Party is nuwe gunstelinge, ander ou staatmakers. Ons kyk na sewe wêreldstede wat jy vanjaar moet besoek.

1. Durban, Suid-Afrika

Kaapstad mag miskien die wêreld se gunsteling-supermodelstad wees, maar dan is Durban die aweregse hipstersussie. Die New York Times het onlangs die stad aangewys as een van hul moetsien plekke en ons kan verstaan hoekom. Die promenade het onlangs bietjie Botox gekry en jy kan hier ure bestee om na Durban se mooi mense te kyk. Gaan verken boheemse Morningside, met sy versameling boetieks en klein eetplekkies. Dan het die stad ook nog die grootste Indiërbevolking buite Indië, wat beteken dat dit een van die beste plekke in die wêreld is om kerrie te eet.

Durban is altyd gesien as Kaapstad se lelike stiefsussie, maar die stad is besig om te ontluik as een van Suid-Afrika se gewildste stede. Foto: WikimediaCommons

Durban is altyd gesien as Kaapstad se lelike stiefsussie, maar die stad is besig om te ontluik as een van Suid-Afrika se gewildste stede. Foto: WikimediaCommons

2. Bangkok, Thailand

Bangkok bly maar ’n staatmaker vir Suid-Afrikaners. Hier is die rand darem nog iets werd teen die Thaise baht. Dis nie so goedkoop as wat dit tien jaar terug was nie, maar daar is darem nog ’n paar winskopies wat jy kan uitsnuffel, veral by Chinatown en die Chatuchak-naweekmark. Bangkok is egter besig om te ontpop in ’n hipermoderne Asiatiese stad, wat meer eerstewêrelds as derdewêrelds is. Daar is wêreldklas inkopiesentrums en die talle dakkroeë is beslis ’n besoek werd. Min dinge is so opwindendend as om met ’n skemerkelkie in jou hand te staan op ’n 60ste verdieping en kyk hoe die son oor die monsterstad sak.

Die Bayoke Sky Hotel toring bokant Bangkok se stadsprofiel uit.

Die Bayoke Sky Hotel toring bokant Bangkok se stadsprofiel uit.

3. Amsterdam, Nederland

Amsterdam is die koelste stad wat ek nog in my lewe besoek het. Die Hollanders is die oorspronklike hipsters, maar soos ware hipsters was hul hipsters voordat dit koel was. Die stad is al vir dekades die bastion van uitstekende Nederlandse ontwerp, dit was immers die geboorteland van die De Stijl kunsbeweging. Hier ry almal met ’n fiets rond, terwyl hul by boetiekbrouerye stop en ’n lager of weissbier opslurp. As jy hou van kunsmuseums is hier genoeg om jou besig te hou, gaan kyk vir Rembrandt se Nagwag by die Rijksmuseum of vir Mondrian se rooi, blou en geel blokkies by die Stedelijk, die stad se moderne kunsmuseum. Vergeet van Rooiligdistrik en gaan verken liewers die Jordaan, dis die buurt waar al die koel Amsterdammers uithang.

Die Rijksmuseum in Amsterdam. Foto: Wikimedia Commons

Die Rijksmuseum in Amsterdam. Foto: Wikimedia Commons

4. Singapoer, Singapoer

Tegnies is Singapoer ’n stad én ’n land en het verlede jaar sy vyftigste jaar van onafhanklikheid gevier. Dit is ’n hipermoderne, Eerstewêreldstad, maar met sy talle parke, ‘groen longe’ Engelse koloniale geboue en boombeplante boulevards het dit nog ’n sekere sjarme. Dis veral veilig vir vroulike reisigers wat alleen reis, hier is die kans dat iemand jou gaan pla feitlik nul. Almal stroom altyd na die groot inkopiestraat, Orchardroad toe, maar verken liewers vir Little India en Chinatown, hier sal jy goeie winskopies kry.

Singapoer in die aand. Foto: Carla Lewis-Balden

Singapoer in die aand. Foto: Carla Lewis-Balden

5. Meksikostad, Meksiko

Wanneer mense aan Meksiko dink sal hul veel eerder na die kusstede soos Acapulco en Cancun toe gaan. Meksikostad het ’n slegte naam as ’n besoedelde en gevaarlike stad. Tog kan almal met wie ek al gepraat het, wat die stad besoek het nie uitgepraat raak nie. Een van die suksesstories is EcoBici, ’n publieke fietsvervoerstelsel wat in 2010 van stapel gestuur is. Hulle het oor die 270 fietsstasies met 4000 fietse regoor die stad versprei. Inwoners koop ’n EcoBici fietskaart vir ongeveer R300, wat vir hul vir ’n jaar toegang gee om die fietse te gebruik. Die stelsel, saam met nuwe fietsroetes en paaie het die besoedeling aansienlik verminder. Hier kan jy ook gaan kyk na kunstenaar Frida Kahlo se Blou Huis, die massiewe Museum van Antropologie besoek of ’n daguitstappie neem na Teotihuacan, die grootste piramide in die wêreld. Dis ook ’n bekostigbare stad, pryse hier is soortgelyk soos in Johannesburg.

Die Teotihuacan-piramides net buite Meksikostad.

Die Teotihuacan-piramides net buite Meksikostad.

6. Essaouira, Morokko

As ’n reisskrywer is ek nie net mal oor Game of Thrones se kinkelende storielyn nie, die plekke waar dit geskiet word laat ’n mens ook twee keer kyk. Ek wil nog altyd Essaouira in Morokko besoek het. In die derde reeks van Game of Thrones speel dié stad ’n hoofrol, As jy ’n aanhanger van die reeks is mag jy dit moontlik herken as die slawestad van Astapor. In die regte lewe was dit ’n groot hippietrekpleister en Jimi Hendrix het glo Castles Made of Sand hier geskryf. Vandag trek dit ook windsurfers van regoor die wêreld.

Essaouira in Marokko. Foto: Wikimedia Commons

Essaouira in Marokko. Foto: Wikimedia Commons

7. Havana, Kuba

Met diplomatiese verhoudings wat besig is om te versterk tussen die VSA en Kuba, maak al wat ’n Yank is homself reg om ’n vet sigar en ’n Cuba Libre op die Malécon te geniet. Kommunisme was ’n wonderlike tydkapsule, maar onthou, die hotelle se linne lyk ook asof dit laas met die Revolusie vervang is. Oor vyf jaar gaan dit nie meer dieselfde wees nie, soos groot hotelkettings hul tande begin slyp. Besoek nou Che en Fidel se land, voor dit te laat is.

Besoek nou Havana voordat al wat 'n Amerikaner is daarop toesak.

Besoek nou Havana voordat al wat ‘n Amerikaner is daarop toesak.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Sewe wêreldstede wat jy moet besoek

  • Reply
    Ashlene

    Ek dink al die stede is absoluut wonderlik en pragtig. Het julle dalk I toergroep wat deur Eurapa reis jaarliks of iets soort gelyks, ek is versot op reis en nuwe culture en mense leer ken.

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Dankie Ashlene!
      Ons is tans besig om te werk aan ‘n toer saam met ‘n bekende toergroep, sodra dit gefinaliseer is, sal ek meer detail deurgee.