Drie Bosvelders ry tesame. So saam-saam het hulle met kronkelpaadjies berge en dale ontdek, slaggate trotseer en soos wafferse sjebien-queens saam met die plaaslike adel ’n bier of twee gedrink. Annami en Claudi Mailovich skryf oor hul Drakensbergse avontuur saam met die soutie, Tracy Cleet. 

Jameson en ons

Makietie op die stoep. Die sjebien se hoofindoena Jameson (regs) kuier land en sand saam met ons. Tracy (middel) en Annami sit saam met hom voor die Doubleman Tavern. | Foto: Claudi Mailovich

Die R74 tussen Harrismith en Bergville is ’n bliksem. Dit is sowat 26 km van slaggate. Slaggat op slaggat op slaggat. Soms is slagdam op slagdam op slagdam dalk meer akkuraat. En as jy vir ’n oomblik regs kyk – slaan die Sterkfonteindam die gedagte aan gehop en sommer jou asem ook weg.
Op hierdie pad word jou enigste begeerte vinnig gereduseer tot ’n enkele voertuig – ’n groot wit bakkie wat tjoef-tjaf kan kafdraf met dié helsem. Ons lot was egter ’n beteuterde wit Fiat Palio wat kantspieëltjies en al – padlangs of waterlangs – in dié damme verdwyn het.

Maar wie is bang? Mense betaal immers honderde (soms duisende) rande om te gaan skud op een van daai opstêrs maak-jou-maer-masjiene. En ons het gereken wat nie doodmaak nie, maak moontlik maer.

Die “gladde”-pad tussen die Amphitheatre Backpackers en Bergville, aan die anderkant van die gatslagpad, het alles wel die moeite werd gemaak. Die eerste tikkie beskawing na die rowwe pad is ’n doodgewone eenpomp-vulstasie.

Deurdrenk van die reën het ons by die klein kafeetjie neffens die Little Switzerland-oord ingestorm.
Vir ys, natuurlik. Die Gin en Tonic uit Johannesburg sou homself nie koud hou vir die nuwejaarsavonture by die Smoking Dragon-musiekfees nie.

Ons is drie plattelanders wat in Johannesburg bymekaar gekom het vir die langpad op soek na die nuwe jaar.

Ons het ons tasse, die tent en die twee koelerbokse een kyk gegee en die grootste tussen drie klein en ietwat patetiese karre volgepak om in Tolkien se berge te gaan dans.

Voordat ons Johannesburg verlaat, is die belangrikste pit stop Pick ’n Pay Clothing se skoenrak. Met swart wolke in die lug en aangeklamde ruite was gumboots die enigste oplossing vir ’n moontlike modderbad tussen die tent en die verhoog.

Met die inryslag by die Amphitheatre Backpackers, waar die fees gehou is, besef ons die bootse se waarde deeglik toe Tracy,  ’n regte soutie, benoud skree:

You need to drive faster. Ons gaan vassit!”

Honderde meters modder. Die Fiat kreun, die wiele spin. Hoe verder jy ry hoe rooier word die nat aarde om jou.

Bergtuiste

Die wit Fiat het in een stuk by die Amphitheatre Backpackers aangekom en soortvan-self opgeslaan gekry. | Foto: Claudi Mailovich

Al wat ons kon doen was om in sirkels rond te ploeg tot ons leë staanplek aantref en kon tent opslaan.

’n Fees is ’n snaakse ding. Dis lekker, want dis ’n fees. Nie oor die musiek altyd ewe goed is nie. In die dag sing almal wat ’n bietjie sukkel – in die aand kruip die volk uit hul doppe en dan is alles lekker. Tot die musiek klink dan weer “lekker”.

Saam met die musiekkwaliteit is die Drakensbergse sterrehemel snags nader en in die dag spring die son binne-in jou slaapsak. Uiteraard het ons sommer vinnig besef daar is nie eintlik wegkruipplek nie.
Ons moes so vinnig as moontlik weer die modder aandurf en daar uitkom.

Want, óf ons moes ys kry, óf ons moes in die koelte kom – twee versukkelde doringboompies was nie genoeg nie.

Met gumbootse, sonbrille en wit bene is ons, al langs die modderpad, weer die terrein uit.

Eers is ons reguit Cayote Café (die kafeetjie langs die Little Switzerland-oord) toe vir die beste koffie wat ons nóg in Suid-Afrika kon kry. Kos, regte espresso en ’n panorama wat ons onmiddellik geïnspireer het om die pad Bergville toe, net ‘n katspoegie ver weg, aan te pak. Vir ’n bietjie agtergrond: Ons al drie is Bosvelders. Ons ken van dorpies – én ken ’n goeie dorpie as ons dit sien.

Met ys, ’n spaza shop en ’n sjebien kan jy ’n lang pad stap, maar Bergville is nie só klein nie. ’n Spar, ’n PEP en ’n kerk of so en die dorpie is onmiddellik in ’n ander liga.

In Bergville kan jy jou verbeel jy’s in ’n ander land. Straatverkopers is oral bedrywig en jy trap versigtiger met die reuk van vrugtestukke wat saam met ander vullis op die sypaadjie beland het.

Mense doen hul dinge en allerhande voertuie ry fluks deur die dorpie – erg besig en duidelik op pad na êrens. Al wat ons kon doen was om te staar en foto’s te neem.

Karakters, vuilerige strate en stof. Alles in die voue van die heldergroen berglandskap. Was dit nie vir die son nie, het ons heeldag in die dorpie rondgedrentel.

Ons is die dorp uit met die gedagte dat die padkafeetjie nie te ver weg is van die koelerbokse nie. Eers toe ons voor die plekkie stop besef ons – dáár is niks. ’n Klompie manne het daar rondgestaan en ons sommer met ’n vingergeswaai na die Doubleman Tavern ’n bietjie verder af in die pad beduie (weer terug, rigting Bergville).

Dorpsekonomie

‘n Vrugteverkoper in Bergville | Foto: Claudi Mailovich

Om te ys, of om nie te ys nie?

Ons het skaars by dié sjebien ingetrek of die oë rek en die manne staan behulpsaam nader.
Sorry, no ice,” verduidelik die ou agter die tralie-toonbank.

Ons drie kyk mekaar net so ’n bietjie uit toe is ons dit eens: Bier op dié stowwerige stoep gaan daar gedrink word. Ons sit nie vyf minute en klets nie of ene Jameson maak met ’n reuse-glimlag sy verskyning en soos ’n galante heer in sy khaki-safaripak dra ta’ ’n tafel en ’n paar stoele aan.

Dié paartie het eers ’n uur later tot ’n einde gekom – met eish, ja. Sonder ’n enkele blokkie ys.

O, die R73

Ons ry so stop-stop-so. Oral waar ons die kans kry om foto’s te neem gryp ons die geleentheid heelhuids aan. | Foto: Claudi Mailovich

 

Musiek in die berge

Die Smoking Dragon-musiekfees in die verte soos wat ons ‘n staproete aanpak en al verder uitwyk. | Foto: Claudi Mailovich

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *