Marlise Scheepers hang uit saam met honderde Hemingway-doppelgängers tydens die skrywer se 114ste verjaarsdag in Key West, Florida.

Die klassieke skrywer Ernest Hemingway het in die 1930’s in Key West, Florida gebly. Somtyds het hy bietjie in tyd in Kuba verwyl en dan weer in Key West.
Dié eiland maak deel uit van die Coral Cay-eilandgroep en is deel van ’n groepie eilande wat ook bekendstaan as die Florida Keys. Key West is die mees suidelike punt van Amerika en is maar net sowat 140 km van Kuba af. Dis tropies, warm en omring deur turkoois water.

Die skrywer Ernest Hemingway en sy vriend, Carlos Guttierez op sy geliefde vissersboot, Pilar. Foto: Wikimedia Commons

Die skrywer Ernest Hemingway en sy vriend, Carlos Guttierez op sy geliefde vissersboot, Pilar. Foto: Wikimedia Commons

So was dit ook ’n gelukskoot dat dit Papa Hemingway se 114de verjaarsdag was tydens my besoek verlede jaar aan die eiland. Tydens die viering is daar ook ’n Hemingway-dubbelgangerkompetisie gehou. Al wat leef en beef en so bietjie na die skrywer trek daag by die eiland op. Kort-kort loop jy in ’n Hemingway vas. Een ry met ’n fiets by die straat af. Vyf sit en drink by die kroeg. Een eet ’n roomys.

Elke jaar met die skrywer se verjaarsdag ruk daar honderde Hemingway-doppelgängers op na Key West. Foto: Andy Newman, REUTERS

Elke jaar met die skrywer se verjaarsdag ruk daar honderde Hemingway-doppelgängers op na Key West. Foto: Andy Newman, REUTERS

Ons het die Key West Express, ’n massiewe katamaran-boot vanaf Fort Meyrs in Florida tot in Key West geneem.
Met dié boot vaar jy vir drie ure lank al langs die kus van Florida tot by die eiland. 400 mense kan op een slag op die boot vaar. Daar is vier dekke waarvan twee buite en twee binne is. Daar is ook ’n kroeg en ’n snoepie. Buiten vir die gewone sitplekke is daar ook banke, tafels en hoekies waar jy kan uitspan tydens die bootrit. Dis een reuse indrukwekkende besigheid.

Ons het die katamaran met ’n hele paar Hemingways gedeel, wat op pad was om deel te neem aan die doppelgänger-kompetisie.

DIE Hemingway House-museum in Key West, waar die skrywer in die 1930's gebly het. Foto: Wikimedia Commons

DIE Hemingway House-museum in Key West, waar die skrywer in die 1930′s gebly het. Foto: Wikimedia Commons

In Key West het ons die Hemmingway House-museum besoek, waar die skrywer saam met sy vrou Pauline en sy versameling sestoon-katte gebly het. Hemingway was erg oor sy katte, wat polidaktiel-katte genoem word. Hy het in sy testament finansiëel voorsiening vir hulle gemaak en na sy selfmoord in 1961 in Ketchum, Idaho was sy Key West-katte darem versorg. Die nasate van die oorspronklike katte is nog daar in die huis en op die werf.
Natuurlik moes ek die biblioteek terug by die huis aanvul met Hemingway-classics soos The old man and the sea, A moveable feast en A farewell to arms. Ons het ook by Sloppy Joe’s ‘n bier gaan drink en ‘n pizza geëet. Dit was Hemingway se plaaslike watergat.

Een van Hemingway se sestoon-katte se nasate. Foto: Wikimedia Commons

Een van Hemingway se sestoon-katte se nasate. Foto: Wikimedia Commons

Die katamaran was met ons rit terug ook voller as met die koms. En daar was heelwat meer Hemingways.  Ek het op die tweede dek aan die buitekant gesit en reg voor my het ’n Hemingway gesit. ’n Entjie van hom was daar nog ’n Hemingway.

Hemingway Nommer Een, reg voor my, het sy enkel tydens die naweek seer gemaak. Dié was toegedraai in ’n dik, swart verband. Hy het sy sitplek so skuins ingeneem en sy seer enkel op die boks waarin die lewensreddingsbaadjies gebêre word, laat rus.

Intussen het Hemingway Nommer Twee vir hom ‘n hamburger by die snoepie gaan koop. Met sy terugkoms wou hy op die boks gaan sit, sy burger eet en vir die waters kyk.
Maar toe sien hy Hemingway Nommer Een se been op die boks en hy’s is nogal ongelukkig daaroor. Daar sê hy ook vir Hemingway Nommer Een sy voet hoort nie op die boks nie.

Maar Hemmingway Nommer Een se naweek was lank. En só breek ’n rusie uit. Beide Hemingways staan teen mekaar, borskaste uitgestoot. Hemingway Een se vroutjie vat-vat so aan sy rug om hom te kalmeer. Bors teen bors staan die twee.

En al wat die twee Hemingways uitkry is:
“Really?”
“Yes really.”
“Oh really?”
“Yeah. Really”

Hemingway Nommer Twee se vroutjie het hom toe teruggeroep en die situasie is toe ietwat ontlont. En terwyl Hemingway Twee weer gaan sit, maak hy sy mond groot oop om ’n hap van sy hamburger te vat.
En net daar kom Hemmingway Een weer orent en sê:”Bite my ass.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *