Annali Goosen skryf: Het julle enige raad? Ek en my man wil einde Junie Zanzibar besoek. My begroting is R22 000 vir ons albei. Ons wil ook ’n dag in Stonetown deurbring.

’n Begroting van R11 000 na Zanzibar trek die gordel maar styf, maar dit kan gedoen word, mits jy slim werk. Jy gaan beslis nie in vyfster-oorde kan bly nie, maar daar is wel ’n paar juwele wat jou ook nie ’n arm en ’n been gaan kos nie. Vir 11 000 sal ek voorstel dat ’n mens moet kyk na ’n begroting van sowat R1000 ’n dag per persoon, wat jou verblyf en ontbyt insluit.

Zanzibar se ongerepte strande bied uitstekende waarde vir geld.

Zanzibar se ongerepte strande bied uitstekende waarde vir geld.

Vlugte

Fastjet, ’n laekoste lugdiens het tans ’n spesiale aanbod waar jy teen 30% afslag kan vlieg. Ek het ’n soektog gedoen en as julle 20 Junie vlieg vanaf OR Tambo en 27 Junie terugkeer, gaan jul vlugte julle sowat R5200 uitwerk vir twee kaartjies. Ek het laas met Fastjet Dar Es Salaam toe gevlieg en toe ’n kleiner vliegtuigie Zanzibar toe geneem, maar van vanjaar vlieg hulle direk van OR Tambo in Johannesburg.
Onthou, die aanbod is net geldig as jy voor 30 Mei bespreek, en hoe langer jy wag, hoe duurder word die vlugte. (Jou ander keuse is Mango, maar hulle is aansienlik duurder.)

Stonetown

Stonetown is ’n moet vir enige iemand wat Zanzibar besoek, ek sal voorstel dat jy twee aande hier deurbring, veral omdat jul vlug 20:00 land. Ek het laas in die Zanzibar Serena Hotel gebly, dis ’n pragtige hotel in Stone Town met die beste ligging, maar dis ook een van die deftigste hotelle in die dorp. Dis miskien die moeite werd om die eerste aand in ’n goedkoper hotel te bly en die tweede aand in die Serena, net vir daardie ekstra bederf. Die Serena is reg op die strand en net ’n paar minute se loop van Stone Town se toeristeaantreklikhede.

'n Vrou roei haar hout-mokoro voor een van Stone Town se strande. Foto: MARZAHN BOTHA

‘n Vrou roei haar hout-mokoro voor een van Stone Town se strande. Foto: MARZAHN BOTHA

Die eerste aand gaan julle in elk geval net ’n plek soek wat skoon is, en suite en verkieslik ook lugreëling het.
Ek het vriende wat in Hiliki House gebly het, wat ook ’n goeie ligging het, alhoewel dit nie uitkyk oor die see nie. ’n Kamer in Hiliki house kos $110 (sowat R1700 per aand) op ’n bed en ontbyt basis.

Stonetown het ’n groot verskeidenheid van restaurante en kroëe, vir sakpas straatkos gaan maak ’n draai by die Forodhani Gardens kosmark. Ek was egter nie so seker oor die varsheid van die seekos nie en my tuna kebab het maar saai geproe. Die suikerrietsap word egter hier vars gepers, koop vir jou een en loop deur de mark, dis in elkgeval ’n belewenis om vir al die smouse te kyk.

’n Ervaring wat ek aanraai, alhoewel dit miskien ’n bietjie duur gaan wees, is om ’n skemerkelkie te gaan drink by Emerson’s House se dakkroeg. Wanneer die son sak en die muezzins die mense roep om te kom bid, is daar nie ’n beter plek om te wees in die hele Stone Town nie.

'n Skemerdrankie by Emerson's House in Stone Town is 'n moet. Foto: MARZAHN BOTHA

‘n Skemerdrankie by Emerson’s House in Stone Town is ‘n moet. Foto: MARZAHN BOTHA

Die strand

As jy vir ’n paar dae net wil lui wees en by die strand rondlê, sal ek Langi Langi Beach Bungaloes by die Ras Nungwi-strand, aan die Noorde van die eiland aanbeveel. Baie van Zanzibar se strande is gebonde aan die gety en wanneer dit laagwater is, kan jy nie swem nie. By Ras Nungwi is dit egter nie ’n probleem nie. Dit is volgens my Zanzibar se mooiste strand, maar ook een van sy besigste (alhoewel dit, in vergelyking met Phuket en Mauritius, nog as ongerep kwalifiseer.)

Die Langi Langi Beach Bungaloes by Ras Nungwi.

Die Langi Langi Beach Bungaloes by Ras Nungwi.

Die ‘beach boys’ kan somtyds ’n bietjie pla, maar ek het saam met ’n vriendin gereis en ek dink hulle het ’n kans probeer neem met twee enkellopende vroue. Hulle behoort jou uit te los wanneer as jy saam met jou man reis.
Volgens booking.com sal 5 aande hier jou sowat R9 300 kos vir die twee van julle, met ontbyt ingesluit. As julle direk by die hotel bespreek, kan julle miskien ’n beter tarief kry, so ‘shop’ maar so bietjie rond.

Vervoer

Ons vervoer op die eiland is gedoen deur Zanzibar Airport Transfers, wat betroubare vervoer tussen die hotelle vir ons gebied het. Hulle was op tyd en die lugverkoelde bussies het lafenis gebied in die warm Zanzibari-hitte. Stone Town is kompak genoeg om te loop en jy het nie ’n taxi hier nodig nie, maar as jy na strande toe gaan of na ’n nuwe hotel, is dit beter om vervoer te reël.
Publieke vervoer op Zanzibar bestaan nie, en jy moet jouself maar regmaak om sowat $100 (sowat R1500) vir taxis en vervoer te betaal. ’n Taxi na Stone Town van die lughawe kos sowat $10, en ’n taxi van Stone Town na Ras Nungwi kyk jy na sowat $45. Kibbel waar jy kan, as jy as jou vervoer deur een maatskappy bespreek, sal hulle jou miskien afslag gee.
Vind hulle by http://www.zanzibarairporttransfers.co.tz of bel +255 777 043720.

'n Dhow dobber in die water by die Ras Nungwi-strand.

‘n Dhow dobber in die water by die Ras Nungwi-strand.

Belangrike inligting

Zanzibar val binne ’n area wat ’n hoë risiko vir malaria het. Praat met jou dokter oor malariamedisyne en vat insekweermiddel saam. Ek het Malarone geneem, wat min newe-effekte het.

Die mense van Zanzibar is vreeslik fotogenies, maar baie hou nie daarvan as jy hul foto neem nie. Vra voor jy ’n foto neem. Ons het gevind dat ’n groot glimlag, gevolg deur “Huenda i kuchukua picha”, (‘Mag ek jou foto neem’ in Swahili) gewoonlik mense vriendeliker gemaak het. Alhoewel meeste mense Engels kan praat, is hul baie vriendeliker as jy eers ’n paar woorde in Swahili waag.

Waar moontlik, verruil jou rande vir Tanzaniese shillings, eerder as Amerikaanse dollars. Jy gaan baie slegter daarvan afkom as jy in dollars probeer betaal. Meeste plekke aanvaar wel dollars, maar die wisselkoers wat hul jou bied is maar power.

Pak jou eie drank. Zanzibar is ’n Islam-eiland en die drank hier is peperduur. ’n Bottel wyn kan jou enige iets tussen R300 en R500 uit die sak jaag. Ons het gevind, twee bottels wyn tussen die twee van ons, en twee bottels gin het ons baie geld gespaar. ’n Bier kos sowat R30-R50, maar dis goedkoper as jy dit in die dorpies koop.

Jy kan ook snoephappies inpak, soos pakkies tjips, neute en energiestafies om die ergste honger hok te slaan. Dit sal jou ook baie geld spaar.

'n Dhow by die Ras Nungwi-strand in Zanzibar.

‘n Dhow by die Ras Nungwi-strand in Zanzibar.

Voorgestelde datums:

Vlieg uit na Zanzibar: 20 Junie
Vlieg terug na Johannesburg: 27 Junie
Slaap in Stonetown: 20-22 Junie
Slaap in Ras Nungwi: 22-27 Junie

Die eindtotaal:
Vlugte: R5200
Verblyf in Stonetown by Hiliki House vir twee nagte, ontbyt ingesluit: R3400
Verblyf in Ras Nungwi by Langi-Langi Beach Bungaloes vir 5 nagte, ontbyt ingesluit: R9300
Vervoer: R1500
Totaal: 19400.

Dit los jou met sowat R2400, wat ’n gedeelte van jou kos en drankies sal dek. Begroot sowat R250 per persoon per dag ekstra vir kos en drankies.

Wat van ’n pakkettoer?

Die pakket van Mango Holidays bied uitstekende waarde vir geld, alles is ingesluit vir onder R10 000.

http://www.flymangotravel.com/Packages/Package-Show.aspx?GUID=522d975c-6b14-4100-ae5f-ad1885b298c5

As jy van plan is om net te ontspan by die strand, mengeldrankies te drink en vakansie te hou, sal ek die pakket aanbeveel. Jy bespaar ook baie geld met die vervoer van en na die hotel wat ingesluit is.
Wat egter teen die pakket tel is die strand (Jambiani, waar die hotel gelee is, kan jy nie swem tydens laagwater nie.). Dit sluit ook nie ’n aand of twee by Stonetown in nie, wat volgens my ’n moet is wanneer jy Zanzibar besoek.


Leave a Reply to Sandy Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

5 thoughts on “Reisplan: Zanzibar vir onder R10.000 per persoon

  • Reply
    Lonè

    Baie goeie advies, ek was al self twee keer in Zanzibar en as jy al jou uitgawes mooi beplan kan jy sommer goedkoop wegkom. Additionele advies wat mens dalk in ag moet neem is visa’s ($50 per persoon) en reis versekering. Ek stem ook saam met die feit dat mens jou geld eerder moet omskakel na Tanzania shilling, maar shop bietjie rond want mens kan partykeer n beter exchange rate in Stone Town self kry. Geniet Zanzibar, dis so n mooi plek!!

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Hi Lone!
      Dankie vir raad. Die goeie nuus is dat Suid-Afrikaners nie meer visums nodig het, wanneer hulle die eiland besoek nie, so daar is meer geld vir daai Kili-biere en ‘n seekoskerrie! Reisversekering is altyd ‘n goeie idee, veral as jy kyk hoe sommige mense daar bestuur.

      • Reply
        Lonè

        Wow, goed om te weet oor die visims, dit spaar soveel geld, ek was 2012 laas daar, dit verduidelik dalk die agterstand ;) Ek stem, mens kan nie verkeerd gaan met n lekker bier en seekos nie…

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Sjoe Sandy, jy kan lekker vakansie hou in Zanzibar vir R30 000. Ek sal min of meer dieselfde reisplan voorstel, en dat julle steeds jul kaartjies deur Fast Jet bespreek. Bring die eerste twee dae deur in Stonetown, maar bespreek by die Serena Zanzibar Hotel en bederf julself met ‘n kamer wat uitkyk op die see. Ek sal ook die doubletree in Stonetown aanbeveel, alhoewel hy nie reg op die see is, soos die Serena nie. Vir die strand is daar ook ‘n Hilton Double tree by Ras Nungwi, volgens booking.com kan jy daar bly vir 5 nagte, teen ongeveer R13 100.