Carla Lewis-Balden het die beskawing en teerpaaie agter gelaat om die Kruger op sy beste te verken: Te voet.

’n Veldgids het eenkeer vir my gesê: As jy al die paaie in Kruger Nasionale Park neem en ’n sigbaarheid van 20 meter aan elke kant bywerk, jy steeds net ’n baie klein persentasie van die park sal ervaar.
Ek het vir lank die Kruger vermy, omdat ek gevoel het dit kan maklik in ’n Ferrari Safari ontaard. As jy ’n leeu of luiperd langs die pad sien, moet jy stoei tussen die moshpit van karre om darem ’n glimp van ’n kol of maanhaar te kry.
Met die ruskampe wat met elektriese draad omhein is, voel ’n mens ook so bietjie verwyderd van die wild. ’n Besoek aan die Pafuri Walking Trail, ’n staproete in die noorde van die Kruger het dit alles handomkeer verander. Wees egter gewaarsku, as jy eers voetgeslaan het in die Kruger, is jy vir ewig bederf.

Om voet te slaan in die Kruger is die beste manier om die park te ervaar. Foto: Wilderness Safaris

Om voet te slaan in die Kruger is die beste manier om die park te ervaar. Foto: Wilderness Safaris

Ons gids, Steve Faulconbridge laat ons reeds die eerste dag ’n steil heuwel uitklouter. “Moenie agtertoe kyk nie!” maan hy. “Jy gaan dit vir jouself bederf.” Ons hyg en klim oor klippe tot heelbo die Mangala-koppie. Hy was reg, die uitsig is beslis iets om voor te wag. Onder kronkel die Luvuvhu Rivier deur rivierwoud van jakkals -en njalabessiebome. Die son is besig om agter die heuwels te verdwyn en baai alles in ’n warm, oranje gloed. Onder is ’n trop buffels op pad rivier toe om te gaan suip. Dit ruik soos skemer in die Bosveld, rooi stof en aartappelbos gemeng met gekneusde gras.

Die volgende oggend is daar nie tyd vir inlê nie, Steve kom klop jou al 5:30 wakker met ’n fles warm water. Dit gaan maar swaar. Die vorige aand was daar ’n trop rumoerige olifante nie te ver van my tent af nie. ’n Mens slaap dan maar moeilik. Daar is net tyd om die slaap uit my oë te spoel, my tande borsel en gou ’n bakkie muesli te eet, voor ons groep in die pad val.
Om in die bos te stap, is anders as om op ’n wildsrit te gaan. Dis ’n peinsende proses, waar jou vlak van bewustheid verhoog word. Jy waardeer die klein dinge meer, soos om wilde salie tussen jou vingers te pers, jou hande oor die silwer stam van ’n kremetart te laat gly, of net te kyk hoe ’n groepie withelmlaksmanne in ’n sekelbos baljaar.
Jou sintuie verskerp, dis asof jou lyf instinktief weet: Hier is ek nie meer heel bo aan die voedselketting nie. Jy luister uit vir die kraak van takke, of voëls wat vreemd tjirp. Die bos het sy eie manier van waarsku: ’n Gekwetter van ‘n groep rooibekrenostervoëls beteken daar is groot wild naby. Dan vermy jy maar die dik ruigtes en stap ’n ompad.

kremetart

Dis ’n ou Afrika waardeur ons loop. Die rotste onder ons voete is meer as 250 miljoen terug gevorm. Die Pafuri-gedeelte en Makuleke-konsessie was eers die tuiste van die Thulamela-mense, ’n antieke beskawing wat die nasate van Groot Zimbabwe en Mapungubwe was. Die beskawing het in die 1650’s tot ’n val gekom.
Argeoloë het al potskerwe van Chinese keramiek en Arabiese artefakte hier uitgegrawe, die oorblyfsels van handselsware wat die Portugese skeepvaarders vir goud en ivoor verruil het. ’n Subspesie buffels met reuse horings het later grootwildjagters hiernatoe gelok, maar vandag is die buffels almal uitgeskiet. Ons loop deur nou klowe, in die voetspore van ivoorjagters en smokkelaars, voor ons weer ’n heuwel uitklouter vir ’n koffiebreuk. Die toneel wat voor ons opdoem lyk soos iets wat jy in ’n ou Thomas Baines skildery sal sien, heuwels bedek met honderde ou kremetartbome. Dis die koningryk van Thulamela. Ek maak myself tuis teen die naaste warmgebakte klip, koffie en beskuit in die hand tuur uit oor die landskap. Dit was nog nooit lekkerder om ’n Ouma te dip nie.

Vir ons middaguitstappie meen Steve hy het nog iets beter om vir ons te wys as die kremetartbedekte heuwels. Die koorsboomwoud is ’n gordel bome wat verskeie kilometers lank is, waar daar knewels van die goudgeel akasiabome groei. Ons kom net so voor skemer daar aan tydens die Goue Uur waaroor fotograwe gaande is. Die Goue Uur in ’n koorsboomwoud is werklik goud. Die sagte lig glinster van die reuse bome se stamme, wat dit in ’n sprokieswêreld omskep. Tussenin is ’n olifantbul besig om te wei en Steve stel voor dat ons hom versigtig te voet nasit. In een ry loop ons katvoet agter die grootvoet aan, wat min gepla deur ons teenwoordigheid lyk. Na so rukkie lyk hy egter geïrriteerd met ons, swaai vies om en gee ons een olifant-grootte vuil kyk. Niks te aggresief nie, net genoeg om vir ons te laat weet dis tyd vir spore maak.

Die Koorsboomwoud van die Pafuri-streek.

Die Koorsboomwoud van die Pafuri-streek.

Rudyard Kipling moes seker in dié geweste rondgedwaal het. Dag drie mik ons na een van Afrika se mees ikoniese riviere, die “Groot grys-groen vuilerige Limpopo, omring deur koorsbome.” Al wat kort is die tweekleurige luislang, waarvan hy geskryf het in sy Just So-stories. Die roete kronkel deur riete en ruigtes, met Ilala-palms wat bokant die bosse uittroon. Op ’n stadium stop Steve by ’n plassie nattigheid wat nogal skerp ruik. Daar is vars katspore in die stof. Luiperd sê hy. Die skerp reuk is die luiperd se urine, wat so vaagweg bekend ruik. En daar ervaar ek ’n ‘Ripley’s believe it or not’-oomblik, toe ek besef ek ken die reuk. Luiperdpiepie ruik soos kaasgegeurde Dorito’s, met ’n tikkie sterk parmasaankaas by.

Die laaste middag vertrek ons per 4×4 na die uitkykpunt na Lanner Gorge, ’n versteekte skeurvallei in die Pafuri-konsessie. Dis een van die mees ongerepte dele van die Kruger. en omtrent net so indrukwekkend soos die Blyde Rivier Canyon. Ons het die toneel amper vir onsself, die ander geselskap is ’n groepie gaste van ’n lodge in die area. Hulle sit darem ver genoeg om ons nie te pla nie.
Onder vloei die Luvuvhu-rivier en aan die ander kant sien jy weer ’n landskap van reuse kremetartbome.
Dis doodstil, behalwe vir die gekabbel van die water onder in die skeurvallei en ’n visarend wat in die verte roep. Nee, wat, vergeet van teerpaaie en elektriese drade. Dis hoe ek die Kruger van nou af wil beleef.

Lanner Gorge

Lanner Gorge

Dit moet jy weet:

Die Pafuri Walking Trail is geleë in die Makuleke Konsessie van die Kruger. Die staproete word slegs in die droë seisoen, vanaf April tot Oktober bedryf.

Verblyf is wat ’n mens as “glampeer” sal beskryf. Jy bly in “en-suite” koepeltent, uitgerus met staalkatels en groot donserige vereduvets. Daar is geen lopende water nie. Badkamergeriewe is port-a-potties, en gedeelde bosstorte.

Die kamp het nie enige drade nie en Gert, die plaaslike ou Daghaboy-buffel het elke aand ’n wandeling deur die kamp gevat. Olifante loop ook gereeld deur.

Jy stap tweemaal per dag. In die oggend vertrek jy tussen 06.15 en 06:30, afhangende van die lig en kom weer so 13:00 terug, betyds vir middagete. Dan is dit tyd vir ’n siesta op die gemaklike banke onder die reuse trosvy. Die middagstappie vertrek dan weer so 15:00 en keer na donker terug.

Verblyf is wat 'n mens as "glampeer" sal beskryf.

Verblyf is wat ‘n mens as “glampeer” sal beskryf.

Jy hoef nie superfiks te wees nie, maar die terrein is uitdagend. Jy stap oor oneweredige vloedpleine wat deur buffels en olifante karnuffel is en klim klipperige heuwels uit. Ons het elke dag tussen agt en tien kilometer gestap. In die bos hoef jy darem nie vinnig te stap nie.

Jy sien minder wild op voet en kom ook nie so naby aan die diere nie, as gevolg van hul instinktiewe vrees vir die mens. Jy sien egter meer. Daar is kans vir jou om onder ’n knewel van ’n kremetart te talm, voëls te kyk en meer uit te vind oor die geskiedenis van die area. En om natuurlik weg te kom van die beskawing, selfone en ’n konstante soeke na internetopvangs.

Ek wil ook gaan

Die Pafuri Walking Trail word deur RETURNAfrica aangebied. Besoek hul webblad vir spesiale aanbiedinge.  Kliek hier vir meer inligting.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Pafuri Walking Trail: Stap in die voetspore van reuse

  • Reply
    Corlia Le Clus

    Dankie Carla, dit voel of ek nou net saam met julle gestap het! Lekker avontuur gewees! Pafurie is definitief op my ‘Bucketlist’