Hoe minder mense het, hoe meer gewillig is hulle om te deel, meen Carina Jooste na ‘n besoek aan die Kubaanse platteland.

So sonder ’n horlosie of bestemming stap ek en my man Marc in die namiddagson by die geteerde hoofpad af. Die kamera se sluiter raas aanmekaar, maar daar’s geen manier wat hierdie stuk staal landelike Kuba se gloed na ’n lang dag kan vasvang nie. Maar ek hou aan probeer.

Die pad maak ’n draai en die uitsig raak net mooier. Ons is in Viñales – ’n klein dorpie in die Pinar del Río provinsie waar die rooi grond kluitjierig en lekker vir tabakgroei is.

Viñales is ’n klein dorpie in die Pinar del Río provinsie in Kuba.

Viñales is ’n klein dorpie in die Pinar del Río provinsie in Kuba.

My lens soek-soek ’n bok of ’n bees of selfs ’n klein gehuggie wat ek kan afneem, en wragtag sien ek doer in die verte ’n boer wat vir my waai. Marc, waai terug.

Kyk, ek’s maar ’n bitter versigtige reisiger, en waai nie sommer vir ’n vreemdeling nie. Paranoia? Kan wees. Daardie ongemaklike oomblik wanneer iemand begin gesels in Spaans en jy glimlag breed met verwarde oë? Heel moontlik.

Maar gelukkig is ek met ’n man getroud wat sonder om twee keer te dink nader sal stap om blad te skud.

“Welkom! Welkom!” groet die man met die dun snorretjie en lekker plaashoed. “My naam is Ramon.” Hy’t sy ploegskaar neergesit en die twee osse staan verbaas.

Ons staan in sy tabakhuisie en maak geselsies in gebroke Spaans, terwyl Ramon ’n vet sigaar rol. Sy sigare is 100% organies, belowe die man ons. Effe senuweeagtig vat Marc die sigaar by hom, en wag dat die boer self een aansteek.

Ramon wys vir ons hoe hy 'n sigaar rol.

Ramon wys vir ons hoe hy ‘n sigaar rol.

Tussendeur die ryk walms van die kluitjiegrond se oes probeer Ramon ons oortuig om 10 sigare te koop. Dit was ’n goeie prys, veral as die hande wat dit geplant het, geoes het en gerol het, reg voor jou staan. Ons begroting was skrapser as skraps, en $20 was die verskil tussen honger slaap vir twee aande of een.

“Kan ek jul dan môre op ’n staptoer deur die area vat? $10, dan wys ek vir julle die plaas en ons klim daai berg uit,” beduie hy met sy tabakgevlekte vingers.

Ons stem in en spreek af om hom die volgende oggend 08:00 te ontmoet.

Die dou lê nog dik oor die gras toe ons by die plaas aankom. “Ramon het gebel, hy’s binnekort hier – hy ry net gou van sy huis af,” verduidelik ’n skamerige man wat ons ingewag het. Groot glimlagte help om die vreemde Spaanse woorde te vertaal, en ons knik innig terwyl ons honderd keer dankie sê.

'n Donkiekar kruie in die pad af.

‘n Donkiekar kruie in die pad af.

’n Paar oomblikke later kom Ramon te perd aangery en my hart word warm vir Kuba en sy mense. Met ’n wuif en ’n gallop word ons gegroet, en binne sekondes begin ons te stap.

Die plaaspad sny koek tussendeur klein plantasies terwyl kaalbolyf-boere die grond ploeg. My stadsjapie oë besef dat hierdie nogals ’n groterige plaas moet wees. Ek bou vir ’n minuut lank ’n vraag met Spaanse woorde in my kop voor ek vra aan wie die plaas nou eintlik behoort.

“Elkeen van ons is boere – dis ’n groot plaas ja, maar ons elkeen het ’n stukkie land wat ons bewerk. Hierdie een groei aartappels en daai een tamaties en hier groei rys – so groei ons elkeen maar ons eie ding.”

Die grond hier is rooi en vrugbaar, perfek vir landbou.

Die grond hier is rooi en vrugbaar, perfek vir landbou.

Hy vertel ook dat 60% – 70% van alle grond met die hand bewerk word. Harde werk, maar ’n mens sien die trots in die boere se oop gesigte soos ons verbyloop. As ek nou reg kan onthou, moet die boere ook 60% van hul oes terug aan die staat gee.

Diep gesprekke raak te vermoeiend en ons skakel oor na meer eenvoudige onderwerpe. Ons vertel hom hoeveel mense in Johannesburg bly, watter tipe mielies ons in Suid-Afrika groei en dat ons ook groen bone groei. Ramon wil weet oor giftige slange, en ons sê ja – ons het.

Die woorde raak al hoe minder hoe hoër die son teen die lug uitklim.

Saam met die son klim ons die berg uit – wat eintlik maar meer ’n kalksteenformasie is – en bekyk die valleie van Viñales tot ons oë nie meer kan nie. Ons kyk na die lande, die kluitjiegrond en die twee-os-ploegskare. Ons kyk na eeu-oue kalksteenformasies en die ou Plymouths en Chevrolets wat elke nou en dan verby rammel. Ons kyk saam met Ramon na sy stukkie land, en ek wonder hoeveel magies daar tuis is om te voed.

Een van die talle vintage motors wat jy in Kuba sien.

Een van die talle vintage motors wat jy in Kuba sien.

Pootuit en reg vir ’n bier vat ons die pad terug huis toe, en terwyl Ramon sy osse regkry vir ’n volle dag van aanhits en ploeg vra hy weer of ons nie die 10 sigare wil koop nie.

So hoe kan ’n mens ‘nee dankie’ sê as die gulhartigheid van Kuba se mense aan jou deur kom klop? Jy soek maar ’n ekstra geldjie en koop drie.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *