Hulle noem dit die ‘Slow Travel’-beweging, oftewel ’n stadige reis. Die idee is dat jy, eerder as om in sewe dae deur tien lande te blits, jy jouself eerder tot ’n spesifieke dorp of streek vestig tydens jou vakansie. Daar is volgens Carla Lewis-Balden nie ’n beter manier om stadig te reis as met ’n huisboot op een van Frankryk se kanale nie.

Lente in Frankryk kan ’n bietjie misleidend wees, veral in die Languedoc-Roussilon-streek, naby die Spaanse grens. Die Tramontane-wind wat vanaf die Noord-Ooste waai, het nog steeds ’n ysige byt, al dra die vrugtebome reeds meer blomme en bloeisels as ’n hipster-meisie by ’n musiekfees. ’n Tipiese lentedag in Maart kort steeds ’n dik baadjie, wolsokkies en ’n mus.

Die dorpie Beziers, in die Languedoc-streek in die suide van Frankryk.

Die dorpie Beziers, in die Languedoc-streek in die suide van Frankryk.

Ek sit op ’n Le Boat-huisboot op die Canal du Midi, en elke keer as ’n yl lentesonnetjie deurbreek deur die wolke en op my rug val, is dit pure plesier. Een van die voordele om tydens die begin van die seisoen op die Canal du Midi te vaar, is dat jy basies die kanaal vir jouself het. Daar is geen lang rye om deur die riviersluise te gaan nie. Dis net jy, die silwer waters van die kanaal, met plantaanbome wat langs die kanale geplant is. In die verte kyk jy oor wingerde en vrugteboorde, met enkele werkers wat reeds die grond bewerk vir die oesseisoen.

Ons eerste basis en wegspringdorp is die klein dorpie van Homps, seker so twee ure se ry vanaf die stad Toulouse. Die senuwees van ons groepie is egter in fraiings, nadat ons aan die verkeerde kant van die pad bestuur het en boonop verdwaal het. Daar is egter min dinge wat ’n karaf huiswyn uit die Languedoc-streek en ’n tuisgemaakte cassoulet van die plaaslike restaurant nie kan regmaak nie.

Dis heerlik om in die vroeglente op die Canal du Midi te vaar. Die temperature is wel nog koel, maar die kanale is stil.

Dis heerlik om in die vroeglente op die Canal du Midi te vaar. Die temperature is wel nog koel, maar die kanale is stil.

Hier is dit eendewêreld; as jy iewers eende-confit wil eet, is dit die plek om te doen. Ek het ook ’n skuldige happie foie gras, ’n tipe eendelewerpatee uit ons skipper, Jean-Michel se bord gesteel. Die skuldgevoel oor die arme eende was egter nie genoeg om my te stuit om vir ’n tweede een in te beweeg nie. Dis deksels lekker.

Die eerste oggend toe ons wegspring kry ons gou ’n les in Sluise 101. Die kanaal het ’n verskeidenheid sluise waardeer jy moet beweeg en alhoewel dit vet pret is, moet jy darem kophou oor hoe dinge gedoen moet word. As dit winderig is, moet die boot vasgemaak word en dit help darem ’n bietjie as jy die verskil tussen bakboord en stuurpoort ken. Die afstande tussen die dorpies en sluise is kort en as jy bietjie bene wil rek (en al die eend en rooiwyn wil afstap) kan jy net afklim by een van die sluise en langs die kanaal drentel.

Die dorpie van Argent-Minervois.

Die dorpie van Argent-Minervois.

Ons stop vir middagete in Argens-Minervois, ’n dorpie wat lyk asof dit stel vir die fliek Chocolat kon gewees het. Dis een van die lekker dinge van Le Boat; as jy ’n interessante dorpie, wynkelder of kasteel langs die oewer sien kan jy net anker gooi, jou boot vasmaak en gaan verken. Argens-Minervois se attraksies sluit in die ruines van ’n ou kerk en ou stegies wat verken kan word. Ons besluit sommer om ook hier middagete te eet.

Een van die lekkerste dinge van so ’n rivierbootrit is die kuiers en kos. Ons het voor die tyd vir ons kos by die supermark in Homps gekoop en die selfs die kleinerige een was ’n belewenis. Die vars produkte val in ’n ander klas en die kos en slaaie wat klaar voorberei is, sal vir Woolworths les laat opsê. Die kaas waaruit jy kan kies is genoeg om jou kop te laat draai. Franse Camembert is nie vir beginners nie en ons moes ’n besonderse bedompige outjie tot kwarantyn op die boonste dek verban nadat hy die onderste kajuit opgestink het. Jean-Michel het ook elke oggend gesorg vir stoomwarm baguettes en vars croissants. Middagete het ons self gemaak en in die aande het ons uitgeeet, maar as jy vir langer as drie aande vaar kan die uiteet nogal jou sak ruk.

Jy moet beslis vir 'n aand in die klein dorpie, Le Someille oorslaap.

Jy moet beslis vir ‘n aand in die klein dorpie, Le Somail oorslaap.

Dis skemer, die goue uur toe ons in Le Somail invaar. Daar is seker nie ’n mooier tyd in die Franse platteland nie, met die sagte lentelig wat op die sandsteenplaashuise langs die oewer val. Dit voel asof elke dorpie meeding om meer oulik, meer van ’n tjoklikboksbeeld as sy buurdorp se skep, maar Le Somail vat die koek. Met skemerte voel dit asof die hele dorp en hul hond uitkom om langs die kanaal te stap en bietjie op die stadsplein te gesels. Ou omies sit by straatkafeetjies en drink ’n petit pastis, terwyl ander ’n spel petaque net voor donkerte probeer inwerk. Al wat kort is die klankbaan van ’n Franse trekklavier, daardie deuntjie wat jy gewoonlik in die Richelieu-advertensies hoor.

Die hoogtepunt is egter die tweeverdieping antieke boekwinkel met daardie bekorende, stowwerige reuk van ou boeke. Daar is beperkte uitgawes van bekendes soos Victor Hugo se Boggelrug van Notre Dame en Alexandre Dumas se Drie musketiere. Boekrakke kreun onder die denke van Voltaire, Sartre en Descartes. Selfs al kan jy nie ’n woord verstaan van wat in die boeke staan nie, voel dit asof jy in ’n gewyde tempel van kennis staan.

Die tweedehandse boekwindel in Le Somail is beslis 'n besoek werd.

Die tweedehandse boekwindel in Le Somail is beslis ‘n besoek werd.

Ek wil ook gaan

Moet ek ’n bootlisensie hê of kennis van die water en see?

Le Boat vereis geen spesiale bootlisensie nie, maar ek sal voorstel dat jy ’n skipper vir ’n dag of twee huur om jou touwys te maak. Om ’n kenner aan boord te hê sal jou vakansie net ’n bietjie meer ontspanne maak. Boonop sal hy ook vir jou kan sê waar om die beste baguettes en croissants in elke dorpie te koop. As jy dit egter onder die knie het, is dit makliker as om ’n kar te bestuur.

Hoeveel kos dit?

Die bote van Le Boat strek van basies tot luukse bote wat met oligarge se seiljagte kan meeding. Dit hang ook af watter tyd van die jaar jy besluit om te gaan, Julie en Augustus is die besigste en sodoende ook die duurste. ’n Bootrit van sewe nagte op ’n driesterboot vir ses mense op die Canal du Midi in September kos sowat R21 000. Dit sluit egter nie brandstof of jou dokfooie in nie.
Jy kan ook ekstras soos soos sambrele, fietse, lanterns en selfs ’n braai huur. Besoek hul webblad vir ’n meer volledige pryslys.
Le Boat bied ook 20% afslag op bootreise wat in die Europese herfs (September en October) plaasvind. Besoek hul webblad vir meer inligting.

'n Ou boot staan langs die oewer in Le Someil.

‘n Ou boot staan langs die oewer in Le Someil.

Is die bote gemaklik?

Soos met alle bote word daar deeglik gebruik gemaak van elke hoekie om spasie te benut. Die kajuit is egter ruim genoeg, sonder om beknop te voel. Party bote het opvoubeddings in die leefarea, wat sal werk vir ’n familie met twee kinders, maar ek sal dit nie voorstel vir grootmense wat opsoek is na privaatheid nie. As jy saam met vriende of familie gaan, probeer om ’n boot te kry wat ’n badkamer vir elke paartjie het, dit sal konflik uitskakel

Die Canal du Midi

Die Midi-kanaal is tussen 1666 en 1681 gebou as kortpad tussen die Atlantiese Oseaan en die Meditereense see – ’n seevaart wat meer as ’n maand om die Spaanse kus kon duur. Die waterweg bestaan uit 240 kilometer geboude kanaal, 328 strukture soos sluise, akwadukte, tonnels en brûe. Die kanaal is sedert 1996 deel van die Grand Site de France en ook ’n Unesco Wêrelderfenisgebied. Dit is van Maart tot November oop vir besoekers en en strek van Toulouse tot Étang de Thau, waar die Camargue kanaal begin.

Beplan jou reis

Vir meer inligting of om te bespreek: Bel 021 200 1838, stuur ’n epos na sales-zaf@leboat.co.uk of besoek Le Boat se webwerf by http://www.leboat.co.za.
Die Franse toerismeowerheid sal jou help om jou vakansie te beplan en is ’n uitstekende bron van inligting oor Frankryk. Kontak hulle by + 27 (0)10 205 0201 of + 27 (0)83 200 4444, stuur ’n e-pos na helene.bezuidenhoudt@atout-france.fr of besoek hul webwerf by http://int.rendezvousenfrance.com.

Le Boat en die Franse toerismeowerheid het Carla Lewis-Balden se reis na Frankryk gedek. Die berig het oorspronklik in Rapport se ‘Beleef’ verskyn.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *