Kan jy met ’n reguit gesig vir ’n doeanebeampte vertel jy het “niks om te verklaar nie”? Carla Lewis-Balden, self ’n vaardige smokkelaar deel haar geheime.

 

customs_78559

Vetplante in tamponhouers. Botswana-biefstuk in wyndose. Vodka in waterbottels. Ek sal dit vir jou insmokkel. Wanneer ’n mens reis, moet jy leer om die stelsel ’n bietjie te manipuleer tot jou eie voordeel. Die swak rand en doeanebeamptes wat hul lippe aflek vir jou biltong beteken dat ‘n mens somtyds die wet so bietjie moet buig. Hier is ‘n paar slenters wat soos ‘n bom werk.

Daai wyn, daai dooswyn

Ek is vol fiemies wanneer dit by vleis kom. Terwyl ander mense miskien bereid is om aan taai boerbok te kou wat hulle langs die pad gekoop het, verkies ek plaaslike slagter Oom Dawie van Super Meats se skaaptjops en biltong, maak nie saak of ek in Kempton Park of in die Caprivi kuier nie.

As jy trots Suid-Afrikaans wil eet in een van ons buurlande, moet jy maar ’n paar truuks leer om daai verbode skaaptjops oor die grens te kry.
’n Gesoute smokkelaar het my geleer om nooit die buitenste deel van ’n wyndoos weg te gooi nie. Jy vries jou vleis, verpak dit in die doos en niemand vra vrae oor die inhoud nie.
Ek verkies daardie groot Fruitree-bokse. ’n Punterige doeanebeampte kan miskien haaks raak oor jou belastingvrye-toelatings en dan is jy jou doos en jou vleis kwyt.
’n Ander wenk is om so vyf kilometer voor die grenspos te stop en jou vleis tussen jou klere weg te steek. Die doeanebeamptes is gewoonlik meer geïnteresseerd in die inhoud van jou kampyskas en min gepla oor die inhoud van jou tasse.
Onthou net om dit so twee kilometer na die grenspos uit te pak, as jy nie vir die res van die vakansie soos ’n abattoir wil ruik nie.
Lughawens is meer uitdagend, maar Reismier-leser Koos Venter meen hy het net die slenter om rooivleis by uitgehongerde vriende in die Ooste te kry. “Ek het koedoe-steaks en ontbeende skaapboud Hong Kong toe geneem. Jy vakuumverpak die vleis, vries dit en draai dit toe in ’n laag koerantpapier. Daarna besprinkel jy dit met kerriepoeier en sit dit in ‘n plastiese sak.” Koos sê die honde kan nie die vleis ruik deur die kerriepoeier nie.

Drink uit jou tas

Vakansieoorde op eksotiese eilande kan jou sak ruk wanneer dit by drankies kom. R50 vir ’n Coke en R100 vir ’n glas wyn is niks snaaks by ’n 4-ster oord op ’n eiland in die Indiese Oseaan nie. 

Dan praat ons nie eers van ’n bottel water, wat ook maklik R50 kan kos nie. (En jy kan nie eers die kraanwater drink nie!) As ek hoor iemand gaan Mauritius toe is my eerste raad aan hulle, “Pak jou trots in jou sak en drink uit jou tas uit.” As jy van wyn hou en op pad is Thailand toe, laai maar daardie trollie by die duty free-winkel. ’n Gewone bottel Nederburg wat hier R60 kos, kan jou maklik daar R400 uit die sak jaag.

Op ’n eiland het jy net ’n paar swembroeke en ’n sarong nodig, so pak lig. Gebruik die res van die spasie om drankies in te pak. Helder drankies, soos limonade, Sprite en kinawater (tonic water) werk goed saam met alkoholiese verversings soos vodka, jenewer of enige ander wit, helder drank.

Kry een van daardie ghrênd glaswaterbottels wat hervulbaar is en maak dit vol met baie ys wat jy van die hotelkroeg kan kry. Vul dit met die drankie van jou keuse en jy kan onversteurd ’n G&T by die swembad drink, sonder dat mense dink jy is ’n kokkelol. Dit lyk mos of jy net water drink.

As jy wyn wil drink, hou dit maar vir voor ete. Of prop dit in jou strandsak en drink ‘n skemerkelkie op die strand. Onthou om jou eie kurktrekker saam te neem, die hoofkelner is nie gewoonlik baie gretig om syne te deel nie.

Handige wenke

  • Glimlag altyd breed vir ’n doeanebeampte, wees vriendelik en behandel hom met respek, selfs al is hy ongeskik met jou. Sommige beamptes soek net ’n rede om jou kar uit te pak en te ondersoek en jou met twee ure te vertraag. ’n Sarkastiese opmerking of vinnige humeur is miskien al rede wat hy nodig het om jou lewe onaangenaam te maak.
  • Ek smokkel nie eintlik vrugte nie. Jy kan dit gewoonlik teen dieselfde koste in ons buurlande koop en so die plaaslike boere ondersteun. As jy egter avokadopeer in Desember in die Sentraal-Kalahari wil eet, sal jy ’n plan moet maak.
  • Wees versigtig as jy alkohol na Moslem-lande toe smokkel. In lande soos die Maldive-eilande is dit verban (behalwe by hotelle en vakansieoorde) sou jy met ’n bottel brandewyn in jou handbagasie betrap word, kan jy by die lughawe beboet word.
  • Los maar jou fillet by die huis wanneer jy in Botswana of Namibië gaan vakansie hou. Botswana-biefstuk is heerlik en goedkoop (R80 p/kg vir fillet is glad nie vreemd nie), terwyl min dinge so lekker soos ’n Namibiese skaaptjop is. ’n Mens vat nie steenkool New Castle toe nie…
  • Geen smokkel-slenter is 100% gewaarborg nie. As jy uitgevang word, moenie baklei nie. Haal jou skouers op, glimlag vir die beampte en hoop maar jy word nie beboet nie.

Alle smokkeltogte word op eie risiko onderneem. Die Reismier vat geen verantwoordelik vir deportasies as gevolg van verbode vleis, of doeane wat jou kis Pinotage konfiskeer nie.

 


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on ““Niks om te verklaar nie, meneer!”

  • Reply
    Lisa du Preez

    Dankie vir die raad! Ek en my man het lang trane gehuil toe ons biltong by Martinsdrift gekonfiskeer is. Sal beslis die doos-truuk probeer!