Vroegtydige beplanning is ‘n vereiste wanneer jy blomme gaan kyk. Die blomtyd val gewoonlik saam met die Namaqua Quest Stage Race en verblyf kan ’n probleem wees as jy nie vroegtydig bespreek nie. Deur Leroné Lazenby.

Ons reis gewoonlik ook op ’n knap begroting en soos met enige van ons reise of toere probeer ons altyd om kostes tot ’n minimum te beperk. So kan ons ‘n verskeidenheid aktiwiteite of besoeke aan verskillende dorpies inpas. 
Doen jou navorsing oor die internet, daar is talle webwerwe waar jy goeie verblyf kan bespreek wat aan jou behoeftes voldoen. Die keer het ons Lekkeslaap se dienste ingespan om vir ons verblyf in Springbok en Augrabies te bespreek.

Dit kos deeglike beplanning as jy na die blomme van Namakwaland wil gaan kyk. FOTO'S: Leroné Lazenby

Dit kos deeglike beplanning as jy na die blomme van Namakwaland wil gaan kyk. FOTO’S: Leroné Lazenby

Springbok is die middelpunt van die Blommeroete. Dis ook in die omgewing waar ons van die mooiste blomme tydens ons ekspedisie gesien het. Plate en plate van pers, oranje, geel en pienk blom sommer so reg langs die paaie, hoofweë en rondom besighede. Plek-plek troon daar ’n kokerboom tussen al die helder kleure uit.

Buite Springbok het ons by die Jakkalswater Gasteplaas gebly. Die gasteplaas is geleë naby die dorpie Nababeep se ou myngolfbaan. Benewens vir die agt chalets is daar ook 15 staanplekke vir kampeerders. Boonop is dit ’n eko-vriendelike bestemming wat op son-energie staatmaat vir krag. Ons uitsig vanuit ons kamer met sonsopkoms was sprokiesmooi. Jy kan hier ’n staproete in die omliggende koppies en heuwels aanpak en daarna afkoel met ’n swem in die groot plaasdam op die plaas. Hulle het ook ’n restaurant en kombuis waar jy bestellings vir ontbyt kan plaas.

Sonopkoms op die Jakkalswater-gasteplaas.

Sonopkoms op die Jakkalswater-gasteplaas.

Van Springbok het ons besluit om Kamieskroon toe te ry en ’n draai te maak in die Skilpad-natuurreservaat, die area waaroor al die webtuistes gons. Die grondpad is in ’n baie goeie toestand en ons het hier prentjiemooi foto’s geneem. Die blomme in die natuurreservaat was plek-plek sigbaar, maar ons het veral die Namakwa-gespikkelde padloper (Homopus Signatus) se kaskenades geniet. Dié skilpaadjie se bewaringstatus is ‘byna bedreig’ en mense word gewaarsku om altyd op die uitkyk te wees wanneer hulle die paaie in die skilpadjie se habitat gebruik.

'n Gespikkelde padloper word oor die pad vergesel.

‘n Gespikkelde padloper word oor die pad vergesel.

Die Skilpad-pad maak ’n draai in Hondeklipbaai, ‘n klein kusdorp wat oorspronklik as ’n hawe gebruik is vir die uitvoer van kopererts van die omliggende myne. Erts is per ossewa vir so ver as 140km na die hawe vervoer. Hondeklipbaai is vernoem na ’n klip wat gelyk het soos ‘n hond wat sit. Dis nou voordat dit deur weerlig getref is. Hier kan jy ook die skeepswrak van die I&J-vissersboot, die Aristea sien wat in 1945 op die rotse geloop het. Die kaptein het volgens die volkstories nie gehou by ‘n ‘klein bietjie wyn’ nie.

Een van die skeepswrakke by Hondeklipbaai.

Een van die skeepswrakke by Hondeklipbaai.

Uit Hondeklipbaai loop daar ’n teerpad deur die ou myngebied na Kleinsee se kant toe. Net voor Kleinsee draai jy regs op ’n grondpad wat jou verby Komaggas vat en uiteindelik by die R355 na Springbok aansluit. Die gedeelte van die pad kronkel deur die mooiste bergpasse. Dis ook waar ons van die mooiste blommetonele afgekom het. Dit lyk soos iets uit ’n skildery, plaasdamme en windpompe, omring deur plate kleur van geel en rooi.

Naby Springbok het ons ook ‘n draai gaan maak in Okiep, die oudste myndorpie in Suid Afrika waar koper vanaf 1855 gemyn is. Generaal Jan Smuts het ook hier in April en Mei 1902 die kopervelde onder Britse eienaarskap gekommandeer. Die plan was om die Britse troepe uit die Kaap na Okiep te lok, sodat die Boeremagte die Kaap kon binneval. Die plan is egter nooit uitgevoer nie, omdat Smuts kort daarna na Pretoria is om die Vrede van Vereeniging te onderteken, wat die oorlog beëindig het. Okiep is ’n fraai dorpie, die kleurvolle klein huisies het tydens blomtyd die mooiste tuine en kinders speel rond in die strate.

NoordKaap7

Die Anglikaanse kerk op Okiep.

Die dorpie, Concordia net langs Okiep is in die vroeë jare van die 19de eeu as Rynse sendingstasie gestig. In 1863 is dit oorgeneem deur die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk. Die ontdekking van koper in 1940 deur Albert von Schicht het tot die ontwikkeling van die dorpie gelei. Hier het ons gesien hoe groot blokke marmer ontgin word. Jy kan ook nie sommer enige grondpad of afdraaipad gebruik nie, ons het meer as een keer ’n ‘ompad’ in ’n mynarea gery.

Van Springbok het ons die N14 deur Aggenys, Pofadder en Kakamas gevat. Gaan maak gerus ’n draai by die Orange River Cellars vir bietjie ‘eie wyn’ soos die kelner ons verduidelik het. Hier kan jy ook jou versameling uitbrei met ‘n paar bottels wyn van Die Wijnhuis. So ’n entjie voor Kakamas draai jy links op die R64 en ry deur die klein dorpie Marchand, op pad na die Augrabies Watervalle. Jy kan hier stop by The Raisin Company waar jy plat sementstroke sal sien, met druiwe wat in die son droog. Hier is ook padstalle waar ons koue koeldrank en plaaslike lekkernye gekoop het. Die bekendste twee is Die Pienk Padstad en The Phutswa Shop. Ons het by die Augrabies Valle-gastehuis gebly. Die gastehuis se tariewe is bekostigbaar en die ligging uitstekend. Dis minder as twee km van die Augrabies Nasionale Park se ingang.

Augrabies-watervalle staan ook bekend as "Plek van Geraas."

Augrabies-watervalle staan ook bekend as “Plek van Geraas.”

Ons laaste stop van die roete was die pragtige Augrabies-waterval, wat ook baie gepas “plek van groot geraas” gedoop is. Al was die waterval nie in volle vloed nie, was dit steeds iets om te aanskou. Daar is verskeie uitkykpunte en sou jy tyd hê, ook plekke waar jy wild kan besigtig. Die voëllewe is volop en bied ywerige voëlkykers talle geleenthede om foto’s te neem. Die toer was beslis ’n ondervinding. 3008 kilometer in vier dae is beslis die moeite werd.

Handige webwerwe

Verblyf

Jakkalswater Gasteplaas

Augrabies Valle-gastehuis

Blomme en parke

Sankparke in Namakwaland: http://www.sanparks.co.za/parks/namaqua/
Springbok: https://www.facebook.com/pages/Springbok-Die-mooiste-dorp-in-Namakwaland
Augrabies: http://www.sanparks.co.za/parks/augrabies/

Plekke in die kontrei

Orange River Wines-kelder: www.orangeriverwines.com
Noord-Kaapse Toerisme: www.experiencenortherncape.com
The Raisin Company: www.theraisincompany.com

Leroné Lazenby is ’n fotograaf en die eienaar van La Belle Vita Photography. Vir meer inligting besoek haar webwerf of Facebook-blad


Leave a Reply to Die Reismier Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

6 thoughts on “Vat die pad na Namakwaland

  • Reply
    Trudie

    Dankie! Besig om n roete uit te werk.net nie baie lus v d lang tyd oppi pad nie….wil van die Kaap af opey…Paternoster…darling en dan na Springbok Kakemas se kant toe…einde aug begin sept n goeie tyd?

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Hi Trudie
      Daardie blommetjies is maar wispelturig! Dit hang alles af van die weer, die reënval en of die son besluit om sy gesig te wys. Ek dink einde Augustus, begin September is ‘n redelike goeie tyd, maar met my ervaring is die begin van September tot so middel maar die veiligste. Bygesê, ‘n mens weet nooit met Moeder Natuur nie, ‘n kollega was onlangs in die Tankwa-Karoo en daar het reeds ‘n paar blommetjies hul gesigte gewys. Jy moet dit geniet!

  • Reply
    Renate Heyman

    Ek is van Grootfontein – Namibie. Ons beplan om September te gaan blomme kyk. Is dit te laat? Dan wil ek ook weet van die beste roetes wat dit die moeite werd sal maak. Sal kampering op die roetes beskikbaar wees. Baie dankie. Groete