Marlise Scheepers is ’n musiekmens. En vir musiekmense is ’n besoek aan Nashville, Tennessee die gelyke van ’n heilige pelgrimstog. Dis nou as jy lewendig daar uitkom.

Nashville, die musiekstad. Dis die tuisdorp van countrymusiek-legende, Dolly Parton. Moet asseblief nie neersien op Dolly Parton nie, liewe vriende, sy het baie meer geld as enige een van ons. En baie meer bates ook.

Ek en my huismaat, Tin die kleine Fillipyn het vier dae afgekry van ons werk in Atlanta. Só besluit ons, (of eintlik, ek oortuig haar) om Nashville toe te gaan. Dit het min oortuiging gekos. Ek wou country-musiek gaan ervaar en sy wou die Parthenon gaan sien. Die Parthenon in Nashville is ‘n presiese namaaksel van die een in Griekeland. Nashville s’n is egter in 1897 gebou. ’n Percy Jackson-fliek is daar verfilm en dit is vir Tin die aantrekkingskrag.

'n Replika van die Partenon, wat jy in Nashville sal vind.

‘n Replika van die Parthenon, wat jy in Nashville sal vind.

Ons is albei ook Marriot Associates, wat beteken ons kry afslag by al die Marriot-hotelle in Amerika. Vir die Mariott Downtown Nashville betaal ons toe $60 vir ’n kamer met twee beddens per aand, pleks van die gewone bedrag van $280 per aand.

Ek bespreek toe vir ons via die internet – met pêrels sweet op my bolip, vanweë my tegnologiese gestremdheid – ’n kar by Budget. Ek het ook nog nooit aan die regterkant van die pad, soos hulle in Amerika doen, bestuur nie.
Daar is ook ’n effense senuweeagtigheid by my, maar nie tot so ‘n mate dat ek nie kans sien vir die roadtrip nie.

By Budget gee die vrou agter die toonbank een kyk na my bestuursliksens. Nee, sê sy. Die liksens het al in April verval. In Amerika word die datums eers volgens die maand, dan die dag en dan die jaar rangskik. In Suid-Afrika is dit eers die dag, dan die maand en dan die jaar. Dus is 05/11/2013 heeltemal iets anders as 11/05/2013.

En daar oortuig hulle my dat my liksens verval het. Ek staan verslae in Budget se kantoor. My hele Nashville-droom lyk in sy moer in.
Terwyl ons uitstap sê Tin vir my dat sy wel ‘n Fillipynse lisensie het, maar dat sy nie “so heeltemal al baie bestuur het nie”.
Toe sê ek, “Tin jy is in.” By Hertz is hulle heel gewillig om vir ons ’n kar op Tin se liksens te gee en daar vat ons die pad. Nashville, Tennessee toe.

Nashville7

Tin, die Fillipyn.

Soos ons uit die stad op die hoofweg probeer kom, besef ek Tin het regtig báíe min bestuursondervinding. Terwyl ons hinke-pinke hoofweg toe ry, vertel sy dat sy eers baie onlangs haar lisensie gekry het. Ongelukkig het haar ma haar nooit toegelaat om een van hul familie se karre te bestuur nie.

Toe is dit sommer tyd vir ’n vier uur-lange bestuursles. Tin sit egter ongemaklik tot teenaan die stuurwiel. Omdat sy kort is laat ek dit maar gaan. Sy het seker so leer bestuur. Ons neem die afrit na die hoofweg. Ek verduidelik in ’n baie kalm stemtoon dat sy op spoed moet kom met die res van karre, sodat ons kan byhou. Sy gee spoed en ons hou by. En dit lyk vir my mooi.

Ons was so twintig myl uit Atlanta toe Tin nies. Soos sy nies, toet die kar.
Toe weet ek sy sit hopeloos te naby aan die stuurwiel.

Ek beduie haar mooi met die hulp van my selfoon se GPS na die naaste afrit. Ons stop by ‘n parkeerarea met ’n klomp wegneemrestaurante en ek verstel die sitplek vir haar. Hopelik sal die kar nie nou toet nie, as Tin nies.
Daarna is ons weer op pad Nashville toe. Tuisdorp van Dolly Parton. Koningryk van Willy Nelson en Kris Kristoffersen.

Dis ‘n groot hoofweg en daar is baie trokke. Soms kom daar ‘n groot trok aan die linkerkant verby en dan gilletjies Tin :”OEEE eee weee.” En dan bid ek.
Dan kom daar een aan die regterkant verby en dan gilletjies Tin:” OEEE aaa waaa.” En dan bid ek weer.

Toe daar twee grotes terselfdetyd aan weerskante verby ry, toe is Tin stil. En toe bid ek eers.

Na vier ure is ons uiteindelik in Nashville, almal in een stuk. En ek was só bly.

Vir musiekliefhebbers soos ek is dit waarlik ’n droom wat waar word. Ek het vir my ’n pragstuk Ibanez-kitaar gekoop. Ons het Blue Grass geluister. In elke liewe restaurant in die hele Downtown is daar live bands wat country-musiek speel. Dit was iets ongeloofliks.

Ons het omtrent in elke kroeg gekuier. Later die aand het ons by Jack’s BBQ gerookte varkribbetjies en wors gaan eet. Jack’s BBQ is Dolly Parton se gunsteling-restaurant. Ongelukkig was sy nie die aand daar nie, maar daar is wel ’n getekende foto van haar teen die muur.

Nashville6

Jack’s is een van Dolly Parton se gunsteling-restaurante.

In Legend’s het ons vasgehaak om bands te kyk. Op daardie einste verhoog het Willie Nelson donkiejare terug begin sing en só naam gemaak. Pure country-hoendervleis.

Ons het die Walk of Fame gestap met gedenkplate van Country-legendes. Roy Orbison. Elvis Presley. Noem maar die name en dis daar.

Toe ek later die aand weer my lisensie bekyk en sien wat Budget en my fout was, besluit ek om self die wiel te vat. Arme Tin was verlig. Ek het ons ook Parthenon toe gery, in die middel van Nashville se Centennial Park.

In die voetspore van die groottes. Dis omtrent heilige grond vir musikante om by die kitaarmeester Les Paul se plaat te staan.

In die voetspore van die groottes. Dis omtrent heilige grond vir musikante om by die kitaarmeester Les Paul se plaat te staan.

Met die terugry het ek gedink as Tin se ma-hulle haar nie gaan kans gee om te leer bestuur nie, hoe gaan sy dit anders regkry? So ek was ’n wakker uiltjie en gewapen met baie skietgebede. Tin het terugbestuur tot in Chattanooga. Toe het ek die wiel gevat en teruggery Atlanta toe.

Terwyl ons terugry het Tin haar Iphone of Ipod of I-iets aangesit en toe luister ons na The Carpenters. En toe dink ek so by myself: Maar hoe de hel ry mens nou hier in Amerika rond met ‘n klein plomperige Fillipyntjie wat mal is oor The Carpenters, wat saamsing uit volle bors. So ry ons met The Carpenters en Tin wat kort-kort sê: “Marley watch your speed.” en ” Marley, keep a little bit to the left.”

Marlise Scheepers is ‘n liedjieskrywer, sanger, kosskrywer en sjef. Haar tweede album, Beige Ford Cortina is eersdaags op die rakke.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *