Die eiland, Bocas del Tora in Panama is ’n paradys van seesterre, eenrat Cruiser-fietse en happy hours, skryf Carina Jooste.

Reiswenk nommer een in Sentraal-Amerika: Pak jou pluisstofbaadjie in wanneer jy ’n nagbus na ’n nuwe bestemming neem. En ’n tweeliter bottel sherry. Suiwer alkohol sal ook werk. Die gemiddelde temperatuur op die nagbus wat ons van Panama-Stad tot in Bocas del Tora geneem het, was dié van ’n Arktiese winter. Ongelukkig het ek nie my pluisstofbaadjie, óf ’n bottel OBS óf suiwer alkohol ingepak nie. Helaas was daar niks wat ’n bietjie troos kon bied teen die yswind wat uit die lugverkoeler geblaas het nie. Dit was net my man, pakkie meelpiesang-tjips en ’n suiwer wil om om lewendig by ons bestemming aan te kom. Die busrit was tien ure van loutere hel, met klipharde Latino musiek wat by die luidsprekers uit basuin het. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek hou van Latino-musiek. Ek verkies dit egter by ’n strandkroeg, met ’n Cubra Libre in my hand.

Bocas del Tora (of Bocas, soos die locals hom noem) was ons tweede stop in Panama en ons het baie na dié bestemming uitgesien. Dit is ’n provinsie naby Costa Rica. Die Karibiese eilande wat deel vorm van die provinsie is gewild onder reisigers en ons was op pad na Isla Colón en sy dorpie Bocas Town. Die tropiese eiland was omtrent ’n verligting na die Arktiese busrit. Ons het vir vyf nagte hier oorgeslaap, maar dit het gevoel soos 50. In Bocas gaan die tyd stadiger verby as ’n Panamees op ’n Cruiser-fiets.

Isla Carenero ‘n klein eiland wat deel uitmaak van die Bocas del Toro-provinsie.

So gepraat van Cruiser-fietse, ons het een dag besluit om per fiets na Playa Bluff, een van die strande op die eiland te ry. Dit was nie te ver nie, sowat 7.5 kilometer, met die Karibiese son op ons vel en die oop, klipperige, en heuwelagtige pad onder ons voete. Dit was ’n beproewing vir die Cruiser-fietse, wat $5 gekos het om te huur, maar nietemin, die lewe was salig. Totdat my fiets se ketting afgeval het. Ek en my man het probeer om fiets-mechanic te speel, maar was onsuksesvol. So stoot ons maar die fiets na die naaste strandkroeg.

Toe is die lewe weer salig, want ons het ’n bier in die een hand, ’n Cuba Libre in die ander en die mooiste strand lê  voor ons uitgestrek.
Vol Cuba Libres vir ‘n bietjie moed, het ons die pad huistoe aangedurf. Ek het op die gebreekte fiets gesit, met my man wat my daarop gestoot het. Dit was hope pret, (vir my ten minste). Ek het die fiets by die heuwels opgestoot en dit by die aftraandes probeer freewheel. Geen fietsketting beteken egter geen brieke, iets wat mens in ag moet neem wanneer jy by ’n baie klipperige en steil pad probeer afry.

Van daar was dit letterlik net aftraande. Ek het so hard geval, ek het gedink my heupbeen is gekraak. Ewe skielik was ek bitter bekommerd dat ek nie meer die cha-cha sou kon doen nie, met ons latere besoek aan Kuba. Terwyl ek in ’n hopie tussen die gras lê, het ’n paar honger goggas my bene ook as die plaaslike buffet aangesien. So is ons hinkepinke terug dorp toe, ek in trane met bene vol insekbyte.

Ons daaglikse maaltye en 'n Panamees op 'n Cruiser-fiets. (links-bo)

Ons daaglikse maaltye en ‘n Panamees op ‘n Cruiser-fiets. (links-bo)

Ek het vir dae soos ’n kreupel geloop, maar gou weer herstel nadat ek Taller de Sabor, ’n klein restaurantjie se empanadas geproe het. Hulle is klein pakkies plesier, gevul met kapokaartappels, roosmaryn, hoender en knoffel. Elke dag is ons hinkepink na dié plekkie om ons daaglikse dosis van lekkerte te kry. Daarna is ons weer terug na ons blyplek, verby die straatbrakke en eksotiese voëls van Boca. Dis regtig ’n fraai ou dorpie, met sy houthuisies en seebriese. Die drank hier is ook goedkoop, ons het elke aand ses biere, teen $0.75 ’n bier by Mundo Taitu se kroeg bestel.

Bo: Die bierbrouery maak ‘n sjokolade-moutbier uit kakaobone. En ja, dis proe net so lekker soos dit klink. Onder: Die houthuisies van Boca.

Die beste gedeelte van Bocas is egter die seesterstrand. Verbeel jou: Helder warm water, gevul met plomp, vrolike seesterre en skole van klein vissies wat rondom jou swem.

Absoluut hemels.

Die seesterstrand van Boca.

Die seesterstrand van Boca.

Die inskrywing het oorspronklik op die blog, The Bearded Wonder and His Wife verskyn. Carina Jooste is ’n kopieskrywer wat tans Suid-Amerika saam met haar man Marc, ’n argitek verken. Volg hul avonture by http://thebeardedwonderandhiswife.wordpress.com

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *