Zimbabwe is besig om ‘n bloeitydperk in toerisme te beleef. Carla Lewis-Balden verduidelik waarom dit tyd is om die land te besoek.

So paar weke terug het ek ’n artikel geskryf vir ’n Afrikaanse Sondagkoerant oor doendinge by die Victoria-watervalle. Die twiets het gou begin deurkom van my lesers. “Ek sal liewers die Zambiese kant ondersteun.” Die onlangse nuus dat die land olifantkalfies en swartwitpense aan dieretuine in die Verenige Arabiese Emirate verskaf, maak mense ook warm onder die kraag. Zimbabwe het ’n probleem met sy beeld en talle mense is huiwerig om die land te besoek omdat hulle nie saamstem met die politieke leiers van die land nie. Die boodskap is duidelik op die sosiale netwerke. Boikot Zimbabwe.

Die Victoria-watervalle is een van die gewildste bestemmings in Zimbabwe.

Die Victoria-watervalle is een van die gewildste bestemmings in Zimbabwe.

Tog sit ek hier en skryf die bloginskrywing vanuit Victoria Falls, waar ek die Victoria Falls Safari Lodge se 20ste verjaarsdag vier. Ek en my man beplan ook om volgende jaar padlangs deur die land te toer en ek sal vir enige iemand aanraai om die land te besoek.

Zimbabwe is besig om ’n bloeitydperk in toerisme te beleef. Volgende jaar in Augustus maak daar ’n splinternuwe lughawe oop, wat meer lugverkeer kan hanteer en die dorpie ’n spilpunt van toerisme in Suider-Afrika sal maak. Die aantal toeriste wat Victoria Falls besoek het in die afgelope vier jaar verdubbel.

Dis nooit ’n goeie idee om ’n land te burgers te benadeel as gevolg van sy leiers se besluite nie. Daarom sal ek eers tweekeer dink (en dan nog ’n keer) voordat ek besluit om ’n land se toerisme te boikot. Nie almal stem saam met hul land se leier nie. As die res van die wêreld besluit besluit om Suid-Afrika te boikot as gevolg van president Jacob Zuma se besluite, is daar ’n hele paar mense wat in groot moeilikheid sal wees, van die tannie met die gastehuis op die Tuinroete, tot talle kelners, skoonmakers en mense wat in die toerismebedryf werk. Dit het ’n rippel-effek op die mense se families en die kwesbaarste is gewoonlik die mense op voetsoolvlak.

Dit is destyds wat in Zimbabwe gebeur het, toe die wêreld besluit hulle bly weg. Die aantal toeriste wat Zimbabwe besoek het, het halfveer. “Dit het gelei tot een van die hartseerste dae in my lewe,” vertel Ross Kennedy, uitvoerende hoof van Africa Albida wat die Victoria Falls Safari Lodge besit. “Ek moes op een dag 125 mense afdank. In die laaste vyf jaar, vandat toerisme toegeneem het kon ons darem weer daardie poste vul, sommige met dieselfde mense wat destyds afgelê is.

Dave Glynn, voorsitter van Africa Albida sê hulle kan nie mense se morele mening oor Zimbabwe verander nie. “Ons wens egter dat mense sal kyk na die positiewe impak wat hul geld het om die mense wat in die toerismebedryf werk. Die geld wat hulle hier bestee maak ’n groot verandering in mense se lewens.”

Victoria Falls Safari Lodge alleen het meer as 300 werknemers wat vir hul werk. Daar word bereken dat elke werknemer ’n gemiddeld van ses afhanklikes het. Sonder toerisme is daar ’n rippeleffek op meer as 1800 mense se lewens.

Hwange en die Mana-poele is van die beste plekke om wild te kyk in Afrika.

Hwange en die Mana-poele is van die beste plekke om wild te kyk in Afrika.

Chris Roche, hoof van bemarking van Wilderness Safaris, een van Suid-Afrika se grootste safaritoeroperateurs sê dit was die afgelope tien jaar nogal ’n uitdaging om in Zimbabwe besigheid te doen as gevolg van die politieke en ekonomiese onstabiliteit. Tog het die maatskappy deurgedruk.
“Ons het geweier om die kampe toe te maak, omdat ons die impak op die plaaslike gemeenskappe en omgewing tot ’n minimum wou beperk. Ons kampe in Zimbabwe het egter laer pryse en besettingskoerse as in die buurlande gehad.
“As jy toerisme as ’n werkskepper en bydraer tot die ekonomie verwyder, kan jy ’n rampspoedige impak op die plaaslike ekonomie en bewaring hê. Die grootste impak op ons voetsoolvlakwerknemers was hul gemoedstoestand. Talle ander besighede het toegemaak en daar was baie onsekerheid.”

In Afrika se platteland is eko-toerisme en bewaring dikwels die enigste vorm van volhoubare werkskepping. Deur dit te verwyder, stuur jy ’n rippel-effek deur die hele gemeenskap. Wilderness Safaris bedryf byvoorbeeld ’n voedingskema vir 1200 skoolkinders. In Hwange alleen het elke werkernemer omtrent ses afhanklikes waarvoor hulle moet sorg. As die toeriste met hul dollars, euro’s, ponde en rande verdwyn, verdwyn dit ook.

As jy nie veel gepla is oor mense nie, is daar ook die diere en die omgewing. Die geld wat Wilderness van toeriste kry laat hul toe om drie boorgate en pompe in hul konsessies te hardloop. Toe Hwange ’n paar jaar gelede deur droogte getref is, het dit talle diere se lewens gered. Victoria Falls Safari Lodge het ook ’n “aasvoëlrestaurant” wat navorsers toelaat om waardevolle inligting oor die area se aasvoëlbevolking in te samel. Dan praat ons nie eers van die geld wat Africa Albida terugploeg word in die Victoria Falls se anti-stropingseenheid en bewaringsnavorsing nie. Alles kom weereens van toeriste.

Die reüines van Groot Zimbabwe kan meeding met Machu Picchu en die in Griekeland.

Die reüines van Groot Zimbabwe kan meeding met Machu Picchu en die in Griekeland.

Jonathan Hudson, algemene bestuurder van die VFSL het die land ook in sy donkerste tye gesien, maar dis nou alles in die verlede. “Ek kon seker my gesin gevat het en geloop het, maar ek het gekies om te bly. Dit was ’n uitdaging vir my, om te sien of ek die “bad and ugly” kon uitoorlê en iets goeds daaruit kon maak.
“Ek is ’n ewige optimis. Dan is daar die mense wat vir ons gewerk het. Zimbabwe se inwoners is van die vriendelikste en trotse mense wat jy in jou lewe sal ontmoet. Dit was veral sleg om te sien hoe hulle deur die awesigheid van toerisme geaffekteer word.

Kennedy stem saam. “Zimbabwe is my tuiste. My hele lewe en somtotaal van my lewe se werk is in die land. Baie lande beleef donker tydperke in hul geskiedenis, as ons elke keer moet weghol wanneer dit sleg gaan, gaan jy nêrens hê om te bly nie.”


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Waarom ek aanhou om Zimbabwe te ondersteun