Shanghai laat Johannesburg na ’n gehuggie lyk, skryf PG de Jonge

Shanghai sonder mense. Foto: PG de Jonge

Lugversorging by die Shanghai Pudong-lughawe is nie ter sprake soos jy die doeaneprosedure deurwerk nie.

Jy sleep maar jou gladgeswete lyf deur die lughawe na die hoëspoed Maglev-treine toe. Wanneer jy by jou trein uitkom tref die koue lug jou soos die Verlossing. In elke kompartement van die trein is daar ’n skermpie wat wys hoe vinnig die trein beweeg. Jy weet dit nog nie, maar dis ’n baie Chinese ding. Hulle hou van kennisgewings.

Die nommertjies begin opwaarts van nul af beweeg soos die trein uit die stasie versnel. Jy beweeg uit die skede van die lughawe en sien hoe die stad voor jou uitgestrek lȇ. Shanghai. Die stad laat Johannesburg na ’n gehuggie lyk. 30-verdieping woonstelblokke staan in enorme woonareas uitgelê. Eenvormig, op parade, eindeloos. China.

Dit neem ons ’n rukkie op ’n trein wat op ’n punt 304km/h tref om by die metrostasie uit te kom. In die kort stukkie tussen die Maglev-treine en die Metrostasie sweet jy jou weer nat.

Ná die hitte is die tweede ding wat jou tref die reuk.

Die klam klimaat en ongeërgde aanslag tot vullis gee Shanghai ’n komplekse geur van die oomblik wat jy uit die Metrostasie gestap kom.

Tussen hemel en aarde

Die geboue strek uit na die hemele toe. Foto: PG de Jonge

Dit is nie alles sleg nie, maar alles ruik anders. Ek besef eers daar hoe gewoond ek is aan die reuk van Westerse kos.

Soos jy loop tref jy stroke onherkenbare kosreuke wat jou mond laat water, afgewissel deur die reuk van riool of iets dergeliks.

Dis lewendig, dis vreemd, dis raserig en dis wonderlik. Die sypaadjies word soveel soos die strate gebruik deur e-bikes: elektriese skoeters wat geruisloos jou bekruip en dan toeter blaas om jou van hul teenwoordigheid te vergewis.

Wanneer jy nie vir skoeters koes nie kyk jy waar jy loop.

Chinese spoeg met groot genoegdoening.

Hulle kleinkinders dra ook broeke met so ’n spleet agter in sodat hulle net kan hurk as moeder natuur ’n noodkreet gee. Plek-plek moet ’n mens maar versigtig trap om die ergste te vermy.

Dit is waarlik ’n volksvreemde plek.

Maar, dit is hoekom ek daar was, só ek het die vreemdheid ingedrink soos ’n padda deur my sweetklam vel. Daar is soveel fasette aan Shanghai dat dit onmoontlik is om alles in een stelletjie paragrawe in te druk.

Die stad self is ’n indrukwekkend. Van die ou slums met hulle klei dakteëls tot die neon-bedekte Nanjing-weg. Daar is antieke tempels en tuine, maar ook hipermoderne areas wat lyk asof jy in ’n argitekstekening loop.

Die mense is vriendelik, maar meestal baie privaat. Die meisies is opgedollie en beeldskoon.

Parkies met oefenapparate vir die publiek is oral. Oumense dans of doen Tai Chi Chuan in groot groepe. Die sypaadjies word oorstroom deur voetgangers, want Shanghai dra sy lewe is op sy straatmou.

Elke aand daag daar mense op met kombuise wat hulle agterop hul fietse sleep en dan maak hulle kos op die sypaadjies. Oral waar jy loop kan jy “melk-tee”(ongelooflik lekker) of roomys koop.

Van klein pasteitjies en calamaristokkies tot volledige bakke kos is verkrygbaar as jy honderd meter verder loop. Die kos is vir ’n smulpaap soos ek die beste deel van Sjina.

Amper niks is herkenbaar nie (jou plaaslike Chinese takeaway is toe eintlik nie baie Chinees nie), maar alles is hiper-smaaklik en ewe goedkoop. Drie van ons het ’n ongelooflike aandete geëet vir sowat R45.

Shanghai se are bruis met lewe. Dit is ’n ander soort lewe as waaraan ek as Suid-Afrikaner gewoond is, maar desnieteenstaande die vreemdheid is my hoofindruk eerder hoe soortgelyk ons almal is. Dit maak die andersheid meer opwindend.

Dit laat jou toe om, as jy weer terug by jou huis kom, die ooreenkomste op te let en na die verskille te kyk asof jy dit vir die eerste keer sien.

En dít is hoekom ek reis.

'n Teken van 'n antieke Shanghai. Foto: PG de Jonge

‘n Teken van ‘n antieke Shanghai. Foto: PG de Jonge

 

Somer in Shanghai

In Shanghai is daar antieke tempels en tuine, maar ook hipermoderne areas wat lyk asof jy in ’n argitekstekening loop. Foto: PG de Jonge

 

 

 

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *