New York is bekend vir sy Broadway-vertonings, ontwerperswinkels en eksklusiewe restaurante. As jy egter op ’n begroting reis, is dit maklik om soos ’n arm weeskindjie voor ’n swietswinkel te voel in die Groot Appel.

Die goeie nuus is dat die stad ook ’n hele paar aktiwiteite en doendinge het wat nie jou sak sal ruk nie, of selfs gratis is. Ons wys vir jou ’n New York-naweek op ’n begroting.

1. Sorteer jou vervoer eerste uit

Mik na die middestad vir ’n Gray Line-toer of die CitySights NY Hop-On, Hop-Off-dubbeldekkerbus Koop die 48-hour All Loops Tour en begin met ’n middestad-toer wat Greenwich Village en Union Square, SoHo, Chinatown, die Lower East Side en die Empire State Building insluit. Jy kan by al die stoppe afklim en op jou eie verken. As jy egter meer van ’n gesoute reisiger is, reis met die subway. Terwyl bogenoemde bustoere jou ongeveer $50 of meer uit die sak gaan jaag vir ’n tweedag-toer, kan jy vir $30 ’n “7 day unlimited” subway-kaartjie koop, waar jy soveel as wat jy wil vir sewe dae op die moltreinstelsel kan reis. Vermy die taxi’s, hulle is peperduur.

2. Besoek Times Square

Om Times Square te besoek is gratis. Hier voel dit heeldag asof dit daglig is, al besoek jy dit in die aand onder die flitsende megawat-reklameborde. Maak jou reg vir toeriste wat hulself aan die spektakel vergaap en straatkunstenaars. As jy gelukkig is, sien jy miskien die halfkaal “Naked Cowboy”-straatmusikant. As jy ’n vertoning op Broadway wil gaan kyk, kan jy laaste-minuut afslagkaartjies by die TKTS-stalletjies koop by Duffy square.

Times Square. FOTO's: Wikipedia Commons.

Times Square. FOTO’s: Wikipedia Commons.

3. Eet soos ’n ware New Yorker

Koop jou aandete by ’n kosstalletjie op Times Square. Ons stel die tipiese New York Hot Dog voor. Jy kan nie New York besoek en nie die plaaslike delikatesse probeer nie. Party stalletjies is meer verdag as ander, volg die straatkossmulpaap se raad en kyk uit vir die stalletjie met die langste ry. So weet jy die kos is lekker en vars. ’n Tipiese New York Hot Dog word bedek met gebraaide uie of suurkool, ’n pikante bruin mosterd en bietjie tamatiesous. Eet hom by een van die sitplekke op Times Square se “pedestrian plazas”, reg in die middel van die wêreldbekende stadsplein.
Is jy lus vir bietjie eksotiese kos? New York se groot immigrantgemeenskap beteken dat dié stad van die lekkerste etniese kos in Amerika het. Gaan verken Chinatown se kosmarkte en geskenkwinkels. Daar is ook verskeie restaurante waar jy vir redelik goedkoop kan eet. Is jy eerder ’n pastapersoon? Little Italy is net langs Chinatown. Hier kan jy ’n cappucino geniet of smul aan ’n cannoloni.

4. Top of The Rock

Daar is geen beter plek om New York se flonkerende stadsliggies en ikoniese stadsprofiel te beleef as van die Rockefellar-gebou se dek nie. Die kaartjies sal jou sak ruk, dit kos amper R300 ($29) vir ’n volwasse kaartjie om die ‘Top of the Rock’ te betree. Ons stel voor jy koop ’n RockMoMa-kaartjie vir $44, wat jou toegang tot die New York Museum of Modern Art (MoMA) sal gee.

Die Rockefellar-sentrum bied van die mooiste uitsigte oor New York.

Die Rockefellar-sentrum bied van die mooiste uitsigte oor New York.

Spaarwenk: As jy nog meer geld wil spaar, koop ’n New York City Pass. Dit gee jou toegang tot New York se gewildste toeristeaantrekkings. Die City Pass sluit in “Top of the Rock”, die MoMA, Metropolitan Museum of Art (Die ‘Met’), die Empire State-gebou se observasiedek en ’n besoek aan Die Vryheidsbeeld. Die kaartjie is geldig vir 9 dae en kos $109, en bied jou besparings van tot 40%

5. Groet vir Lady Liberty

Geen uitstappie na New York is volmaak sonder ’n besoek aan die Vryheidsbeeld nie. Die Staten Island-veerboot ry verby die simbool van Amerika se vryheid en bied jou ook pragtige uitsigte van Ellis Island en die laer gedeelte van Manhattan. As jy egter haar van nader wil beskou, moet jy ’n toegangskaartjie koop wat $13 per volwassene kos. As jy egter ’n City Pass gekoop het, is dit een van die besienswaardighede wat by die kaartjie se pakket ingesluit is.

Die Vryheidsbeeld kan gratis vanaf die Staten Island-veerboot gesien word.

Die Vryheidsbeeld kan gratis vanaf die Staten Island-veerboot gesien word.

6. Union Square en Greenwich Village

Op Saterdae is daar ’n lieflike boeremark by Union Square. Hier kan jy aan organiese kase, varsprodukte en heerlike brode proe terwyl jy die atmosfeer indrink. As jy daar klaar is, kies koers na die boheemse buurt van Greenwich Village. Hier kan jy vir ure drentel terwyl jy jouself verkyk aan die argitektuur, interessante boetieks en talle restaurante.
As jy Greenwich in die aand besoek, stel ons Arthur’s Tavern in by 57 Grove Street 57 voor, vir ’n aand van intieme jazz en blues.

7. Toer die silwerskerm en kleinkassie

As jy ’n aanhanger van Friends, Sex and the City en Gossip Girl is of ’n ywerige fliekflooi moet jy een van On Location se toere onderneem. Die maatskappy spesialiseer in TV-reekse en fliektoere wat op die perseel in New York geskiet is. Daar is ook toere wat net fokus of Sex and the City, waar jy in Carrie Bradshaw se voetspore kan stap. As jy hou van ou klassie flieks stel ons die TCM Classic-toer voor. Hier kan jy kyk waar Marilyn Monroe se rok opgevlieg het tydens The Seven Year Itch en talle van die plekke besoek waar Woody Allen sy Manhattan geskiet het. As jy nie geld wil uithaal vir ’n toer nie, kan jy altyd net hul roetes gaan afkyk en jou eie roete uitwerk op Google Streetmaps.

8. Stap oor Brooklyn-brug

Een van die beste plekke om die mooiste foto’s van New York se ikoniese stadsprofiel te kry, is die Brooklyn-brug. Die brug koppel vir Manhattan en Brooklyn met mekaar. Jy hoef ook nie uit te kyk vir karre nie, omdat daar twee gemaklike voetgangerspaaie aan elke kant is. Jy kan dus op jou gemak drentel.

Die Brooklyn-brug.

Die Brooklyn-brug.

9. Piekniek in Central Park

Koop vir jou ’n paar bagels en kase by een van New York se talle deli’s en gaan hou piekniek in Central Park. Die park is werklik ’n oase tussen die betonoerwoud. Maak seker jy besoek vir Strawberry Fields, ’n gedenkteken vir John Lennon en die Bethesda-spuitfontein wat gereeld in Hollywood-flieks en TV-reekse opduik.

Central Park is een van New York se beste gratis aantrekkings.

Central Park is een van New York se beste gratis aantrekkings.

10. Wees ’n kunskenner

As jy ’n New York City Pass gekoop het, het jy ook toegang tot drie van die wêreld se beste kunsmuseums. Die MoMA het gereeld opwindende uitstallings en retrospektiewe van wêreldbekende kunstenaars en van die grootste versamelings van moderne en post-modernse kuns. Al gaan kyk jy net na Vincent van Gogh se Sterrenag en Salvador Dali se Persistance of Memory is dit reeds ’n besoek werd. Jy kan ook ’n hele dag opsy sit vir die ‘Met’ oftewel die Metropolitan Museum of Art, wat een van die grootste antieke Egiptiese kunsversamelings in die wêreld huisves. Die Guggenheim, wat deur befaamde argitek Frank Lloyd Wright ontwerp is huisves ook belangrike moderne kunsskatte.

Van links: Die binnekant van die Guggenheim, die Met en die MoMa se uitsig oor New York.

Van links: Die binnekant van die Guggenheim, die Met en die MoMa se uitsig oor New York.

 Aanvullende bron: Reuters! Life


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Tien maniere om New York goedkoop te verken

  • Reply
    Tania Swanepoel

    Baie dankie! Enige raad vir ouers met jong kinders? 2 seuns 12 & 9? Gaan April 2016 na NY vir 3 dae
    Bly in Hotel Pennsylvania..blykbaar dis sentraal oorkant n groot treinstasie?…1ste oorsese ervaring met kinders en hulle 1ste keer oorsee so wil dit magical vir hulle maak..

    Tania

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Hi Tania
      Sjoe, wat ‘n wonderlike geskenk vir jou twee seuns. Ek glo reis is die beste geskenk wat jy vir ‘n kind kan gee. Ek sal die volgende ervarings voorstel:
      1. ‘n Besoek aan die Museum of Natural History, wat bekend gemaak is in “Night at the Museum.” Wys sommer vir hulle die fliek voor jul besoek om hul meer opgewonde te kry. Dis mos lekker as jy iets van die movies in die ‘regte lewe’ sien.
      2. Ek weet nie waarin jou seuns belang stel nie, maar ek glo ‘n besoek aan die Intrepid Air, Sea, and Space museum sal hul baie opgewonde maak.
      3. New York se kos is ongelooflik duur. Kyk maar waar is jul naaste supermark en koop ‘n paar snoephappies daar. Natuurlik moet julle egter ‘n bagle met roomkaas en ‘n hot dog eet, net om soos outentieke New Yorkers te voel.
      4. Koop ‘n City Pass. Dit gaan jou oor die lang duur meer geld spaar en gee jou toegang tot New York se opwindendste toeristeaanstrekkings. Julle moet egter probeer om alles in te pas, sodat die pas vir julle waarde vir geld gee. http://www.citypass.com/new-york?mv_source=topoftherock&campaign=home-footer-banner

      Hoop julle geniet dit!