As alles volgens plan verloop, heropen Tintswalo Atlantic sy deure einde Oktober vanjaar sê Michelle du Plessis, besturende direkteur van Tintswalo Lodges. Deur Carla Lewis-Balden

Die strandlodge in Houtbaai, wat een van Kaapstad se gesogste bestemmings was, het in Maart afgebrand, nadat die Kaap van sy ergste veldbrande in jare ervaar het.
Ek het Tintswalo Atlantic verlede jaar besoek en dit was een van die mees besonderse plekke waar ek al oorgebly het. Toe ek hoor die plek is deur die vuur verrinneweer, was ek geskok.
Dit was ’n oase van kalmte, reg onder Chapman’s Peak. Dit was versier in skakerings van blou, turkoois en seegroen, met seker van die mooiste uitsigte in die Moederstad. Elke kamer het ’n eilandtema gehad, ons het in die Robbeneiland-suite gebly.

Die Robbeneiland-suite.

Die Robbeneiland-suite.

Michelle beklemtoon dat die tema steeds behoue gaan bly met die “nuwe” lodge.
“Die eilandtema is iets wat die eienaars na aan die hart lê en ons gaan die kamers net so herskep. Daar sal klein verbeterings wees in die fynere detail, maar al die kamers gaan steeds herskep word na die eilande waarna hul vernoem is.”

Tintswalo3

Die uitsig vanaf jou kamer op die see en Houtbaai.

Die eienaar, Gaye Corbett is ’n vrou met ’n fyn oog vir detail en gaan die nuwe dekor oorsien, in oorleg met Caroline Wright van Spatial Concepts. Caroline was ook betrokke met die oorspronklike ontwerp en versier van die lodge.
’n Ander ding waaroor ek besorg was, was oor die werknemers van Tintswalo Atlantic. Die maatskappy is baie gestel op gemeenskapsontwikkeling en talle van hul werknemers word op voetsoolvlak in diens geneem en werk hulself op tot belangrike posisies soos ’n sjef of conscierge. Michelle sê egter dat hulle hul werknemers in ander maniere inspan, totdat die lodge weer op dreef is. Die brand het die plaaslike gemeenskap herenig en Tintswalo Atlantic is by talle projekte betrokke.

Gaste kan hier in die jakuzzi ontspan, terwyl hul aan 'n mengeldrankie teug.

Gaste kan hier in die jakuzzi ontspan, terwyl hul aan ‘n mengeldrankie teug.

“Hulle het reeds die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika se hoofkantore geverf en het verbeteringe aangebring by Little Angels, ’n créche vir minder bevoregte kinders in Houtbaai, asook by Olu’s Dream, ’n sentrum vir verslaafdes. Daar is ook uitreike gedoen na Hangberg, een van Houtbaai se minder bevoregte buurte.”
Tussendeur al die opleiding is die werknemers ook besig om opleiding te ontvang, sodat hulle op-en-top is wanneer die lodge weer in Oktober sy deure gaan open.

Sonsondergang vanaf die Robbeneiland-suite.

Sonsondergang vanaf die Robbeneiland-suite.

Voormalige gaste kan egter verseker wees dat die “nuwe” Tintswalo Atlantic nie baie veranderinge gaan ondergaan nie. Alles gaan splinternuut wees, maar die atmosfeer en konsep gaan steeds dieselfde wees.
“Die nuwe Tintswalo gaan net “nuut” wees. Die sjarme, finesse en uitstekende standaarde waarvoor die eiendom bekend was, gaan steeds daar wees. Die ramp het ons span nader aan mekaar gebring en ons net sterker gemaak,” beklemtoon Michelle.

Die blomme by die lodge, soos die speldekussing kom dikwels uit die Houtbaai-omgewing.

Die blomme by die lodge, soos die speldekussing kom dikwels uit die Houtbaai-omgewing.

Een van my gunsteling-tradisies by Tintswalo Atlantic was die “wensklippie”-seremonie.
Die storie loop dat die eienaars die stukkie hemel in Houtbaai raakgesien het toe hulle ’n plek gesoek het om hul droombestemming te bou. Toe hulle op die strand afgekom het waar Tintswalo Atlantic vandag herbou word, het hulle ’n klippie in die see gegooi en gewens dat die koop van die grond deurgaan. Hul wens het waar geword en die intieme seremonie word vandag met hul gaste gedeel.
As ek weer op daardie strand onder Houtbaai kan staan, sal ek ’n klippie vir Tintswalo in die klotsende branders gooi.
Mag die plek en sy mense weer verrys, sterker en mooier as ooit. Soos ’n feniks uit die asse.

Die Wensklip-seremonie.

Die Wensklip-seremonie.

Tintswalo Atlantic neem nou besprekings vir die somerseisoen vanaf November.
Om te bespreek, e-pos
res1@tintswalo.com
res2@tintswalo.com
res3@tintswalo.com

Bel: +27 (0)11 300 8888. Jy kan ook die webblad by www.tintswalo.com besoek.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *