Hulle neem ’n oornag-bus om die koste van verblyf af te bring, of maak gebruik van ’n begroting-app om hul onkostes te sny. Volgens ’n onlangse Travelstart-steekproef is Suid-Afrikaners heel vindingryk wanneer dit by geld spaar en reis kom.

Travel_Money_Saving_PR

Suid-Afrikaners het dit moeilik wanneer hulle landuit reis. Die rand het die afgelope tyd ’n bloedneus by die dollar, Euro en pond gekry en visum-kostes het ook toegeneem met die swak wisselkoers.

Tog laat eienaars van die “Groen Mamba”-paspoort hul nie onder kry nie. Volgens ’n onlangse Travelstart-studie is Suid-Afrikaners besonder vindingryk, en span hulle graag tegnologie in om geld te spaar wanneer hulle die wêreld plat reis. Die aanlyn-reisagentskap het ’n steekproef onder 3000 besigheids -en verbruikersreisigers gedoen oor hul spaargewoontes.

Volgens die studie se respondente is baie reisigers bereid om luukste onkostes soos etes by restaurante (62%), uitgaan (42%), gemorskos (40%), en alkoholiese drankies te laat vaar om geld te bespaar. Nog 22% het laat weet hulle sal hul daaglikse koppie koffie opgee sodat hulle meer geld het om ’n land te verken.

Data en die internet kan ’n mens nogal uitroei wanneer jy oorsee reis, maar met gratis Wifi-kolle kan Suid-Afrikaners darem nog op sosiale media spog met hul avonture. Slegs 27% is bereid om sonder die internet te leef. 46% bel ook nie huis toe nie wanneer hulle oorsee reis.

Visums kan jou sak ruk en 34% van die respondente het laat weet hulle kies hul bestemming of hul ’n visum nodig het, al dan nie. Talle Suid-Afrikaners reis eerder na lande waar jy nie ’n visum nodig het nie.

So, waar kry jy al die winskopies? Volgens die respondente gebruik 62% aanlynreisagente om vlugte te bespreek en die goedkoopste vlugte op te spoor. Slegs 2% van die respondente het gebruik gemaak van gewone reisagente.

Reismier se Top 10-spaarwenke

Hou jy van sjampanje, maar het ’n papsak-begroting? Die Reismier se kenners gee praktiese raad vir reisigers op ’n begroting

1. Ek hou van luukse safari-lodges, maar dikwels vra hulle jou ’n maand se huur vir ’n aand se verblyf. Webwerwe soos bushbreaks.co.za laat jou toe om by die ghrênd plekke te bly, somtyds teen 60% afslag as jy op kort kennisgewing (gewoonlik 7 dae voor die tyd) bespreek. Dit bly steeds duur(erig) maar is darem bekostigbaar, sou jy ’n spesiale geleentheid soos ’n huweliksherdenking wou vier.

 2. Bring jou eie drank. Ja, ek weet dis ’n bietjie kommin, maar ek is eerder platvoers as platsak. Dis nie snaaks om R80 vir ’n blikkie Coke by ’n Mauritiaanse strandoord te betaal nie. Lees hier meer vir wenke om drank by hotelle in te smokkel.

3. Bespreek vroeg. Maatskappye van die Travel Company-portefeulje, wat Contiki, Insight en Trafalgar besit, gee tot 10% afslag op ’n vakansie as gaste dit lank voor die tyd bespreek. Hulle bied nog afslag vir groot groepe, lojale kliënte wat al voorheen saam met hul gereis het en groepe van drie wat ’n kamer reël. Dikwels kan dié afslag reisigers duisende rande bespaar.

4. Soek ’n Starbucks. Ek hou glad nie van hul koffie  nie, maar hulle gee vir hul klante gratis WiFi. Hulle sein is ook dikwels sterk genoeg en as jy naby genoeg aan een van die koffiewinkels talm, behoort jy gou jou e-posse te lees en jou Facebook-status te update.

5. Bly waar al die aksie is. Verblyf is wél duurder naby toeristeaantreklikhede en in die ou, historiese gedeelte van stede, maar op die ou einde werk dit jou goedkoper uit om daar te bly. Want ja, daardie backpackers aan die buitewyke van die stad is wel nou goedkoper, maar jy gaan die meeste van die tyd by die mooi gedeeltes wil kuier en tyd deurbring. Om ’n taxi te vang, veral in ’n Europese stad is peperduur en en die tyd wat jy op publieke vervoer bestee, kon jy soveel beter aangewend het om Dubrovnik se ou stad te verken of die Latynse Kwartier in Parys in te drink. Nou sit jy vas in die Metro, met ’n sweterige Duitser se kieliebak in jou gesig.

6. Hou kop – hoeveel geld spandeer jy régtig? Ek tel kontant uit vir my dag en dan hou ek by daardie begroting. Skryf neer wat jy spandeer net sodat jy nie tred verloor met wat jy uitgee nie.

 7. As jy in ’n ander land is, is bankkoste gewoonlik taai. Moenie onnodig baie (gereeld) geld trek, of jou kaart gebruik vir elke klein dingetjie nie.

 8. Eet local. Die plaaslike manier van doen is gewoonlik ook die mees bekostigbare opsie. Restaurant dik pryse gewoonlik goed aan. As jy lugtig is vir straatkos: kies altyd die besigste stalletjie en in die trope moet jy seker maak hoe laat die straatsmouse hul kos maak. In Indonesië is die kos omtrent 13:00 net klaar voorberei – as jy vinnig spring kan jy vir ’n bietjie meer as R10 ’n eksotiese bord “boerekos” opraap. Moenie vergeet van markte en die plaaslike supermark nie. Vermy winkels wat daar is om buitelanders te teiken.

 9. Verseker, verseker, verseker. As jy dringend uit die land moet uit, skielik siek word, vlugte verpas en bagagies wegraak, verloor jy baie geld as jy nie behoorlike reisversekering het nie.

10. Kibbel en onderhandel oor enigiets. As iemand dink jy is besig om hulle in te doen sal hulle eenvoudig weier om “ja” te sê vir die prys wat jy hul aanbied. Veral hier is dit belangrik om vooraf op te lees en rond te vra oor die land se kibbelkultuur. In Kanada is dinge heeltemaal anders as ’n land soos Indië, waar jy telkens die pryse met meer as 50% kan afstry.

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *