As jy leer om die wind van die Weskus te verdra of die eenvoud van
dié dorre stuk tussen-in aarde te waardeer, verlaat jy die streek ’n
beter mens, skryf Marzahn Botha. Sy deel haar foto’s van die Weskus
se blomme, vis, ruïnes en andersoortige karakters.

 

Stiefkind-Saldanha

Saldanha word dikwels as die stiefkind van die Weskus aangesien. Dit is ’n kleurvolle dorp wat om een van die wêreld se grootste natuurlike baaie gebou is. Met die neem van dié foto het ek op die voorstoep
van Sandstone, een van my gunsteling-restaurante aan die Weskus gesit. In daardie stadium was ek bitter alleen want my geliefde was oorsee, soos baie vroue se mans van die streek. Skielik uit die niet het ’n dubbele reënboog verskyn, net om vir my te sê “al voel jy nou wees, jy is nooit alleen nie”.

Saldanha

 

Mandela op Jacobsbaai 

As mens die agterpad vanaf Saldanha vat en deur Tabakbaai ry, kom jy by Jacobsbaai uit. Tydens oudpres. Nelson Mandela se begrafnis het ek myself afgesny van die media. Vir my was hy ’n vryheidsvegter wat verder kon sien as die oënskynlike vier mure waarbinne hy vasgevang was. Ek wou my eie gedenkdiens vir hom hou in die uitkyktoring naby Moerie-se-Baai in Jacobsbaai. Vanuit die ruïne het ’n mens ’n 360̊ -uitsig oor die see en die kusdorp, Jacobsbaai. Mandela se legende leef voort en staan so sterk soos die radar-observasiepos wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebruik is om duikbote op te spoor.

Mandela

Gooi snoek

Gedurende die wintermaande hardloop die snoek aan die Weskus. As jy op ’n Vrydagmiddag afry na die kaai
toe, tref jy ’n swetterjoel bedrywighede daar aan. Die vissermanne en snoekvlekkers spartel om die vis gereed te
kry om op die bakkies te laai, wat Kaap toe gaan. Dié visserman het gesorg dat die vis in die lug
hardloop.

Snoek

 

Harte van Paternoster

Die jongspan van Paternoster maak graag skulpharte. As jy ’n skulphart iewers opgehang sien, is dit tien teen een by die kinders van Paternoster gekoop. Die geldjies wat hulle maak is dan snoep- of lekkergoedgeld.
Dié foto is by die Paternoster-hotel geneem, waar hulle dikwels saamkloek. As die kwaai antie egter haar verskyning maak, kies hulle gou die hasepad.

Paternoster

Hoedjiesland in son

Die verre Weskus naby Port Nolloth is die diamantstreek. Net voor Port Nolloth het ek die skaapwagter Martin raakgeloop. Martin pas saam met sy hond Tyson skape vir dae op ’n slag op. Maar hy is nie alleen
nie, hy het ’n klein batterydraadloos en sy hondjie by hom.

Port Nolloth

 

Ons sing te lekker

By Lekkersing sing die anties uit volle bors terwyl hulle plastiekbottels plant om die blombeddings te verfraai.
Maria en Mita Cloete singdans hier om te wys hoe lekker dié wêreld van die Weskus tot by die Richtersveld kan wees.

Lekkersing

 

Waters wat pols

Langebaan is wêreldbekend onder vlieërbranderplankryers wat hierheen kom om in die winde en waters van
die Langebaan-strandmeer te baljaar. Ek het die foto by Shark Bay geneem. Die vlieërs pronk helder in
die lug. Ek wou juis die gevoel en lus vir die lewe met dié foto uitbeeld.

Lekkersing-2-2

 

Jesus is koning

Die oom wat buite Vioolsdrif bly se been is in die Grensoorlog afgeskiet. Op sy hoed staan “Jesus is koning” en sy hond verlaat nooit sy sy nie. Al lyk die streek so dor, trek ’n blymoedigheid oor die landskap, veral wanneer die reën kom. Hy sê hy is gelukkig, al is hy die vorige week aangerand want hier is hy is nooit, nooit alleen nie.

Vioolsdrif-2

 

Marzahn Botha is ’n vryskut-reis en -leefstylskrywer en ’n professionele fotograaf aan die Weskus. Sy het ’n wye verskeidenheid Weskusfoto’s en reisfoto’s van regoor die wêreld. Besoek www.marzahnbotha.com of volg haar by Marzahn Botha op Facebook. Bestellings kan by marzahn.botha@gmail.com of 082 642 5812 gemaak word.

 


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 thoughts on “’n Stuk tussen-in aarde