WIE IS DIE REISMIER?


 

carla_reismier

Die Reismier is ‘n aanlyngemeenskap vir Afrikaanse reisigers en reisskrywers, wat bedryf word deur Carla Lewis-Balden, ‘n reisjoernalis.

Carla werk tans by Media24 se Afrikaanse koerante as ‘n reis -en leefstyljoernalis. Voor sy in November 2015 by Media24 aangesluit het, was sy die redakteur van Travel Update, ‘n reistydskrif. Haar artikels het al in gesaghebbende publikasies soos Weg en Go, Wegry en Drive Out, Getaway, Huisgenoot, Vrouekeur, TFG Escapes, AFK Travel, Sunday Times en Saturday Star verskyn.

“Waar ek kan, wil ek mense oortuig om geld op ’n reis te bestee eerder as ’n plasmaskerm-televisie. Ek wil deur van my eie staaltjies, flaters, lag en trane, mense oortuig om self die wiel aan die rol te kry en hul drome na te streef.

“Reis is vir my  meer as net ’n tjap van nog ’n eksotiese land in jou paspoort. Jy kan reis deur ’n Marokkaanse taginegereg vir jou vriende voor te berei, ’n geselsie met ’n Kongolese motorwag aan te knoop, of sommer net jou plaaslike NG-kerk van nader te leer ken.”

Dit is waaroor Die Reismier gaan.

“Hier verdwaal ons in die wêreld van ongerepte strande in Suid-Oos Asië en soek plekke om weer asem te skep. Maar almal kan nie aldag wegkom nie en ek wil jou leer hoe om nuwe ervarings by die huis te probeer – of self Jan Tuisbly se karretjie vir ’n spin te vat.

“Die belangrikste van alles? Ek wil mense se koppe vul met muisneste van nuwe bestemmings.”