Carina Jooste vat ’n chicken bus na die die gevaarlikste land in die wêreld.

Ons bring baie van ons tyd op busse deur. Soveel só dat ek nou al ’n kenner is op Sentraal-Amerikaanse landskappe. In Costa Rica moes ek seker soos ’n grootoog-springhaas in kopligte gelyk het, omdat die land net so beeldskoon is. Jy wil net kyk en kyk. Berge en koppies met diep ravyne flits verby tydens die busrit, alles bedek in ’n ryk, donker groen wat selfs Pantone sal sukkel om na te boots. Tydens ons busritte het ek ook ’n “toekankramp” in my nek ontwikkel. Dit gebeur as jy die hele tyd jou nek rek en draai om een van die helderkleurige voëls raak te sien. Ongelukkig het hulle my bly ontwyk.

Die landskappe van Sentraal Amerika hou jou geboei tydens jou busrit. Foto: Wikimedia Commons

Die landskappe van Sentraal Amerika hou jou geboei tydens jou busrit. Foto: Wikimedia Commons

Nicaragua het my baie aan Suid-Afrika laat dink. Behalwe, ons het nie vulkane nie. Ons het wel droë, stowwerige dorpies met net een doringboom en nie veel anders nie. Die gedeelte waar hulle koffie groei lyk egter nie soos enige iets tuis nie, maar ek sal maklik daar kan bly. Heuwels en heuwels van groen, geil koffieplantasies strek uit, met koel briese wat oor hul waai. Die lekkerste tyd van die dag hier is net wanneer die son homself agter die heuwels inskuif. Dis asof die hele landskap net so gemaklik lyk, amper soos die gevoel wat jy kry na jy een glas wyn te veel saam met jou Sondagmiddagete gedrink het.

Honduras se landskappe is egter van die mooiste wat ek nog in my lewe gesien het. Klein koppies strek uit, so ver as wat jou oog kan sien (of die busvenster jou toelaat om te sien.) Hulle is of ’n vrugbare groen, of bedek in die aardse patrone van ’n mielielandery. Pynappelplantasies en groot oop landerye lê tussenin al die groenheid, met palmbome wat bo die ruigtes uittroon. Die beste is die reuk, groot koffieroosterye en klein padstalletjies wat tortillas oor oop vure rooster gee die land ’n reuk wat jou nostalgies maak oor iets wat jy nog nie ervaar het nie.

Grenspos-selfie! Carina en haar man, Mark, maak reg om die wêreld se gevaarlikste land binne te gaan.

Grenspos-selfie! Carina en haar man, Mark, maak reg om die wêreld se gevaarlikste land binne te gaan.

Ons het die oggend baie vroeg by die Las Manos-grenspos aangekom, nadat ons die nag by ’n Nicaraguaanse grensdorpie oornag het. Ons was opgewonde, alhoewel almal ons gewaarsku het dat Honduras gevaarlik is. Ons het ook uitgesien na drie opwindende aktiwiteite wat voorgelê het; ’n aand in ’n bierbrouery, ’n duikkursus in Utila en Spaanse klasse in Copan.

Om grensposte in Sentraal Amerika oor te streek, is nie moeilik nie, mits jy Spaans kan praat. Ons kan nie. Ten spyte van alles het ons dit nog elke keer reggekry om die regte stempels in ons paspoorte te kry, net met ’n misverstand hier en daar. Die deel wat egter die meeste beplanning verg, is om op die regte bus na die regte bestemming te klim. Baie reisigers maak gebruik van die internasionale busdienste, waar jy nie busse hoef te wissel wanneer jy die grens oorsteek nie. Die busdrywer pas jou ook op wanneer jy deur doeane gaan. Ander reisigers, (soos ons) vat die chicken bus. Die verskil is $3 teenoor $30. (Hulle word chicken busses genoem omdat die plaaslike inwoners gewoonlik saam met lewende hawe en pluimvee op die busse reis.)

Die sogenaamde Chicken Busse is gewoonlik vol lewende hawe. Foto: Wikimedia Commons

Die sogenaamde Chicken Busse is gewoonlik vol lewende hawe. Foto: Wikimedia Commons

Die chicken bus laai jou voor die grenspos af. Daarna loop jy deur ’n klein kamertjie waar jy ’n fooitjie of belasting moet betaal om die land te verlaat. ’n Baie Belangrike man in ’n uniform onder ’n boom kyk dan na jou paspoort. Dan bel hy al sy vriende en staatsamptenare in Nicaragua om te hoor of Suid-Afrikaners ’n visum nodig het. Ons het nie. Daarna beweeg jy na ’n piepklein geboutjie waar nog ’n Baie Belangrike amptenaar jou paspoort moet stempel. Daarna word die minister van buitelandse sake geskakel om te hoor of Suid-Afrikaners visums nodig het. Ons het nie. Jy kry uiteindelik jou tjap en word by die vertrekkie uitgeboender.

Vandaar loop ons verder aan totdat ons ons bus kry, wat amper reg is om te vertrek. Elke keer wanneer ons ’n grenspos oorsteek, sny ons dit fyn. Ons wou egter nie op die Honduraanse grens gestrand wees nie as gevolg van die land se hoë misdaadsyfer. Ondanks van wat Steve en kie. jou wil laat glo, is Suid-Afrika nie die gevaarlikste land in die wêreld nie. Die twyfelagtige eer gaan aan Honduras, wat die hoogste per kapita moordsyfer in die wêreld het. Nadat ons vir 12 ure op die pad was, het ons uiteindelik by Lago de Yojoa, die grootste meer in Honduras uitgekom. En was ons dors.

Dit was 'n verligting om Lago Yohoa te bereik. Foto: Wikimedia Commons

Dit was ‘n verligting om Lago Yohoa te bereik. Foto: Wikimedia Commons

Ons het oorgebly by D&D Brewery, wat nou al ’n instelling onder Sentraal-Amerikaanse reisigers geword het. Geen wonder nie, die bier hier is heerlik. Ek het ’n appelkoosgegeurde bier bestel, ten spyte van ons nuwe Oostenrykse en Duitse vriende wat hul neus daarvoor opgetrek het. Die biersnobs glo mos aan die Evangelie van die Reinheitsgebod. Die bier was ietwat soet, maar die perfekte kuur vir my busbabelas. Na ’n paar biere besluit ons toe dis ’n goeie idee om Honduras se tweede hoogste piek te gaan uitklouter.

Twee Suid-Afrikaners, ’n Duitser, ’n Kiwi en twee Kanadese loop by ’n kroeg uit en by ’n berg op. Wanneer jy Montaña de Santa Bárbara gaan uitklim, neem baie Tabard saam. Hier kou die muskiete jou. Lionel, ons gids kon die kleinste orgidees raaksien. Hy was heel entoesiasties om vir ons die verskille tussen die spesies te verduidelik en ons het verwoed geknik (alhoewel ons nie veel kon verstaan nie.) Ek het ’n Quetzal gesien, ’n skaars voël wat amper soos ons bosloeries lyk, net met ’n kuif. Dit het my dag gemaak, omdat hulle nog skaarser as toekans is. Die roete was moeilik, steil en nat. Die oomblik wat jy gestop het om ’n slukkie water te neem, of ’n orgidee te bewonder, het ’n swerm muskiete op jou toegesak soos ’n trop honger straatbrakke.

Bo: Die uitsig vanaf XXX Onder: Die span natgereënde, gebyte avonturiers.

Bo: Die uitsig vanaf XXX
Onder: Die span natgereënde, gebyte avonturiers.

Na ’n ernstige klimsessie het ons uiteindelik die kruin bereik, maar kon niks sien nie. Alles was toe onder die mis. Dis maar die ding wanneer jy deur wolkwoude stap, die roete is regtig mooi, maar daar is geen beloning aan die einde in die vorm van ’n mooi uitsig nie. Net mis en ’n boud vol muskietbyte.

Die inskrywing het oorspronklik op die blog, ‘The Bearded Wonder and His Wife‘ verskyn. Carina Jooste is ’n kopieskrywer wat tans Suid-Amerika saam met haar man Marc, ’n argitek verken. Volg hul avonture by http://thebeardedwonderandhiswife.wordpress.com

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *