Mense vra Annami Mailovich gereeld: Hoekom reis jy alleen? Wíl mense nie saam met jou reis nie? Sy antwoord dié vrae en gee wenke aan vroue wat die aardbol alleen wil verken.

Vra vrouens om jou te help as jy in die verknorsing is

‘n Plaaslike vrou pas bokke op een van die staproetes in die Annapurna-gebergtes. Die berge vorm deel van die Himalajas in Nepal. | Foto: Annami Mailovich

Ek kon dit nog nooit oor my hart kry om te sukkel met mense wat dalk eendag (as ek ver anderkant 60 is) genoeg geld gespaar het om saam met my die vlaktes in te vaar nie – dis as die lewe my hou. Daarom reis ek graag vrou-siel-alleen. My laaste “groot” reis was toe ek my rugsak gepak het en Indië en Nepal vir 30 dae aangepak het.

Ek’t reg aan die begin van dié trippie op ’n 17 uur lange treinrit beland tussen vyf grootoog-Indiërs waarvan net een ’n paar woorde in die Rooitaal kon pleeg. Omdat ek nie lekker seker was om te sê nie het ek my paspoort aangegee en beduie wat my naam is en waar ek vandaan kom.

Hulle het die tjaps in dié boekie bekyk en ondermekaar bespreek. Eindelik breek die droogte: “Ethiopia, Kenya, Mozambique, India . . .Why you always travel poor countries?” vra die vrou wat ’n bietjie Engels kon praat.

Die vraag het nie eers veel dinkwerk geverg nie. “Money, I don’t have enough money for anything else, ” sê-beduie ek. Ek is te arm vir eerstewêreld-lande.

Treinmaats

Die gehalte van dié foto is bedenklik, maar dit is die kompartement Annami se paspoort die ys gebreek het. | Foto: Annami Mailovich

Hierdie vyf goeie-geeste het my opgepas. ’n Hoogswanger vroutjie wat ten minste drie jaar jonger as ek was, het teen slaaptyd aan my beduie: As ’n mansmens my kom pla moet ek hom sommer klap. Netso. Ba.

Ek het myself sorgvuldig om my bagasie gekrul en bo-op alles wat van waarde is aan die slaap gewieg met die geskommel van die trein.

Mense vra my gereeld: Hoekom gaan jy alleen? Hoekom nooi jy nie mense saam nie? Is jy nie bang nie? Is jy simpel?

Die antwoord: Dalk is ek simpel? Wie weet. Maar, ek sit en tel die dae tot wanneer ek weer die langpad kan aandurf. Met of sonder iemand om my hand vas te hou.

 

Hier is ’n paar algemene vrae oor alleen reis as vrou en my antwoorde daarop:

 

Moet ek patriagale lande vermy as ek vir die eerste keer alleen reis? 

Verbeel jou jy ontmoet ’n nuwe kêrel se familie – “ken die vyand.” Maak seker jy weet genoeg van die land se kultuur, sy gebruike en jouself (en hoe jy in hierdie situasie behoort te reageer). Solank as wat jy dié gebruike verstaan en respekteer is daar geen rede om op dié eiesoortige avontuur uit te mis nie.

Hoe moet ek myself op hierdie reis voorberei?

Lees genoeg om gemaklik te voel met jou bestemming. Moenie jou neus optrek vir Wikipedia nie. Dit gee jou gewoonlik ’n goeie algemene idee van ’n land. Bekyk die Wêreldgesondheidsorganisie se webblad om seker te maak wat die land se vereistes is sodat jy die land in kan gaan. Maak ook seker jy neem dié kwessies met jou plaaslike reis-kliniek se dokter op. Jy kan nooit genoeg lees nie – dit kry ’n mens gewoonlik goed opgewonde oor jou bestemming. Google reisforums, YouTube-video’s en Facebook-groepe oor die betrokke bestemming. Daar is nie ’n meer ontvanklike gemeenskap as die aanlyn-reisiger nie.

Wat staan tussen my en my vliegkaartjie – sal ek veilig wees?

Dis goed om te weet of daar ’n reisverbod op ‘n spesifieke land of streek is en wat die politieke toestand van jou beplande bestemming is. Maar dit is hoegenaamd nie faktore wat jou as vrou se reis anders as ’n man s’n gaan maak nie. My reël: Pak ’n goeie dosis common sense in en wees bewus van wat om jou aangaan. Ek probeer altyd om nie te veel waardevolle besittings saam te dra nie. Los dit by die huis en jou tas is klaar ligter. Die sleutel hier is navorsing, navorsing, navorsing. Moenie net aanvaar dat alles goed en wel is as een of ander webwerf sê dat iets veilig is nie. Indien daar vraagtekens oor iets of ’n plek hang móét jy veelvuldige bronne raadpleeg. Maak gebruik van reisforums, amptelike webwerwe en praat met mense. Lonely Planet se Thorntree Forum is ‘n goeie plek om te begin. Kyk ook na die datums van die inligting. ‘n Land se situasie kan oornag verander.

Hoe gemaak met kommunikasie?

Reël vooraf dat jy sal in-check met iemand om ’n “spoor” te laat – so is iemand darem bewus van jou kom en jou gaan. Maar moenie dat jou kontak met die mense by die huis te veel van jou tyd opslurp nie. Jy is op reis om ander mense te ontmoet, nuwe kulture te beleef en baie beslis nie om verstrengel te word deur kantoor-politiek of jou ouma en Ta’ Stienie se souskluitjie-debat nie.

Hoe maak jy vriende?

Deesdae is die wêreld so klein dat iemand wat jy ken amper altyd iemand ken wat iemand ken, waarheen jy ookal mag gaan. Tree dalk sommer vooraf op Facebook of per e-pos met dié kennisse in verbinding. As jy daar kom, moenie in die hoekie gaan sit nie. Luister gesprekke blatant af, kry ’n aanknopingspunt en begin kêkkel. Jy sal sommer gou nuwe vriende maak. Onthou: alle reisigers is in dieselfde bootjie as jy. En locals is gewoonlik baie opgewonde dat jy soveel moeite gedoen het om hulle blyplek uit te check. Mense hou gewoonlik van mense en die meeste mense hou nie van alleen-wees nie.

Ken jy van selfies(!)?

Ja, neem foto’s van jouself. Daar is niks wat jou soveel vermaak nie en só ontdek jy die omgewing agter/voor die lens. As jy joviaal genoeg tekere gaan, behoort jy ’n hele paar gesprekke sterker te staan en as daar baie mense om jou is sal daar beslis genoeg mense regstaan wat aanbied om jou persoonlike fotograaf te wees.

Hoe keer jy dat iemand jou indoen?

Jy aanvaar dat jy ingedoen gaan word. Daar sal altyd opportuniste wees – net soos jou plaaslike vensterwasser by ’n verkeerslig. Almal probeer maar net oorleef. Sodra iemand jou die eerste keer ’n rat voor die oë gedraai het, sal jy presies weet hoe om nie ’n soortgelyke situasie die volgende keer nié aan te pak nie. Probeer die skade beperk deur wakker en paraat gerat met ’n stewige sin vir humor jou reis aan te pak. As jy lag, lag die wêreld saam met jou en ’n fortuinsoeker of twee dra dalk nog net by tot jou storie. Pak jou waagmoed en jou reisversekering in en los jou sentimentele katoeters sover as moontlik by die huis.

Hoe veilig of betroubaar is die openbare vervoer in die plek wat ek gaan besoek?

In jou voorbereiding kan jy solank rondvra op aanlyn-forums en as jy reeds daar is, vra eenvoudig rond. Hoe meer mense van ’n spesifieke vervoermiddel afhanklik is, hoe groter is die kans dat jy dit sal oorleef.

Hoeveel moet ek inpak?

So min as moontlik, jy moet daai ding (lees: jou tas) self ronddra. Selfverwyt gaan nie jou probleem oplos nie. Ek probeer gewoonlik ook ’n deel van my tas leeg hou – sodoende kan ek goed koop. Onthou: Dit maak nie saak waarheen jy gaan nie, die kans is goed dat daar mense is, en waar daar mense is, is daar lewe. Hierdie mense lewe, daarom sal jy, reeds as ‘n bevooregte reisiger met die minimum kan oorleef.

Is jy ooit alleen?

Nee, daar is altyd ander reisigers en locals wat jou uit die pekel sal kry. As jy onseker is van jouself bepaal jou die eerste ruk by die hoofstroom-“toeriste-neste”. 1. Dit is goedkoper waar daar meer wedywering om jou as toeris is; 2. Alles word makliker gemaak, want jy hoef nie vreeslik hard te soek na dit wat jy as reisiger mag nodig hê nie.

Veiligheidswenke:

  • Maak seker ten minste drie van jou naasbestaandes het elektroniese kopieë van jou amptelike dokumente, soos jou paspoort, ID-dokument, vliegkaartjies, geelkoorssertifikaat. Wanneer jy in die verknorsing is kan hulle dit maklik aan jou e-pos. Bêre dit sommer ook in die kuberruim op ’n webwerf soos Dropbox.
  • Oorweeg om geld in verskeie vorme saam te vat – reisigerstjeks, dollars, ’n debiet- en ’n kredietkaart – afhangende van waarheen jy reis en die beskikbaarheid van kontant en kitsbankgeriewe. Maak ook seker dat jou bank weet waar jy geld gaan wil trek of spandeer – dit kan lei tot groot ongerief as jou bank jou kaarte blok omdat hulle jou as ’n sekuriteitsrisiko beskou.
  • Vertrou jou gut as ’n situasie of iemand jou ongemaklik laat voel. Doen iets anders.
  • Probeer om nie soos ’n groentjie te lyk nie – ’n Man in ’n “toeriste-nes” in Nieu-Delhi het my een keer aangeraai om my bagasie van enige lughawe-plakkers of bagasiekaartjies te stroop. Volgens hom sou die al die vlytige “entrepreneurs” hulle aandag dan minder op my toespits. Laat dit lyk of jy elke dag met jou tas op jou rug in hulle strate rondloop.
  • Vra plaaslike vroue om jou te help as jy hulp nodig het – sodoende sal hulle nie dink dat jy ’n flerrie wat net daar is om hul mans af te rokkel nie. Sy/hulle sal ook die geleentheid kry om ’n mede-Eva uit die verknorsing te help.
Treinry in Indië

Treine is die goedkoopste en veiligste manier om alleen in Indië te reis. | Foto: Annami Mailovich

 


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Sal jy vrou-alleen reis?

  • Reply
    Nadia Swart

    Baie insiggewend en hoognodig vir iemand wat nog nooit solo die wêreld aangepak het nie. Ek stuur dit sommer nou aan vir my reisigersvriendinne.

    Hierdie laat my baie dink aan ‘n stuk van Julie Riso, ‘n blogger wat die wêreld meestal op haar eie vol gereis het. (Haar blog is absoluut die moeite werd om te volg. Beautiful.) Hierdie post oor Chuuk in Mikronesië is ‘n moet-lees, en raak aan die punte van solo-reis as ‘n vrou: http://julieriso.wordpress.com/2014/02/01/truk-lagoon-graveyard-in-paradise/.