Kan jy ’n romantiese wegbreek én ’n gesinsvakansie hê? Yolandi Groenewald meen dis moontlik ná ’n besoek aan Views in Wildernis.

By die Views-boetiekhotel se ontvangs is daar ’n teleskoop. Kort-kort is daar ’n gas wat aan die teleskoop vroetel en oor die see tuur. Dis ook geen wonder nie, want as daar al ooit ’n hotel was wat sy naam verdien, is dit die Views. Want hier kan jy heeldag net kyk en kyk en kyk.

Die hotel is geleë op 'n hoë duin by die Wilderness.

Die hotel is op ‘n hoë duin by die Wilderness geleë.

Die vyfster-hotel sit hoog bo-op ’n duin in die hartjie van die tuinroete by Wildernis. Wanneer jy vanaf die strand na die hotel kyk, is dit asof die hotel net een groot storm daarvan weg is om in die see te tuimel. Gaste raak gereeld benoud as die weer goor raak en die Kaapse rukwinde by hul glasvenster opsteek.

Want, ja, die vooraangesig van al die suites bestaan net uit glas. As jy in die oggend wakker word, is die eerste ding wat jy sien die see. See, branders en nogmaals see. En dolfyne wat in die water kerjakker. En terwyl jy dink of jy nou regtig moet opstaan, bring iemand ’n gratis cappuccino in die bed.

Vir wittebroodgangers is dit ideaal. Jy hoef nooit jou bed te verlaat nie, want vir daardie uitsig gaan jy nie sommer moeg raak nie. Die spesiale wittebroodsuite sal enige voornemende bruidegom vinnig ’n geldjie laat afknyp elke maand, want daar is nie ’n manier dat jou bruid nie dié plek gaan waardeer nie. Dit kan mense selfs inspireer om ‘n tweede keer te trou.

Ons het die boetiekhotel met twee woelige kleuters besoek. Boetiekhotelle en kinders is nie altyd maatjies nie, maar dié twee woelwaters was van die begin af verlief op die plek – die sjokoladelekkers by ontvangs het definitief ’n rol gespeel. Waar ander hotelle sou sug oor die sjokoladebekkies wat nog een of twee ektra lekkers bedel, het die Views selfs ’n vierde een aangebied.

Teen die tyd dat die seunskinders besef het hulle het hul eie suite met badkamer en televisie ingesluit, was die koeël deur die kerk en het die sesjarige beveel dat ons nog vir ses maande hier moet bly. Eintlik het hy gemeen ons moet sommer sak en pak hier intrek.

Al die tierlantyntjies van ’n vyfsterhotel is hier, insluitend ’n DVD-speler en dok vir jou iPod. En natuurlik is daar ’n propperse koningsgrootte-bed met die sagste wit linne om in weg te sink.photo4

 

Die dekor is die van 'n seeparadys.

Die dekor is die van ‘n seeparadys.

Die kamers se gevoel is dié van ’n seeparadys – blou, groen en turkoois komplementeer die neutrale kleure – met borrels wat orals ingewerk is in die beligting en ontwerp. Glasvensters is oral. Die kunswerke is spesiaal ontwerp vir die hotel se seetema. In die badkamer bestaan die vloer uit klein klippies, amper soos dié van ’n strand en die bad het ook ’n uitsig oor die see. Daar is atmosferiese beligting en ’n minikroeg wat die kinders soos motte na ’n kers getrek het. (Ons het maar gesluit en die sleutel ver weg gesteek.)

Ons suite het ’n private dek gehad, waar ons ook die laaste aand vir ons pizza na ons kamer bestel het. Die hele gesin het net daar ’n lekker piekniek op die dek gehou.

By The Views in Wilderness kan jy net kyk...en kyk...en kyk...

By The Views in Wilderness kan jy net kyk…en kyk…en kyk…

Die hotel spog verder met ’n kroegarea wat by enige dakkroeg ter wêreld kan kers vashou. Die swembad se water word verhit, wat die ergste byt wegvat, maar dit sal net die brawes wees wat wel die swembad in die winter benut.

Die strand word bereik deur ’n stel steil trappe aan te durf. Die hotel is immers op ’n indrukwekkende duin. Ons was gelukkig met die weer tydens ons besoek en daar het skaars ’n luggie op die strand getrek. Ons moes die seuns wegskeur van die strand, maar kon hulle omkoop met ’n bad in hulle suite. Want wie wil nou nie twee
keer op ’n dag in daardie suite bad nie. (Dit is ook nodig om van al die sand ontslae te raak wat in kleuterlyfies opgaar.)

Die seuns het hulself gate uit op die strand geniet.

Die seuns het hulself gate uit op die strand geniet.

Vyfster-hotelle se restaurante kan tog so opgesmuk wees en onvriendelik vir kinders. Die Views s’n het ’n oulike speelkamer vir kinders. Die hotel was vol kinders – wat nie altyd saamwerk met die wittebroodmense nie. Maar niemand was inmekaar se hare nie en die hele “gevoel” was een van ’n bederfvakansie.

Met woelige kleuters en al was dit amper ’n tweede wittebrood vir my en my man. die Views is ’n vyfster-vakansiehotel sonder opgesmuktheid, maar genoeg weelde om jou soos ’n koningin te laat voel.

Sou jy wil gaan: Kinders onder 12 bly gratis

Views het op die oomblik ’n lekker warm winteraanbod:

Van 1 Mei 2014 tot 31 Augustus 2014 kan jy slegs vir R950 p.p wat deel in een van hulle luukse suites bly, met twee etes ingesluit. Twee kinders onder die ouderdom van 12 wat ’n suite met hul ouers deel bly gratis. Die aanbod is geldig vir ’n minimum van twee nagte. Kliek hier vir meer inligting.

Ingesluit in die prys is ’n drankie as jy aankom, ontbyt en aandete daagliks in die Views-restaurant. Jy kan ook die gimnasium, sauna en hidro-terapie swembad in die spa gratis gebruik. Die hotel het onbeperkte WIFI en jy word wakker gemaak met ’n gratis dagblad, van jou keuse, wat bedien word saam met die drankie van jou keuse.

The Views is ’n lid van die Mantis Collection.

The Views het die koste van Yolandi Groenewald se besoek gedra.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *