Dis darem nog nie die middel van die maand nie, so tegnies word ons nog toegelaat om ’n ’n paar reisvoornemens vir die nuwe jaar te maak. Carla Lewis-Balden deel hare vir 2015.

1. Ek gaan ophou om ’n obsessie te hê met nuwe paspoortstempels. Ek raak dikwels so opgesweep om ’n nuwe land by my “versameling” te voeg, dat ek dikwels van die groter prentjie vergeet. Paspoortstempels is nie alles nie. Eerder as om vyf lande in drie dae te verken, gaan ek fokus op een streek van ‘n spesifieke land. ’n Mens noem dit “Slow Travel”.

passport

2. Kom ons wees nou maar ook oppervlakkig. Ek wil goed lyk in my baaibroek, wanneer daar ’n foto van my op die strand geneem word. Dus gaan daar baie die jaar geoefen word. Ek hou nogal baie van die filosofie van Contiki wat sê jy moet hard oefen en spaar, en dan die wêreld reis terwyl jy moer hot lyk.

3. Ek wil witwyn in bergpoele drink. Hier bo in Johannesburg is daar nie baie bergpoele nie, so miskien sal Bheki Dhube se jakuzzi by Curiocity Backpackers vir nou moet doen. Maar vanjaar gaan daar beslis talle bergpoele uitgesoek word.

Die jakuzzi by Curiocity Backpackers.

Die jakuzzi by Curiocity Backpackers.

4. Ek gaan egter nie dat my agterstewe of boepie die pret in my lewe bepaal nie. As daar ’n bergpoel is waarin ’n spontane skinny-dip kan plaasvind, is ek daar. Terwyl ons praat van spontane oomblikke, gaan ek dit ook baie meer aangryp in die nuwe jaar, drilboude of te nie.

5. Deur Reismier het ek soveel mense ontmoet wat my liefde vir reis deel. Daar is Dawn Jorgenson van The Incidental Tourist, Albert van Niekerk, een van Reismier se medewerkers en blogger van Here to Stray, Dee Lourens van The Good Holiday en Di Brown van The Roaming Giraffe. Dan is daar ook ou vriende soos Jonker Fourie van Firefly Africa en Kate Els van Indikate. Hopelik kan ek vanjaar ’n paar reise saam met ou en nuwe vriende inwerk.

6. Ek wil meer plaaslik reis. Ek skaam myself dat ek nog nie in die Overberg was nie. Ek ken ook nie die Karoo verder as Oudshoorn nie. Swaziland is ook reg op ons voorstoep en ek was laas in die landjie saam met my ouers, as ’n laerskoolkind. Dis wel ’n tjap wat ek in my paspoort wil kry.

'n Kampuitstappie na Sondela in die Waterberge was een van verlede jaar se hoogtepunte. Vanjaar wil ek beslis meer plaaslik reis.

‘n Kampuitstappie na Sondela in die Waterberge was een van verlede jaar se hoogtepunte. Vanjaar wil ek beslis meer plaaslik reis.

7. ’n Goeie vriendin van my is verlede jaar oorlede. Sy het uit haar pad gegaan om soveel as moontlik te reis en vir haar familie die wêreld te wys. Ek het weer agtergekom hoe belangrik reis saam met jou familie is, al wil jy hulle somtyds vermoor. Maar ’n mens kom daaroor en lag ’n paar dae later. Vanjaar gaan daar talle familieavonture aangepak word.

8. Ek gaan ligter pak. My uitdaging: Om vir tien dae in Italië te pak met slegs een klein rugsak en my kajuitbagasie.

9. Aandenkings is altyd lekker, maar my huis is tjok-en-blok vol kaggelkakkies van regoor die wêreld. Ek vind dit moeilik om ’n vlooimark te weerstaan. Eerder as om geld te spandeer op aandenkings, gaan ek dit liewers op ervarings bestee. So reis ‘n mens ook ligter.

10. Ek gaan my agterplaas meer verken. Verlede jaar het ek ’n punt daarvan gemaak om meer van Johannesburg se middestad te sien. Maar in ’n radius van 100 kilometer is daar wonderlike daguitstappies wat nie ’n arm en ’n been kos nie. Ek wil in die Rietvlei -en Suikerbosrandnatuurreservaat gaan stap en piekniek hou by die talle botaniese tuine in my omgewing.

Die Maboneng-distrik in Johannesburg.

Die Maboneng-distrik in Johannesburg.