As jy moeg is vir die kunsmatige mega-oord atmosfeer van die ander Indiese Oseaan-eilande, bied Réunion lafenis en ’n outentieke eilandervaring. En hier is vulkane!

1. Jy het nie ’n visum nodig nie

Kom ons wees nou eerlik, om aansoek te doen vir ’n visum is een van die minder aangename dinge. Dit neem jou tyd in beslag, vat jou geld en party lande versoek omtrent ’n piepiemonster voordat hulle jou in hul land toelaat.
Hoewel Réunion deel van Frankryk is, het Suid-Afrikaners nie visums nodig om dié stukkie tropiese Franse paradys te besoek nie. Dus het jy meer geld om op heerlike kos en avontuuruitstappies te bestee!

2. Daar is vulkane…

So, spog jou swaer die hele tyd met sy foto’s van sy Mauritiaanse wittebrood? Die kans is goed dat hulle in elkgeval net op die strand gelê het en duur mengeldrankies gedrink het. Wanneer jy Réunion besoek, kan jy spog dat jy op die rand van ’n aktiewe vulkaan geloop het. Die Piton de La Fournaise, een van die wêreld se mees aktiewe vulkane, het die landskap gebeitel tot ’n surrealistiese toneel van soliede lawa en kraters. Geen skemerkelkie en strand kan by ’n selfie regs langs ’n aktiewe vulkaan kers vashou nie.

Die Piton de La Fournaise se landskap lyk soos iets uit 'n surrealistiese skildery. Foto: Réunion Toerismeraad

Die Piton de La Fournaise se landskap lyk soos iets uit ‘n surrealistiese skildery. Foto: Réunion Toerismeraad

3. Maar ook jou tipiese poskaartstrande

As jou idee van ’n tropiese eiland egter wit strande en turkoois waters insluit, sal dié eiland nie teleurstel nie. Die weste van die eiland, en die poskaart-dorpie van Saint-Paul is die ideale plek om te bly as jy hou van strandaktiwiteite, watersport en sonbaai. Al gehoor van ’n glasbodemboot? In Réunion doen hulle dit beter. Saint Paul se toeristekantoor kan vir jou ’n rit op ’n deurskynende kajak organiseer, sodat jy die koraalrif kan beleef, sonder om nat te word.

By Réunion kan jy steeds poskaarttonele soos dié verwag. Foto: Réunion Toerismeraad

By Réunion kan jy steeds poskaarttonele soos dié verwag. Foto: Réunion Toerismeraad

4. Dit neem nie vir ewig om daar uit te kom nie

Die meeste langafstandvlugte is maar ’n beproewing, maar met Réunion is dit net 4 ure vanaf Johannesburg voordat jy ’n eksotiese, tropiese deel van Frankryk kan beleef. Dit is die Indiese Oseaan-eiland wat die naaste aan Suid-Afrika is.

5. Dit is meer ongerep as die ander Indiese Oseaan eilande

Terwyl pakkettoere ’n toerismemonster in die Indiese Oseaan gebaar het voel Réunion nog ongerep – in vergelyking met sy bure. Die Franse ken die eiland baie goed, maar dit was tot onlangs ’n goed bewaarde geheim onder gesoute en avontuurlustige reisigers. Hier sal jy nie die mega-oorde van Mauritius en die Seychelle vind nie, maar eerder kleiner, meer intieme boetiekhotelle, gastehuise en berglodges.

Die eiland spog met van die mees biodiverse ekosisteme in die Indiese Oseaan. Foto: Réunion Toerismeraad.

Die eiland spog met van die mees biodiverse ekosisteme in die Indiese Oseaan. Foto: Réunion Toerismeraad.

6. Smulpape, staan nader

As jy hou van fusionkos met inspirasie van ander kulture, sal jy mal wees oor Réunion se cuisine. Die eiland kombineer invloede van drie van die wêreld se lekkerste kookkulture, Frans, Indies en Chinees. Om dinge nog beter te maak sal jy jouself kan vergryp aan heerlike fyngebak soos croissants en makrolletjies. Nou wie het gesê jy moet Parys toe gaan om ’n ordentlike pain au chocolat op te spoor?

As jy hou van Fusion-cuisine, sal jy gaande wees oor die eiland se kos. Foto: Réunion Toerismeraad.

As jy hou van Fusion-cuisine, sal jy gaande wees oor die eiland se kos. Foto: Réunion Toerismeraad.

7. Frankofiele sal mal wees oor die hoofstad

Wil jy bietjie jou hoërskool Frans opskerp? St. Denis, die hoofstad is net die plek om dit te doen. Die stad voel so bietjie soos ’n plattelandse Franse dorpie, maar met palmbome en bougainvillas. Probeer ten minste twee nagte hier oorbly en verken die interessante winkeltjies, brasseries, bistros en boulangeries (bakkerye).

Die stadsentrum van St Denis. Foto: Wikimedia Commons

Die stadsentrum van St Denis. Foto: Wikimedia Commons

8. Sukkel jy om stil te sit?

Die eiland is ’n paradys vir adrenalienvrate, hier kan jy kies en keur tussen sportsoorte wat jou (en jou ma) se bloeddruk bietjie sal opjaag. Jy kan die skeurvalleie in die berge verken in ’n canyon-avontuur, teen rotswande uitklouter of oor die dramatiese landskap sweef in ’n sweegtuig. As jy egter hou van meer bedeesde aktiwiteite kan jy gaan snorkel, voëlkyk in een van die nasionale parke of op ’n deurskynende kanoe ry.

Réunion bied 'n verskeidenheid van opwindende sportsoorte. Foto: Réunion Toerismeraad.

Réunion bied ‘n verskeidenheid van opwindende sportsoorte. Foto: Réunion Toerismeraad.

9. Hell-bourg toe en terug


Moenie dat die naam jou flous nie, Hell-bourg is ’n stukkie hemel in Réunion se berge. ’n Mens kan nie help om oorweldig te word deur die agtergrond nie, smaraggroen berge troon bokant die kleurvolle dorpie uit en vorm ’n natuurlike amfiteater. Dit is ’n goeie plek om vir ’n paar dae te bly, as jy een val die talle staproetes in die area wil verken. Die dorpie self bied ook talle fotogeniese geleenthede. Dis moeilik om nie jou hart te verloor op die helderkleure Kreoolse huise wat die strate versier nie.

Een van Hell-bourg se kleurvolle Kreoolse wonings. Foto: Réunion Toerismeraad.

Een van Hell-bourg se kleurvolle Kreoolse wonings. Foto: Réunion Toerismeraad.

10. Almal is hier welkom


Die Réunionse inwoners, met hul etniese en kulturele diversteit is verdraagsame mense. Die toerismeraad het ook uit hul pad gegaan om gay besoekers so welkom as moontlik te laat voel, dit vorm selfs deel van hul gasvryheidsbeleid. Die beleid waarborg dat gay, lesbiese en transgenderresigers met respek behandel sal word en ten alle die die beste diens sal ontvang.

Vir meer inligting besoek: http://www.welcometoreunionisland.com


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Tien redes waarom jy Réunion-eiland moet besoek

  • Reply
    Lisa du Preez

    Dit lyk soos ‘n droom! En om te dink, al die tyd hou ons onsself op met Mauritius. Ek het nie geweet daar is soveel dinge om te doen nie. Kan julle ‘n goeie toermaatskappy aanbeveel as ons ‘n trip soontoe wil doen?

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Beste Lisa, Destinate, die maatskappy wat hul bemarking doen is tans in Réunion op ‘n uitstappie om kennis bymekaar te maak oor die eiland. Sodra hulle terug is, sal ons vir jou al die “inside info” kan verskaf. Intussen kan jy hul webwerf besoek om bietjie te droom. http://www.welcometoreunionisland.com