Is jy lus vir ’n regte plattelandse fees met trekkerritte en liters en liters wyn? Ry Saterdag skuins verby Worcester en val in by die Nuyvallei-fees. Jy kan selfs die nag daar uitkamp as die fees te lekker raak.

Kom span die naweek uit by die Nuyvallei-fees.

Kom span die naweek uit by die Nuyvallei-fees.

Die fees vind die naweek van die 10de Mei plaas in die Nuyvallei naby Worcester. In dié fees se sesde bestaansjaar staan dit bekend as ’n klein fees met ’n groot hart. Die vallei is omtrent halfpad tussen Worcester en Robertson, sowat ’n uur en ’n half se ry van Kaapstad af.

Hoewel die Nuy-makietie net vier “stopplekke” het, is daar heelwat vir feesgangers om te doen. Sommige mense steek vas by die “drink soveel as wat jy wil-wyn” vir R50 by die Conradie-wynplaas (daar is darem ’n trekker wat vervoer verskaf tussen die “stasies”), terwyl ander probeer om wyn vir ’n jaar los te loop by Leipzig.

Vier Nuyvallei-plekke – Leipzig Country House, Nuy Wynkelder, Willow Creek Olive Estate en Conradie-familiewingerde – neem deel aan dié feestelikhede.

Vir die smulpape is daar hope heerlike kos, insluitend ’n kosdemonstrasie van die Giggling Gourmet, Jenny Morris. Die sanger Jak de Priester tree Vrydagaand onder ’n Bedoeïene-tent by Willow Creek Olive Estate op.

Die Nuyvallei spog met heelwat bekroonde wyne en olyfolie en jy sal alles by die fees kan proe. Een van die hoogtepunte van die fees is die kans om jou eie olywe te pluk by die Willow Creek Olive Estate. Die olyflandgoed gaan resepte verskaf oor hoe om jou eie olywe in te lê.

By Leipzig, met sy ryk Duitse geskiedenis, kan feesgangers aan tradisionele Duitse kos smul en Birkenhead-bier geniet. Leipzig het twee jaar gelede vir die eerste keer weer begin wyn maak nadat hulle laas hul eie wyn in die 1960’s gemaak het. Dié kelder het bekend geword toe hy die wyn vir prinses Elizabeth se 21ste verjaarsdag verskaf het toe die Britse koninklikes Suid-Afrika destyds in 1947 besoek het. Nou kan jy die einste witwyn, White Leipzig, weer drink.

“Drink genoeg daarvan en jy waai vir almal soos ’n koningin,” spot Leipzig se Lida Smit, die sewende geslag-bewoner van die Leipzig-plaas. Haar dogter Alida, ’n agtste geslag-inwoner, is aan die stuur van sake by Leipzig se feesaktiwiteite.

Drink genoeg van die wyn en jy voel gou soos 'n 'queen'.

Drink genoeg van die wyn en jy voel gou soos ‘n ‘queen’.

Tydens die fees verkoop Leipzig beperkte hoeveelhede van hulle nuwe Pinotage.

“Eintlik wil ons nog so bietjie vashou aan die wyn,” sê Smit. “Maar ons is bereid om ’n paar bottels te laat gaan vir entoesiaste.”

By Leipzig is daar ’n pretloop van 5 km en 10 km en die wenner kan ’n jaar se wynvoorraad wen. Die kelder verskaf storte en eet- en drinkgoed sal vir die drawwers beskikbaar wees.

Willow Creek bied ook ’n boeremark aan en ’n gespesialiseerde olyfproe-sessie wat sy spesialis-olyfolies insluit.  Die bistro by die olyfplaas sal ’n spesiale spyskaart vir die fees hê.

Andries Rabie, besturende direkteur van Willow Creek Olive Estate.

Andries Rabie, besturende direkteur van Willow Creek Olive Estate.

Daar is ook hope te doen vir die kroos.

Die Conradie-wynplaas, die tuiste van die “drink soveel as wat jy wil-wyn”, sal die Superrugby-stryd tussen die Bulls en die Stormers op grootskerm vertoon. Saam met die tradisionele boerekos sal vars soesji ook op die spyskaart wees. Dit is ook by Conradie waar daar kampgeriewe is.

Vir diegene wat vir Moedersdag wil bly kan moederharte by Leipzig Country House, Conradie en Willow Creek ’n spesiale ete bederf word.

Kostes:

** Kaartjies vir die Nuyvallei-fees kos R40 p.p. (kinders onder 18 is gratis). Kaartjies sluit toegang vir al vier die plekke asook vervoer op die trekkertrein in. Wynglase sal teen R20 te koop wees.

** Jak de Priester Vrydag 9 Mei, 2014 se vertoning kos R120 p.p. Vir meer inligting kan jy 082 096 3789 bel of e-pos aan info@willowcreek.co.za stuur om te bespreek.

** Kampgeriewe beskikbaar vir R80 p.p. – kontak 023 342 7025.

** Die Pretloop-fooie wissel van R35 to R95 p.p. en sluit toegang tot die fees in.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *