Shanghai is ’n stad binne ’n stad . . . en ook die stad waar jy China se “ontwaking” eerstehands kan ervaar, skryf P.G. de Jonge.

Shanghai se Bund in die aand.

Die Bund in die aand. Foto: P.G. de Jonge

’n Mens besef vining dat Shanghai te voet verken behoort te word. In ongeveer 6 300 vierkante kilometers huisves Shanghai amper 25 miljoen mense. Net ’n klein breukdeel van hulle besit karre (Heelwat minder as 1%), maar die verkeer in die vyfbaan-paaie is belaglik. Nee, Shanghai is ’n stad vir voetgangers en fietsryers.

Met rubber op die sypaadjie neem dit ook nie lank voordat jy besef dat Shanghai ’n stad binne ’n stad is nie. Die een staan met sy kop gehul in die alomteenwoordige somerdeinserigheid; modern en dosyne verdiepings hoog.

Die ánder stad leef onder die beskerming van antieke swart dakteëls en kabels wat in dig gekoekte kraaineste op elke kragpaal bymekaarkom.

Een van die netjieser kabel-koeke in Shanghai.

Een van die netjieser kabel-koeke in Shanghai. Foto: P.G. de Jonge

Dis die ou en die nuwe Shanghai

Hulle beweeg skouer aan skouer in ’n vreemde soort wapenstilstand.

As Johannesburger het ek my verwonder aan die armes en die rykes wat so naby aan mekaar kan leef. Om binne ’n straat van Houghton na Hillbrow te gaan was vir my besonders vreemd. Soos met die meeste ander dinge, oortref Shanghai toe enigiets wat ek in Suid-Afrika leer ken het. Tussen die afgekampte woonstelblokke en slums kry jy areas waar die gehuggies tot teenaan die rykmanswonings gebouw is.

China se Shanghai - die twee stede.

China se Shanghai – die twee stede. Foto: P.G. de Jonge

Dit is amper soos dronk haweloses wat teen ’n elegante baldanser leun vir ondersteuning. Nie dat die danser kla nie: die inwoners aan albei kante lyk ongeërgd oor hierdie stand van sake.

’n Mens kan dus ’n blok van jou mooi hotel af loop en in ’n mark opeindig waar hulle hoenders, eende, en vele soorte visse lewendig aanhou en sommer net daar slag. Kombuisafval word somtyds sommer buite die deur in ’n hopie gelos – ’n mens moet versigtig trap as jy verby wil kom. Dit is amper ’n “goedhartige” gestink en geraas in die nou straatjies tussen huise. Pure Shanghai.

Nie te ver van ’n stuk Ou-Shanghai af nie vind jy Nanjingweg. As mens in die weelde van hierdie voetgangerspad afloop, kom jy eindelik by die Huangpu-rivier wat loodreg jou pad versper.

Oorkant die rivier met sy vragskuite wat stadig stroom-af beweeg staan die wolkekrabbers van Pudong. Pudong is gevorm uit die Chinese regering se pragmatiese obsessie met vooruitgang.

Wat eers ’n rowersnes was is eenvoudig een dag platgevee om plek te maak vir van die kenmerkendste geboue in die wêreld. Hier loop vlekkelose strate in perfekte blokke tussen die voete van wolkekrabbers wat tot onlangs die hoogste geboue op die planeet was.

Shanghai se Pudong van Die Bund se kant af.

Shanghai se Pudong van Die Bund se kant af. Foto: P.G. de Jonge

Die bouwerk hou nie op nie

Shanghai was vir lank die vinnigste groeiende stad ter wêreld. Om die waarheid te sê, só vinnig dat Shanghai se burgemeester al in 1996 gespog het dat die stad sowat 18% van die wêreld se hyskrane gebruik.

’n Mens kan dit amper glo. Oral waar jy kyk rys die maer staalgeraamtes tussen die geboue uit soos uitgeteerde werkers wat nooit ophou beweeg nie. Alles is skerp en modern en basuin een boodskap aan toeskouers uit: die regering se beeld van die nuwe China.

As jy klaar na die bote en wolkekrabbers gekyk het, kan ’n mens omdraai en jou vergaap aan die ou Europese geboue wat agter jou pronk.

Hierdie uitgestrekte waterfront staan beken as die Bund. In die vroeë 1900’s het almal, van die Engelse, Amerikaners en tot die Japannese en die Nederlanders hier bankgeboue en diverse finansiële instansies gevestig. En, na ’n paar dekades as kommunistiese regeringsgeboue, is dit presies wat die Bund vandag nog huisves. Geskei deur die lui kronkels van die rivier staan die ou Weste en die nuwe Ooste deur die mistigheid vir mekaar en kyk.

Seker ’n kilometer verder, loop jy weer in nou straatjies in waar mense op fiets-sleepwaentjies kos maak en waar selfs honde die straatoppervlak nie sonder skoene trotseer nie.

Van al die stede wat ek al besoek het dra Shanghai die swaarste aan die tekens van China se ontwaking. Europa en Asië, oud en nuut, arm en ryk is oral ineengestrengel in ’n onsekere soort dans wat die stad sy eiesoortige karakter gee. Dit voel oorlaai, maar die stad dra dié las met ’n fiere trots.

En hier, baie soos in Johannesburg, my tuiste, kan ’n mens werklik sê: “It was the best of times, it was the worst of times. It was…”

Lees PG de Jonge se eerste bydrae oor Shanghai

 

Die twee stede. Oud en nuut. Die gebou in die agtergrond word die bottle-top genoem, omdat dit soos ’n bierbotteloopmaker lyk. Die gebou net voor die bottle-top is die Shanghai-toring, wat die tweede hoogste gebou ter wêreld gaan wees as hy klaar gebou is.

Die twee stede. Oud en nuut. Die gebou in die agtergrond word die Bottle-top genoem, omdat dit soos ’n bierbotteloopmaker lyk. Die gebou net voor die Bottle-top is die Shanghai-toring, wat die tweede hoogste gebou ter wêreld gaan wees as hy klaar gebou is. Foto: P.G. de Jonge

 

'n Ou gebou in Die Bund met ’n meer moderne een in die agtergrond.

Kontras – ‘n Ou gebou in Die Bund met ’n meer moderne een in die agtergrond. Foto: P.G. de Jonge

 

 

’n Straat in die ouer deel van Shanghai.

’n Straat in die ouer gedeelte van Shanghai. Foto: P.G. de Jonge

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *