By die Rocktail Beach Camp is die kanse goed dat jy eerder geitjiemis as sjokolade op jou kussing sal kry. Sy sal dit geensins anders wil hê nie, skryf Carla Lewis-Balden.

Dit was ons tweede dag by die luukse strandlodge in Maputaland in KwaZulu-Natal en ek was verdiep in ’n misdaadriller in ons tent toe ek ’n sagte “plop” langs my hoor. ’n Koeëlronde bolletjie het op die kussing gelê. Toe ek opkyk om te sien wie die skuldige is, het ’n vleeskleurige beentjie en stertjie agter die houtbalke verdwyn.
Rocktail Beach Camp is in ’n kuswoud geleë, in die iSimangaliso-vleilandgebied, in die noorde van KwaZulu-Natal. Die luukse tente is óf in die woud geleë óf op stelte bokant die woud, met uitsigte oor die bome en Indiese Oseaan.

Rocktail Beach Camp is in die Noorde van Natal geleë.

Rocktail Beach Camp is in die Noorde van Natal geleë.

Die kanse is goed dat jy jou tent nie met net jou metgesel sal deel nie, maar ook ’n geitjie of twee. Wilderness Safaris, wat die Rocktail Beach Camp besit, glo in lae-impak-toerisme, oftewel bos-karma. Leef en laat leef. As jy die diertjies binne en buite jou tent nie pla nie, sal hulle jou nie pla nie. Ek hoop die reuse- gouewawielspinnekop buite ons tent gaan ons uitlos. Alhoewel hulle heeltemal skadeloos vir mense is, wil jy nie in dié knewel se spinnekopweb vasloop nie.

Rocktail is nie soos ’n konvensionele strandoord nie. Omdat die oord so afgeleë is, word jy hier nie deur skares vertrap nie. Die naaste winkelsentrum is heel waarskynlik in Richardsbaai, (tensy jy die spazawinkel op Mabibi tel) en afgesien van die stel by die kinderklub, is daar nie ander TV’s nie.
Die beste dinge wat ’n strandvakansie maak – mengeldrankies langs die swembad, laat slaap en lekker eet – is egter volop.

Daar word elke dag vir jou drie keuses vir aandete gebied (waarvan een vegetaries is). Hoewel eenvoudig, word die kos pragtig opgedien en hoef dit nie vir disse in ’n vyfster-restaurant terug te staan nie.
Die grootste aantrekking van Rocktail is sy ongereptheid en wye oop ruimtes. Die verlate goue strande strek kilometers ver, soms sonder ’n siel in sig. Die kamp is soos ’n safari-lodge, behalwe dat die aktiwiteite meestal eerder see- as wildgeoriënteerd is.

Maak jouself reg vir verlate strande.

Maak jouself reg vir verlate strande.

Een van die opwindendste aktiwiteite by Rocktail is ’n skilpadsafari. Die strande binne die iSimangaliso-vleigebied is ’n broeiplek vir karet- en leerrugseeskilpaaie. Wanneer dit tussen November en Maart broeiseisoen is, bied seeskilpadnavorsers laataand begeleide toere op die strand aan. Soos met ’n wildrit is dit ook maar ’n dobbelspel en ná ’n uur op die strand in ’n oop Land Rover lyk dit nie of die geluksgodin aan ons kant is nie.

Maar skielik stop die navorser Gugu Mathenjwa die 4×4. En dan sien ons hulle: die agterossies van ’n werpsel leerrugseeskilpaaie. Krappe, roofvoëls en ander roofdiere het hulself dik gevreet aan die agterosse se sibbe by die eet-soveel-jy-kan-seeskilpad-buffet wat ’n mens gereeld op natuurdokkies sien, en die laaste skilpadjies kan nou onverstoord aansukkel see toe. Die massamoord is verby.

Die simmetrie van hul blinknuwe doppies wat in die 4×4 se kopligte glinster, is verstommend.
Ons wil die skilpadjies aanhelp see toe, maar Gugu verduidelik hulle moet die lang pad self aandurf. Dit help om hul interne kompas te stel. As hulle wel oorleef, sal hulle na dié spesifieke strand terugkeer om te broei.

As jy die regte tyd van die jaar kom, kan jy op 'n skilpadsafari op die strand gaan.

As jy die regte tyd van die jaar kom, kan jy op ‘n skilpadsafari op die strand gaan.

By Rocktail kan jy, anders as by ’n gewone safari-lodge, inlê. Die see-aktiwiteite word volgens die gety bepaal, en jy hoef nie douvoordag uit die vere te wees vir die eerste wildrit nie. Ons slaap laat terwyl bloukuifloeries ons uit die ruigtes koggel.

Rocktail Bay is baie gewild onder duikers, want die riwwe en duikplekke wat hier voorkom, is wêreldklas.
Ek en my man gaan snorkel eerder by Lala Nek wat tydens laagwater met getypoele vol tropiese visse spog.
Om ’n gids by jou te hê wanneer jy snorkel, is ’n ander ervaring. Gewoonlik verkyk ek my net aan die skole tropiese visse wat verby my swem, maar die gids help ons om verskeie spesies te identifiseer. Daar is sebravisse, snellervisse, lipvisse en selfs ’n seekat of twee. Ek wil graag ’n bloukollintstertrog sien (seker die gelyke van ’n luiperd op ’n wildrit,) maar die blou gespikkelde rog ontwyk ons. Ek kry wel ’n gesig vol swart ink toe ek ’n seekat van nader wil beloer en dit ’n bietjie te na aan hom waag.

Daar is seker min dinge wat ’n mens so in ’n Zen-gemoedstoestand kry as om rustig saam met die gety in die louwarm water van die Indiese Oseaan te dobber terwyl jy jou aan helderkleurige visse en korale verkyk.
Een wat naby daaraan kom, is om in die digte woud rondom Rocktail Bay saam met die gids, Gibson Mkhize, rond te loop.

Gibson se kennis van die Noord-KwaZulu-Natalse kuswoude grens aan ensiklopedies. Namate ons deur die koel skemerte van die kuswoud wandel, onderdeur takke wat ’n tonnel oor ons koppe vou, wys hy vir ons die verskillende boomspesies wat hier voorkom.

Ons sien waterbessies met stamme wat knobbelrig rank en wildepere wie se stamme lyk asof dit met waterverf beskilder is. Ons borsel ons tande met ’n seepnetel se blare en leer van kerriebos wat ’n alternatief vir toiletpapier is, soos Gibson dit stel. “In die bos is dit my three-ply.”

Om by die strand uit te kom, stap jy deur ongerepte kuswoud.

Om by die strand uit te kom, stap jy deur ongerepte kuswoud.

Rocktail is ook naby die Sibaya-meer, die grootste varswatermeer in Suid-Afrika. Om daar uit te kom, moet jy deur die klein Zoeloe-dorpie van Mabibi ry. Om jou lyk dit soos die openingstonele van flieks wat die Amerikaners oor Afrika maak; kinders met wit glimlagte waai langs die pad, sweempies rook trek uit die hutte en beeswagters dryf hul Nguni-beeste terug kraal toe. Al wat kort is ’n marimba-klankbaan.

By die meer is ook seekoeie en krokodille, maar ons sien net ’n paar sterretjies, ’n reier en ’n kuifkopvisvanger.
Ons hou piekniek en drink skemerkelkies op ’n spierwit strand. Al wat jy hoor, is die geswoesj-swoesj van die klein golfies wat breek en die trillende geroep van die visvangers. Daar word geen motorbote op die meer toegelaat nie, wat bydra by die rus en vrede.

Strand- en seevakansies is ná my besoek aan Rocktail vir ewig bederf. Dit is ’n toevlugsoord weg van die skares. Jou rumoerige bure is ’n broeipaar bloukuifloeries of ’n troep blouape, en die uitsig vanuit jou tent se venster is beter as enigiets op ’n grootskerm-televisie.

Die Sibaya-meer is een van Suid-Afrika se grootste varswatermere.

Die Sibaya-meer is een van Suid-Afrika se grootste varswatermere.

Voordat jy gaan

Rocktail Beach Camp het 17 eenhede, waarvan sewe familie-suites is. Dit is kindervriendelik met talle aktiwiteite.
Die lodge is sowat 10 minute se stap deur kuswoude vanaf die strand. Daar is ook ’n wisseldiens beskikbaar vanaf die lodge.
Die laaste deel van die pad na Rocktail kan net met ’n 4×4 bereik word. As jy nie toegang tot ’n 4×4 het nie, is daar ’n wisseldiens vanaf die ­Coastal Ca­shews-plaas, sowat 40 km vanaf Rocktail Bay.

Vir meer inligting oor Rocktail Bay Beach Camp en Wilderness Safaris besoek www.wilderness-safaris.com. Om te bespreek, bel 011 807 1800 of stuur ’n e-pos na enquiry@wilderness.co.za. Hulle het spesiale tarriewe vir Suid-Afrikaners tydens die week en laagseisoen.

Wilderness Safaris het ’n spesiale lojaliteitsprogram, The Wilderness Safaris Residents Programme, van stapel gestuur wat eksklusief op Suid-Afrikaners en die inwoners van uitgesoekte Afrika-lande gemik is. Vir nadere besonderhede oor dié program, stuur ’n e-pos na residents@wilderness.co.za; SMS “safari” gevolg deur jou e-pos-adres na 34007 of besoek die webwerf www.wilderness-residents.co.za.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *