Ek wou nog altyd ’n ryk oom gehad het met ’n plaas in die Bosveld of Laeveld, skryf Carla Lewis-Balden. Hy sou nie kla as ons ons voete op sy duur koedoeleerbanke sit nie. Die yskas sal vol gepak wees met drankies waar ons onsself net kon help.

Bruce Meeser en sy vrou Judy, bestuurders van die Ndzuti Safari kamp in die Klaserie-natuurreservaat is nou nie juis familie nie, maar soos hul jou behandel kon hulle netsowel gewees het.
’n Mens werk nie vir meer as twee dekades in die lodgebedryf, sonder om jou mark baie goed te leer ken nie.

nDzuti is 'n ruim plaashuis in die Klaserie-wildtuin.

nDzuti is ‘n ruim plaashuis in die Klaserie-wildtuin.

Reël nommer een: Om jou gaste tuis te laat voel is baie belangriker as om met die nuutste Skandinawiese kandellaar te spog. Dis alles goed en wel as ’n lodge lyk asof dit in die nuutste dekortydskrif kan verskyn, maar partymaal is jy net te jammer om op enige iets te sit, wat nog om op ‘n ontwerpersbank te lê en jou boek te lees.
Dieselfde geld vir kos. “Ek wil kos eet waarvan ek die name kan uitspreek,” sê my Vrystaat-man altyd. “En daar moet genoeg wees.”
In ’n era waar talle lodges en boskampe meeding met Nklandla wanneer dit by prag en praal kom, raak die belangrikste gedeeltes van ’n safari somtyds verlore.
En somtyds voel jy bietjie ongemaklik om hand en voet soos ’n koloniale Lord of Lady bedien te word. Ek kan mos self opstaan en ’n bier uit die yskas gaan haal of vir my ’n glas wyn skenk.

Sonsondergang by die Klaserie-rivier.

Sonsondergang by die Klaserie-rivier.

“As jy vir ’n paar jaar met gaste werk, kom jy agter wat belangrik is,” sê Bruce die aand toe ons op nDzuti se stoep kuier. Die opset is ’n groot ruim huis met vier slaapkamers en ’n gemeenskaplike kuierarea in die middel.
“Jy kry mense wat die hele tyd oor gekloek wil word. Maar dan kry jy mense wat opsoek is na ’n meer informele ervaring, maar steeds met uitstekende diens en eenkeer-in-’n-leeftyd-ervarings.
Dié gaste wil tuis voel en ontspan. En dis wat ons presies met nDzuti probeer doen het.”

Om saam met Bruce en Judy te kuier, voel inderdaad asof jy ou vriende weer sien, eerder as lodge bestuurders wat jou gelukkig probeer hou. Die paartjie is ook baanbrekers in Suider-Afrika se bewarings -en toerismebedryf. Bruce het vir verskeie teenstropery-eenhede gewerk en hulle het ook van Suid-Afrika se eerste stapsafaris begin. Van die stories wat hulle jou vertel, laat jou hare rys.

'n Olifantkoei wat ons tydens die wildsrit gesien het.

‘n Olifantkoei wat ons tydens die wildsrit gesien het.

Aandete en middagete is soos jou gunsteling-tannie dit sal maak; ou staatmakers soos bobotie, braaivleis en paella word vir ons opgedis. Die bobotie is vir die Sweedse en Nederlandse gaste ’n snaaksigheid, maar ’n blerts Mrs. Balls later is hulle ook oortuig.
Die kamers is luuks, sonder om oordadig te wees. Die stort is amper groot genoeg om in te dans. Nie dat jy te veel tyd in jou kamer deurbring nie. As ’n kranige voëlkyker het die boomryke omgewing rondom die kamp my vir ure besig gehou. Anders kan jy net by die swembad ontspan wat uitkyk oor die watergat, wat elke nou en dan ’n meevallertjie oplewer. Tydens ons besoek het ’n trop olifante hul dors tydens ontbyt kom les. ’n Leeuwyfie het ook een aand met aandete ’n blitsbesoek aan die watergat afgelê.

Die nDzuti-kamp is geleë in die private Klaserie-wildsreservaat, aan die westelike gedeelte van die Krugerwildtuin. Die heining tussen dié wildsreservaat en die Kruger is ’n paar jaar terug gesak en wild kan oor en weer migreer. Dis Groot Vyf-wêreld dié. Die eerste middag is ons reeds gelukkig genoeg om buffels, renosters en olifante op ons wildsrit te sien. Ons kry die spore van ’n luiperd en ’n plas urine waar hy sy gebied afgemerk het, maar die gespikkelde kat ontwyk ons. Ek sien wel ’n reuse ooruil, ’n lifer-voël wat ek nog altyd in my Sasol-voëlboek wou aftiek. Met hul pienk ooglede lyk hulle of hulle permanent met ’n babelas stoei.

Renosters in die rivierloop.

Renosters in die rivierloop.

Die Klaserie-lodges se verskillende voertuie gaan ook uit die pad om mekaar te vermy. Gidse is die hele tyd met mekaar in verbinding oor die roetes wat hul ry. So is daar nie ’n gestoeiery tussen voertuie as jy ’n renoster of olifant sien nie. Die wildtuin is ook meer as 60 000 hektar groot en baie keer voel dit asof jy die enigste gaste in die park is.

Die landskap in Klaserie is besonders as jy dit vanaf ’n oop safaritrok beleef. Wanneer ons langs die rivier deur rivieroewerhoud ry, ruik alles vars en groen. Ons drink skemerkelkies op ’n heuwel wat uitkyk oor die ruigtes van Klaserie en die noordelike gedeeltes van die Drakensberge. In die oggende meng die reuk van boeretroos en rooi, natgedoude Afrikagrond, wanneer ons stop vir koffie en beskuit in die bos.
Dis nou nie die familieplaas nie. Maar as jy vir ’n oomblik stilword, net met die geroep van die voëls in jou ore en die reuk van rooi grond in jou neus, kan jy jouself troos; Dis darem deel van jou Afrika-erfenis.

Die skemerte val oor die Klaserie-rivier.

Die skemerte val oor die Klaserie-rivier.

Weet voor jy gaan
Klaserie is ongeveer 5 ure se ry vanaf Johannesburg.
Tariewe is vanaf R2150 per persoon per aand wat deel. Dit sluit drie etes per dag en al jou safari-aktiwiteite in.
Die hele huis kan ook vir ’n familie of groot groep vriende uitgeboek word.
Vir meer inligting besoek hul webwerf by www.ndzuti.co.za of skakel +27 21 421 8433

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *