Marlise Scheepers het die mekka van musikale pelgrimstogte besoek.

elvis_army

Net nou die dag vat ek en twee van my Suid-Afrikaanse maters die pad Memphis toe. Graceland. Elvis, Elvis, Elvis.

Ek is ‘n ou ou Elvis-fan. Nie so oud soos my Ouma nie, maar wel ‘n groter fan as my Ouma.

Hier van Atlanta af vat ons op ’n Saterdagoggend die pad. ’n Mens ry ’n stukkie deur Georgia. Dan oor aan die bokant van Alabama deur Burmingham. En so hou jy aan tot jy in Missisippi is. Dan hou jy by die bordjies wat sê Memphis. Op ’n kol gaan jy die dorpie Tupelo slaan. As jy op ’n Elvis-roadtrip is dan wil jy vir Tupelo raakry, want dis waar die Koning van Rock gebore is.

Met ons aankoms in Tupelo tref een diepe teleurstelling my. Tupelo is regtig nie veel van ’n dorp nie. Veral nie die kant waar Elvis gebore is nie. Dit is ’n teleurstellende ou plekkie. Daar is ’n Meksikaanse restaurant en ’n garage. Dis al. Jy hoef nie eers die bordjies te volg na Elvis se geboortehuis nie. Daar waar die vier karre geparkeer staan, is waar dit is. Daar is nie regtig ander karre nie. Ons parkeer langs die vierde kar.

Daar’s ’n sentrumpie wat hulle ’n museum noem. Binne word daar allerhande tipiese Elvis-goed uitgestal. Net langsaan staan ’n ou kerkie, wat mooi gerestoureer is en onlangs weer ’n laag wit verf gekry het. Dis die kerkie of chapel waar Elvis en sy ma-hulle kerk toe gegaan het. En by die chapeltjie se voorkant, darem ’n paar meter weg, is ’n ou longdrop. Die longdrop het al beter dae gesien. Dis nou as longdrops beter dae kán sien.

Dan is daar Elvis se geboortehuis. Ag foeitog, mens. Die ou houthuisie is so groot soos twee vuurhoutjieboksies. Die slaapkamer is een vuurhoutjieboksie en die kombuisie is die ander vuurhoutjieboksie. Geen water of krag nie, veral nie in dáái jare – 1935 – toe Elvis gebore is nie. Die Presley’s het seker ook die longdrop by die chapel gebruik. Alles is so twintig meter van mekaar af. Dis ’n armsalige plekkie. Daar is darem ’n stoepswaai op die twee meter wye stoepie van die huisie. Daar gaan sit ek dat my maters ’n foto van my kan neem.

Marlise Scheepers op die Presley's se stoepswaai.

Marlise Scheepers op die Presley’s se stoepswaai.

Ek en die swaai wip soos ons skrik toe die huisie se sifdeur oopswaai. ’n Blonde-gemmerkop-antie wink ons in. “Die toer gaan begin,” sê sy.

Binne staan ’n groot dubbelbed. Hy staan die hele ou kamertjie vol. Daar’s ’n ou leuenstoel en ‘n spieëlkas in die hoek. En ‘n kaggel. Teen die muur tussen die kaggel en die spieëlkas hang Elvis se pa, Vernon, se ou hoed aan ‘n spyker. Mens kan nie in die kamer rondloop nie, want daar is van daai toue en paaltjies wat keer dat jy nader kom.

Ek staan by die deur waar ons ingekom het. Tussen die tou en die bed is ‘n klein bedtafeltjie en ’n horingoue stoeltjie wat lyk of hy kan kraak sonder dat jy op hom gaan sit.

Die blonde-gemmerkop-antie is die toerleier. Sy is in haar vroeë sestigs. Haar hare is lank en lê oor haar skouers. En sy het dit dié oggend so geblaas dat dit binnetoe krul. Very seventies. Sy’t ook vir haar ’n kuifie gesny. Dié hang puntjies in haar oë. Haar stem is krakerig van jarre se rook. Sy is nes Elvis ook van Tupelo. En ek kan aan die lyne in haar gesig en haar hangskouertjies sien sy was al ’n paar keer ‘om die blok’. Sy het ver gestap van swaarkry. En nooit verder gekom as die Meksikaanse restaurant en garage nie.

Maar sy’s baie vriendelik en sy groet al sewe mense wat gebondel in die beknopte kamer staan.

Sy begin deur te sê dat die kaggel, Vernon se hoed en die ou koolstoof in die vuurhoutjiebokskombuis langsaan die enigste goed is wat regtig daar was toe Elvis gebore is. Die bed en spieëlkas kom wel uit daardie era, maar dis nie die regte-egtes wat daar gestaan het nie.

Sy haak die tou los en gaan sit op die kraakstoeltjie langs die bed en vertel ons van Elvis en sy grootwordjare. Wanneer sy emosioneel raak, word die donker sakkies onder haar oë nog donkerder. Dan kry sy haarself weer onder beheer. Maar die permanente afwaartse lyne om haar mond verander nie. En in haar tydverweerde hande op haar skoot frummel sy aan die afgeskeurde papiertjies van ons kaartjies.

Die binnekant van die huis waar Elvis groot geword het.

Die binnekant van die huis waar Elvis groot geword het.

Ons vat weer die pad en ry vir omtrent nog ’n uur en ’n half Memphis toe. Oorkant Graceland koop ’n mens kaartjies. Dan gaan staan jy in ’n ry en kry oorfone en ’n elektroniese toergids in ’n play and pause-boksie wat jy om jou nek hang. Dan wag jy saam met nog baie ander toeriste vir die shuttle wat jou kom haal, oor die pad ry en dan reg voor Elvis se voordeur aflaai. In ons shuttle was ’n paar ou tannies en toe ons voor Elvis se deur stop kon hulle nie meer die opgewondenheid keer nie. Hulle druk en stoot en stamp in die shuttle soos ’n klomp kallers in ’n drukgang.

Wanneer jy by die voordeur instap, sê die elektroniese toergids om my nek, moet jy dadelik regs draai. Dit was Elvis se formele sitkamer. Dit is taamlik luuks, verskriklik luuks vir die sewentigs. En besonder luuks ná Tupelo.

Daar’s ’n lang wit bank teen die venster. En die babablou gordyne hang swaar in die kamer. ’n Lang glastafel staan in die middel met kristalbotteltjies op. ’n Groot spieël hang teen die muur.

In die sitkamer kan mens deurkyk na ’n agterste sonkamer waar ’n groot swart vleuelklavier staan. Die sonkamer en die sitkamer word deur loodglasvensters met gekleurde poue op geskei.

Die vleuelklavier is oop en jy kan die wit klawers sien. En ek neem opslag ‘n foto. En ek kyk. En ek kyk weer. My mond val oop. En ek sweer ek het nou net vir Elvis gesien. En ek kyk weer op na die ou vleuel. En daar sit hy. Met sy rug so half na ons toe. En ek haal my elektroniese toergids se oorfone af. En ek hoor hoe speel hy Crying in the Chapel. En ek staan oopmond na hom en kyk. En daar uit die hoek van die sonkamer kom ‘n blonde-gemmerkop antie, met sakkies onder haar oë en afwaartse lyne om haar mond aangeloop. En sy gaan sit langs Elvis op die klavierstoeltjie. En hy speel vir haar.

Sy sit haar hand op sy been. En rus haar kop teen sy skouer. En hy speel. En sing Crying in the Chapel. Net vir haar.

En ek dink, Elvis, jou ou rakker. Jy lewe wragtag nog al die tyd.

Marlise Scheepers is die voormalige nuusredakteur van Sondag! en werk as ‘n sjef in Atlanta, Georgia.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *