef van Le Sel. Hy het in België studeer en twaalf jaar gelede na Suid Afrika verhuis om konsultasiewerk vir plaaslike restaurante te doen. Sjef Coco besit ook twee ander restaurante in Johannesburg, Sel et Poivre in die Faircity Quatermain hotel in Sandton en Le Petit Sel in die Faircity Falstaff hotel, ook in Sandton.

Vir meer inligting kontak:

011 701 3010 of 060 485 6880.
Stuur ’n epos na coco@seletpoivre.co.za
Besoek die webblad: http://thecradle.co.za

Le Sel is geleë op die Kromdraai-pad (R540) op pad na die Wieg van die Mensdom. (Eerste draai na die linkerkant, as jy vanaf die Fourways-area ry)

Marlise Scheepers is ‘n sjef en vryskut-kosskrywer. Le Sel @ The Cradle het die koste van haar besoek gedra.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *