Klink ’n mobiele bootsafari met driegang maaltye, sagte linne en persoonlike diens soos iets wat net ryk Yanks kan bekostig? Carla Lewis-Balden het in die Okavango Delta ‘glampeer’ sonder dat dit haar ’n arm en ’n been gekos het.

Ek sit onder ’n skadunet op ’n aluminiumbootjie. ’n Blote spikkel iewers in die suide van die delta, wat soos ’n blou hand met klomp vingers in die noordwestelike hoek van Botswana lê.
Die water is silwerskoon, op party plekke kan jy tot op die bodem sien hoe tiervis en tilapia in die water baljaar. Dit raak warm op die boot en soms is die versoeking groot om jou vingers en voete deur die helder water te trek wanneer die boot teen ’n luilekker spoed vaar. Maar dan onthou ek dat ek steeds al my vingers en tone aan die einde van die vakansie wil hê. Ja, vir die volgende vier nagte deel ons die Okavango met die wilde diere.

oka5

Met Okavango River Safaris verken jy Moremi en die Okavango Delta per boot. Foto’s: Erik Balden

Die oggend van ons vertrek is ons almal ’n bietjie senuweeagtig. Elke persoon word slegs 10 kilogram bagasie op die boot toegelaat, maar ’n hele klomp van ons is oorgewig. Boonop lyk dit asof ons groep smokkelaars van die Prohibisie-era is. Okavango River Safari’s laat jou toe om jou eie drankies te bring en die rivieroewer is toegepak met kaste Sauvignon Blanc, rooiwyn, bier jenewer, kinawater en vodka. Jacques en sy span skrik egter nie vir ons trekkie nie. Daar word gaatjies vir alles gevind, van die doos witwyn tot elke vrou se smuktas en ons groep van twaalf versprei onsself oor die twee aluminiumbote.

Die eerste uur vaar ons deur Maun se “voorstede”, verby die huise, hutte en kampterreine op die rivieroewer. Beeste en donkies wei langs die rivier, salig onbewus van die krokkodille wat onder in die dieptes kan skuil. Op ’n stadium vaar ons verby ’n paar veewagters wat saam met hul donkies deur die rivier swem. “Is hulle nie bang vir krokkodille nie?” vra ek vir Jacques. “Of kom die krokkedille nie so naby aan beskawing nie?”
Jacques vertel egter dat beeste of donkies gereeld onder die water verdwyn. ’n Skelm krokkodil het ook vroeër vanjaar ongenooid by ’n kinderpartytjie langs die rivier opgedaag. Dié rampokker het ’n kind aan sy been gegryp en hom rivier toe probeer sleep, maar gelukkig kon die volwassenes hom gou uit die reptiel se kake red. Die skade was darem minimaal, ’n paar steke op sy been en ’n opwindende storie om aan sy vriende te vertel.

Later word die geboue en vee al hoe minder en die plantegroei al hoe meer ruig, totdat ons deur ’n nou doolhof van riete vaar. Die kleur van die Okavango Delta se waters is dieselfde as flou tee, die tannien van die riete en planteafval gee dit ’n rooibruin kleur. Met middagete trek ons in by ’n versteekte ingang tussen die riete. Voor ons is ’n oopte onder die skadu van ’n reuse jakkalsbessieboom, die ideale plek vir ’n bospiekniek.

Dáár word ons ’n voorsmakie gegee van die kospotte van Egipte wat vir die volgende paar dae vir ons wag. Die middagete wat bestaan uit wraps, gevul met tunaslaai en uitpakslaaie met tamatie, kaas, feta, olywe en koue vleis, kan met die beste safarilodges in die omgewing meeding.

Dit word alles bedien op ’n batiktafeldoek, met melamienborde en van daardie kampeerglase van staal. Hier word papierborde en plastiek nie geduld nie. Of soos my ma sal sê, “Net omdat ons kamp, beteken dit nie ons moet eet soos kokkelolle nie.”

'n Tipiese Okavangotoneel. Makalali-palms loer uit die ruigtes.

‘n Tipiese Okavangotoneel. Makalali-palms loer uit die ruigtes.

Na middagete verander die landskap aansienlik, totdat dit lyk soos iets wat jy in David Attenborough of Beverley en Derrick Joubert se dokkies sal sien. Ons vaar verby bondels rivieroewerwoud, omring deur papirus met die Makalani-palms wat bokant die ruigtes uittroon.Die lug is daai diep skoon, Afrikahemel-blou, met sirruswolkies wat lyk asof dit oor die hemel geverf is. Die tonele word alles weer terug geflekteer in die diep, swart seekoeipoele waardeur ons vaar. Die waters is spieelglad, maar Jacques herrinner ons van “stille waters” waar gevaar skuil. Dis ook duidelik dat hy baie respek vir seekoeie het, wanneer ons ’n groep van die akwatiese diere gewaar, word daar wye sirkels om hulle gery.  “Ek vat nie kanse nie. Ek het my les met die diere geleer, een het al een van my bote afgeskryf,” vertel Jacques. Daar is glo deur die aluminium gebyt asof dit ’n sagte Chomp is.

Dis vroegskemer toe ons by ons eerste kamp, aan die suid-oostelike gedeelte van Chief’s Island in Moremi Nasionale Park aankom. Dis ’n tydelike boskamp met geen lopende water nie, maar Jacques en sy span gaan uit hul pad uit om dit so luuks en gemaklik as moontlik te maak. Die kamp is onder ’n tamaai trosvy opgeslaan en die rivieroewerwoud gee darem genoeg privaatheid vir almal.

Jou huis tydens jou verblyf in die Delta. Die tente is ruim, met bedrolle.

Jou huis tydens jou verblyf in die Delta. Die tente is ruim, met bedrolle.

Deesdae noem ’n mens die tipe kampering “glampeer”, ’n nuutskepping tussen glansryk en kampeer. Elke tent het twee dik, bree bedrolle, met ’n lekker snoesige duvet. Die stort -en badkamergeriewe is gedeel, maar heel skaflik tussen die bome versteek. Vir die toilette word daar longdrops gegrawe, maar elke “longdrop” word toegerus met ’n toiletsitplek. Dis nou nie porselein nie, maar dis aansienlik beter as ’n grillerige portapottie of om ’n bossie in die veld te gaan soek vir ’n bietjie privaatheid. Wanneer jy “spoel”, is daar ’n emmertjie grond waarmee jy alles mooi toegooi. Aan die einde van die toer word alles net so mooi toegegooi en word kompos vir Moeder Natuur.
Die storte is ruim met dik gaasseile, wat keer dat jou voete nie vol modder raak nie. En sou jy wou stort, laat weet net vir Jacques en sy span en hulle maak gou ’n plan om water oor die vuur te verhit.

Skemer in die Delta is die mooiste tyd van die dag.

Skemer in die Delta is die mooiste tyd van die dag.

Daar is gou tyd vir ’n skemervaart voor ons by die kamp moet aanmeld vir die aand. Skemer in die Okavango is ’n wonderlike tyd. Die aardse reuk van aartappelbos en die skerp reuk van wilde salie hang in die lug, terwyl die son agter die Makalani-palms inskuif. In die aand word die kamp verlig deur talle parafienlampies wat strategies rondom die kamp geplaas word en dit ’n sprokiesatmosfeer gee. Jy kan nie help om te wonder of die groot wildjagters en ontdekkingsreisigers van ouds, Selous en Livingstone se kampe ook so gelyk het nie. ’n Mens beleef regtig ’n tikkie van daardie ouwêreldse safarisjarme.

Die tafel is gedek met gestyfde linne en daar is regte glas-glase waaruit ons wyn drink. Hier sit jy aan vir ’n driegang-maaltyd op porseleinborde en daar word tot laat gekuier in die aande. Die kok, Jackie Mododo toor ook behoorlik in sy boskombuisie, wat lyk asof dit net uit ’n vuurtjie en ’n paar potte en panne bestaan. Elke aand kry ons sop, bedien met ’n stoomwarm brood wat ’n paar Tim Noakes-dissipels in die groep laat steier het. Varsgebakte focciacia, ciabata met olywe, ligte, anysagtige beskuitbrood, deurdrenk met uie en kaas, ’n mens kan skaars glo dat daar so in die bos gekook word. Die hoofgeregte en nageregte is ewe indrukwekkend. Hoenderkerrie, filletsteak, malvapoeding en sjokolademousse, alles varsgemaak in die “boskombuis”.

In die oggend is jou wekker die tipiese klanke van die Delta. Die voëls se oggendsang begin reeds as dit donker is, eers die gekwetter van die heuglinjanfrederik. Dan trek die tropiese waterfiskaal los met sy deuntjie, ’n helder klank wat klink soos ’n vinger wat oor kristalglas getrek word. Hier slaap jy nie laat nie. Sodra dit lig genoeg is om te sien, is ek uit die tent uit. Die kampvuur is reeds aan die gang en ons drink varsgebroude filterkoffie en bespreek die dag wat voorlê.

Die oggendstond het goud in die mond. Die son kom op oor die Delta.

Die oggendstond het goud in die mond. Die son kom op oor die Delta.

Die dagprogram op ’n Okavango-rivier safari word volgens die gaste se voorkeure aangepas. Gewoonlik is daar ’n oggendvaart, gevolg deur ’n middagete-piekniek iewers op ’n eiland. Dan keer jy terug vir ’n siesta en dan weer ’n middagvaart. Net voor sonsondergang keer jy terug. Daar word op ’n staptog of twee op een van die eilande ingewerk. Omdat dit laatsomer is en die bos nog baie ruig is, word daar besluit dat ons eers by die tweede kamp sal stap, waar dit meer oop is.

Die dag bring ons deur om tussen die nou kanale van die delta te vaar. Ons sien olifante, buffels en lechwe en tik verskeie voëlspesies op ons lysies af, insluitend monnikaasvoëls en kleinlangtone. Dié voëltjies is aansienlik skaarser as hul groter nefies, die grootlangtone en wanneer hulle vlieg, lyk dit as te ware soos ’n vlinder wat fladder oor die waterlelies. Kuifkopvisvangers is volop, die bliksemstraal-blou voëltjies hang aan riete, besig om die waters te bespeur vir ’n stukkie sashimi.“Dis nou hoe ’n mens vakansie hou,” sê my man, terwyl hy sy eerste bier oopklink. Dis skaars middag, maar as iemand anders jou rondry op ’n boot, vlieg die Boeing aansienlik vroeër oor.

Vam die bootjies kan jy olifante van nader bekyk.

Vam die bootjies kan jy olifante van nader bekyk.

Die aand om die kampvuur word daar oor ernstige dinge gesels. Ons almal wil ’n visuil sien. Costa Motswagole, Jacques se assistentgids het reeds die eerste dag vir ons belowe dat hy “een sommer so gou sal organiseer.” Ek was al verskeie kere in die Delta en elke keer het die voël my nog ontwyk.  Jacques bevestig egter dat ons kans om een by ons tweede kamp te sien, baie goed lyk.

Na middagete die volgende dag, net toe die groep hulself regskuif vir ’n middagslapie, besluit Jacques dis tyd om ’n visuil te gaan soek. Die eiland waar ons middagete gehad het, is glo visuilwêreld en Jacques het reeds ’n paar viskoppe en karkasse onder van die bome gewaar. Om een op te spoor is makliker gesê as gedaan, veral in daglig. Visuile hou daarvan om in hoë bome met dik blare weg te kruip en jy moet mooi kyk om een raak te sien. Na ’n uur van geen visuile nie, en enkels wat deur klitsgras karnuffel is, is almal eerder lus om onder die bome se skadu’s met ’n G&T te gaan uitspan. Ewe skielik begin Jacques opgewonde fluister en na die boomtoppe beduie. Ek kry omtrent ’n kramp soos ek my nek rek om vir die uil te soek.

Dan kyk ek vas in twee pikswart kraaloë wat die uil-paparazzi onder hom inspekteer. Toe vlieg hy, ’n gemmer blits wat ons vir ’n oomblik in volle glorie sien, voor hy weer in die ruigtes verdwyn. Dit was ’n vlietende oomblik van ’n visuil, maar ten minste het ons hom vir ’n paar oomblikke gesien.

Op die bootrit terug na die kamp gesels almal opgewonde oor die “lifer”-voël. Ons is nog meer in ons noppies toe ons die tweede kamp sien, die tente kyk uit oor vloedpleine en oop vlaktes. Die kamp is geleë net onder die Xo-pleine in Moremi, wes van Chief’s Island. Jacques vertel vir ons dat die gedeelte van die mees afgelëe is, min toeriste sien ooit die deel van die Delta. Ek vertel vir Jackie, die kok dat ek sopas ’n visuil gesien het. “Regtig, sê hy en wys na ’n groot jakkalsbessie in ons kamp. Die een wat daar sit?”

En sowaar, in helder daglig, sonder te veel blare wat hom bedek sit Ta en pronk. Later vertel Costa dat daar ’n broeipaar in die kamp is, maar dat hulle nie voor die tyd vir ons wou sê nie, vir ingeval die uile besluit het om die hasepad te kies en ons verniet opgewonde geraak het.Daardie aand raak ek aan die slaap met die spookagtige geroep van die visuile, wat klink soos iemand wat in ’n glasbottel blaas.

“Trek jul baaikostuums aan,” Jacques glimlag kripties die volgende oggend. “En pak ’n paar ekstra biere in die koelerboks.” Ons vaar weer die oggend verby olifante en seekoeie, totdat die riete nie meer so dik is nie. Skielik word daar gestop by ’n stuk oop, vlak water met ’n sandbank. Daar word ’n reccie gedoen vir enige ongediertes en toe dit lyk asof alles veilig is, gee Jacques ’n groot glimlag. “Klim uit! ’n Mens was nog nie in die Delta as jy nie die Kalahari-sand onder jou voete gevoel het en die Okavango se waters om jou enkels voel spoel het nie.” Hy klim eerste uit. Die res van ons volg maar huiwerig, die grootte van ’n paar knewel-krokkedille wat ons vroeg vanoggend gesien het, is steeds vars in ons geheue. Die water is egter silwerskoon en verfrissend koel en die sand voel grof en skoon onder jou voete.’n Mens mag nie hier swem nie, maar jy kan by vlak areas, waar jou gids dit veilig ag uitklim, voete natmaak en bietjie rondplas. En so kry ons ons ware Delta-doop, in die teekleurige waters van die Okavango.

Die Delta vanuit die lug.

Die Delta vanuit die lug.

Die middag vertrek ons na ’n ander eiland, waar ‘n helikopter ons sal optel vir ’n vlug oor die Delta. Ons het dit ekstra bespreek deur Jacques, wat, onderhewig aan beskikbaarheid, ‘n rit oor die Delta kan organiseer. Saam met die vlieënier kan die helikopter vier mense op ’n slag neem en ons almal wag ons beurt af om die moerasse vanuit die lug te beskou. Ons word vasgegespe, met oorfone toegerus en kry gou ’n veiligheidslesing. Dan lig die vlienier die helikopter met ’n wip van die grond af, en die moerasse, kanale en bome lê voor ons uitgestrek. Vanuit die lig kry jy ook regtig waardering vir die grootte van die Delta. Ons vlieg oor seekoeipadjies en kanale wat mere vorm en dan weer uitbrei tot nog kanale. Dan sak die helikopter ’n bietjie laer en ons blits oor die landskap, met buffels en lechwe-bokke wat onder ons hardloop. Die son is besig om te sak en dit is net voor daardie magiese goue uur, wat die hele landskap ’n alchemiese gloed gee. Dit voel asof ek deel is van ’n openingstoneel van ’n National Geographic dokkie.

Vanuit die lug lyk dit soos die openingstoneel van 'n National Geographic dokkie.

Vanuit die lug lyk dit soos die openingstoneel van ‘n National Geographic dokkie.

Soos ons terugvaar, dink ek dat min dinge die dag sal kan top. ’n (Soort van)-swem in die Delta se waters. ’n Helikopterrit oor die moeraslandskap. Maar daar wag ’n driekuns op ons. Soos wit skimme sit hulle op die vloedplein. Ons gewaar hulle, net voordat Jacques die bootjie by ons boskamp wil indraai. Dis sowat 20 lelkraanvoëls, een van Afrika se mees bedreigde voëlspesies. In Suider-Afrika alleen is daar net 2000 broeipare oor. Vergeet van swane, as daar al ooit ’n voël naby aan ’n ballerina gekom het, is dit die grasieuse voëls, met hul elegante lang nekke en dun beentjies. Ons kyk vir lank na die son gesak het, totdat die donkerte hul insluk.

Soos ons terugvaar na Maun op ons laaste dag, is dit amper ’n skok om weer ander reisigers op mokoro’s te sien. Dan begin die beskawing weer vir ons wink. Lodge-ontwikkelings op die oewers. Pleks van lechwes en buffels sien ons donkies en beeste. Vir vyf wonderlike dae was ons afgesny van die wêreld, die enigste tekens van mense wat ons gesien het was ’n luukse safari-lodge of twee, ’n boot van Botswana-parkeraad wat ons vir ons permitte gevra het en Shane, die helikoptervlieënier. Hier het jy die Delta vir jouself, die enigste mense met wie jy moet deel is die geselsskap van jou toergroep. Jy ervaar dit eksklusief, van die reuke van aartappelbos en nat dou wanneer jy jou tent oopzip tot ’n visuil wat bokant jou roep. Vir etlike kilometers is dit net jy, die kanale en diere van die Okavango Delta. En dit, vir my, is ware, eksklusiewe luuksheid in die bos.

Om die Okavango Delta vanaf 'n bootjie te verken, is van die beste safari-ervarings.

Om die Okavango Delta vanaf ‘n bootjie te verken, is van die beste safari-ervarings.

Ek wil ook gaan

Hoe lank: Die standaardsafari wat ons gedoen het is sewe dae en ses nagte. Jy bring twee nagte, voor en na die Okavango-safari in ’n lodge buite Maun deur en vier nagte in die Delta.
Wat kos dit? Die standaardsafari ongeveer R15 000 p.p wat deel, onderhewig aan ’n groep van 10 tot 12 mense. Hoe minder mense jy in ’n groep is, hoe duurder is dit. Daar is ook toere met vasgestelde vertrekdatums as jy nie ’n groot groep vriende bymekaar kan maak nie.
Wat dek dit alles: Die prys sluit drie etes per dag tydens die Okavango-safari in, koffie, tee en drinkwater, jou Moremi-parkfooie, vervoer en wildsritte op ’n 22 voet aluminiumboot, verblyf op ’n B&B-basis in Maun, vervoer van en na die lughawe as jy invlieg, of veilige parkering as jy inry en petrol vir die bote in.
Wat word voorsien? Okavango River Safaris slaan vir jou ’n tent op, met lekker dik bedrolle en verskaf ook die beddegoed. Badkamergeriewe is gedeelte puttoilette en bosstorte. Daar is ook 220V-herlaaifasiliteite, sou jy jou kamera’s wil herlaai. Daar is geen selfoonopvangs of wifi in die gedeeltes van die Delta wat Okavango River Safari’s besoek nie.
Wat is nie ingesluit nie: Drankies (alkoholies en nie-alkoholies) is nie by die toerprys ingesluit nie. Jy kan jou eie bring, of Okavango River Safari’s kan vir jou teen (Botswana) kosprys in Maun koop. Vervoer na Maun, fooitjies (op jou eie diskresie), reisversekering en etes in Maun is ook vir jou eie sak. Die helikopterrit is opsioneel en onderhewig aan beskikbaarheid en die prys aan die wisselkoers.
Hoe kom ek daar? Air Botswana het vlugte van beide Kaapstad en Botswana, maar dit kan duur uitwerk, met kaartjies wat ongeveer R5000 per persoon kos. Die pad na Maun is heel skaflik, geteer en kan met ’n gewone sedan gery word. Ons het saam met ’n ander paartjie gery en so die petrolkostes, grensbelasting en versekering gedeel. Dit werk jou baie goedkoper uit as om te vlieg.
Kontak: www.okavangoriver.com. e-pos: info@okavangoriver.com. Tel. +267 684 1016

Die storie het oorspronklik in WEG verskyn.

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *