As jy vir mense vertel dat jy al in Bangkok of Amsterdam was, kry hulle ’n stoute trek om hul mondhoeke. Het jy… jy weet? Die vrae is gewoonlik dieselfde, skryf Carla Lewis-Balden.

Het jy na ’n “ping-pong show” of ’n “live sex show” gaan kyk? Want as ’n mens in Rome is, gedra jy jouself immers soos die Romeine. (En ons almal weet wat het by Bacchus se feeste aangegaan.)

Behalwe, in Amsterdam is dit nie die Amsterdammers of Hollanders wat die deur die Rooiligdistrik drentel nie. Dis gap-jaar jongmense, grillerige Russe en nuuskieriges soos ek. Vir iemand met ’n Calvinistiese babelas is dit mos ’n vreemdheid hoe seks so in die openbaar opgedis kan word. As ’n toeris geniet jy ’n sekere immuniteit teen die smet, jy’t immers “net kom kyk.” Dis nie asof jy nou van die verbode vrugte gaan proe nie.

BanglaRoad1

‘n Neon-teken van ‘n ontkleeklub in Bangla Road, Phuket.

Die waarheid is elke keer wanneer ek by ’n rooiligdistrik kom, “om net te kyk” los dit ’n wrang smaak in my mond. Die meeste mense wat ek ken wat al Thailand besoek het, het ’n ping-pong vertoning onder oë gehad, my ouers inkluis. “Dis deel van die ervaring. Jy moet dit eenkeer doen. Dis iets wat jy eenkeer in jou lewe moet sien.”

Ek was nog nooit by ’n ping-pong vertoning nie en te oordeel aan my vriende en familie se stories, is dit nie iets wat ek sommer net na sal wil kyk, net vir die ervaring nie. Ek is allermins die preutste mens op aarde, maar ek wil nie eers weet wat dit aan my psige sal doen om te sien hoe ’n vrou vreemde objekte uit haar privaatdele trek nie. Die “ping-pong”-verwysing is maar net ’n sambreelterm, na aanleiding van wat ek by verskillende bronne gehoor het kan dit enige iets van ’n skeermeslemmetjie tot palings of ‘n kanarie wees wat sy verskyning maak. In Bangla Road en Patpong loop smouse in die strate rond met spyskaarte waar jy kan kies en keur, enigiets van ‘n “pussy eel show” tot ‘n “pussy razorblad show.”

'n Spotprent met die sogenaamde Hottentots Venus, Sara Baartman.

‘n Spotprent met die sogenaamde Hottentots Venus, Saartjie Baartman.

Die groot probleem wat ek met ping-pong en ander seksvertonings het, is dieselfde probleem as wat ek het met die mense wat destyds na Saartjie Baartman vergrote bates en labia gestaar het. Sy was ’n fratsvertoning, ’n side show freak wie se oordrewe seksuele kenmerke en eksotiese oorsprong Europeërs kon prikkel of laat gril.

En vir my is dit presies dieselfde met die sogenaamde ping-pong-vertoning. ’n Fassinasie met ’n oorgrote labia word nou net vervang met met ’n fassinasie met ’n klein Thai-vroutjie, wat ons ook onder ‘eksoties’ groepeer. Ons staan groot-oog reg om te sien hoeveel snaakse objekte sy by haar privaatdele kan indruk, en dan weer uitskiet. Om etenstafels put ons groot genot om dit in die fynste detail aan ons vriende oor te dra.

Natuurlik moet ons ook ons waardigheid beskerm, so daar word ook beklemtoon hoe ‘af’ die hele vertoning is. Laastens regverdig ons dit deur ons skouers op te trek en te sê: “Jy moet dit gaan kyk, net vir die ervaring. When in Rome…Dis glad nie sexy nie, die girl was nie eers mooi nie.” Asof ‘n tekort aan seksuele prikkeling ons kwytskeld.

Dis die moderne weergawe van Baartman se fratsvertoning, behalwe die mans in manelle en pluiskuile is nounet vervang met toeriste in Singha-bier frokkies.

Met ’n onlangse uitstappie na Amsterdam se rooiligdistrik het ek weer dieselfde wrang smaak in my mond gekry. Die keer was ek deel van die ‘fratsvertoning’ se gehoor. “Ons is op pad na Amsterdam se rooiligdistrik”, het ek vir my man ge-WhatsApp. “Gaan bietjie ‘window shopping’ doen,” ’n verwysing na die sekswerkers wat in venstertjies sit en hul ware ten toon stel.

Die opmerking is lighartig gemaak, maar toe ek die vroue in die vensters sien, het dit my net depressief gemaak. Hulle het dieselfde uitdrukking gehad as die verveelde staatsamptenare wat Solitaire speel, wanneer hulle eerder moet werk. Ry op ry het hul gesit verlig deur neonligte, wit, swart, Asiaties, Indies, besig op hul selfone, wagtend vir ’n kliënt om van hul dienste gebruik te maak.

’n Vriend het vir my gesê ek is besig om teen hulle vryheid van keuse te diskrimineer. Want as jy ’n sekswerker wil wees, blyk Amsterdam maar die beste plek te wees om die oudste beroep in die wêreld te beoefen. Hier betaal sekswerkers belasting en word deur die wet beskerm. “Die vrou wat daar in die venster sit beoefen haar vrye keuse om dit te doen. Sy kan in ’n restaurant gaan werk of die till gaan slaan. Sy kies die beroep omdat dit vir haar meer winsgewend is,” herrinner hy my.

Soos ek na die ry vroue in die venster gekyk het, was dit moeilik om te glo dat dit ’n vrye keuse bly. My ander vriend het my beskuldig dat ek my Westerse moraliteit, wat saam met my posisie as ‘n bevooregte middelklas vrou kom op ander kulture probeer afdwing. Vroue gebruik seks nog vir jare as ’n wapen, as ’n manier om te oorleef. As hulle ’n paar ekstra baht of Euro’s uit ’n paar nuuskierige toeriste kan maak, is dit nie hul volste reg om so te doen nie?
Mariska Majoor, ’n voormalige sekswerker wat nou die prostitusie-inligtingsentrum in Amsterdam se rooiligdistrik bedryf, sê sy neem aanstoot as mense haar en haar kollegas as slagoffers sien. “Hulle projekteer al hierdie slegte idees op ons, in hulle oë is ons slagoffers. Hulle kan nie glo dat ons dit uit vrye wildoen nie.”Sy gee egter toe dat alhoewel die seksbedryf in Nederland wettig is en streng gereguleer word. daar steeds vroue is “wat deur hul poepholkêrels uitgebuit word” en vroue wat daar beland as gevolg van mensehandel. Dit bly ’n bedryf waar vroue te maklik uitgebuit word en kwesbaar is.

Vir my kom dit net neer op wat my gemaklik of ongemaklik laat voel. Dis nie asof ek my moraliteit op ’n sekswerker probeer afdwing nie, ek glo vas ’n vrou het die volle reg om met haar liggaam te doen wat sy wil. Dis die sogenaamde kykers, die mense wat hul “gaze” wat op dié vroue geprojekteer wat my ongemaklik laat voel en selfs laat gril. In Bangla Road was dit die ou omies wat opgelyn sit in die GoGo bars, besig om te perv op jong meisies wat skaars 18 jaar oud lyk.

'n Thai-vrou in Bangla Road, Phuket se partytjiegedeelte. Jy kom hiernatoe as jy 'n ping-pong-vertoning wil sien.

‘n Thai-vrou in Bangla Road, Phuket se partytjiegedeelte. Jy kom hiernatoe as jy ‘n ping-pong-vertoning wil sien.

Dis die opgewonde stemtoon van mansvriende wat die sogenaamde Kyabakura-klubs in Japan besoek het, waar saketransaksies gereeld beklink word. Die manier oor hoe gasvroue in dié klubs onderdanig is aan die manlike kliënte word met ’n amper jaloerse fassinasie, eerder as walging beskryf. Dis ek wat heel opgewonde “gaan window shopping” doen in Amsterdam se Rooiligdistrik, om na die die vreemde verskynsel van vroue in vensters te gaan kyk. Ek word deel van die “gaze” wat die vroue objektifiseer of selfs viktimiseer. En so word ek deel van smet. Dit laat my nie sexy voel nie. Dit prikkel nie my seksuele aptyt nie. Om die waarheid te sê, dit laat my so ietwat hartseer oor die mensdom.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *