Milton Schorr het gaan snorkel saam met robbe in Houtbaai.

Ons duik begin toe Nathan Annandale van Seal Snorkeling Adventures, ’n lang rek van ’n man, oor Houtbaai-hawe se kaai na ons aangeloop toe kom. “Milton?”, vra hy, ’n regte seehond tuis in sy omgewing. “Het jy al saam met robbe geduik?

'n Kaapse pelsrob wys sy tande tydens 'n snorkelsessie.

‘n Kaapse pelsrob wys sy tande tydens ‘n snorkelsessie.

Ek het nog nie. Vandag sal my eerste keer wees.
“Jy gaan mal wees daaroor,” sê hy, terwyl hy ons groep na ’n hoop duikpakke, duikmaskers en paddavoete lei en oor die robbe gesels. Hy vertel vir ons hoe baie daar gaan wees (duisende), hoe spelerig hulle is (sommer baie) en dat ons nie bekommerd moet wees oor die haaie nie (Daar was nog nie een hier in twintig jaar gesien nie). Ons trek ons duikpakke aan en voel sommer hoe dit warm teen ons velle word, in die fel somerson.

“Moenie die boonste deel aantrek nie,” raai Nathan ons aan en wys vir ons hoe om die top af te rol, sodat ons lywe lug kan kry. “Dit is nou warm, maar onder die water is dit bibberkoud.” Hy beduie na die koue Atlantiese Oseaan, die water donker onder die Kaapse son. Enkele minute later is ons almal op ’n motorboot, op pad na Duiker Eiland, ’n hopie rotse onder die Sentinel, ’n piek wat oor die water reis en uitkyk in die rigting van die Arktiese see. “Sommige dae sien jy ouens wat van daar ‘base jump’,” skree Nathan vir ons, oor die motorboot se enjin. “Jy sien hoe hulle val, hoe die valskerm oopmaak en dan sweef hulle om die piek se hoeke, na die hawe se kant toe. Ons almal kyk op na die Sentinel, ’n wilde, woeste stuk rots, net so wild en woes soos die waters en die diere wat onder die water se oppervlakte skuil.

Dis 'n ander wêreld onder die water.

Dis ‘n ander wêreld onder die water.

“Daar is nie nog ’n ervaring soos om saam met robbe te snorkel nie,” sê Nathan. “Ons besoek die robbe se ‘huis’, hul natuurlike habitat. Dis wat die ervaring so spesiaal maak. Wanneer jy op safari gaan, moet jy op die wildstrokkie bly. Hier ontmoet jy die robbe op hul voorwaardes. Onthou, jy mag kyk, maar jy mag nie aan die robbe vat nie.”
“Hoe lank kan jy jou asem ophou onder die water?” vra ek hom, terwyl ek na sy breë bors, sy massiewe hande en voete kyk. “Drie minute,” sê hy met ’n glimlag.

Die jong robbe is veral nuuskierig.

Die jong robbe is veral nuuskierig.

“Hier is wenk,” voeg hy later by, soos ons anker gooi en duisende Kaapse pelsrobbe besig is om in die son te baai en na mekaar te roep. “Duik ondertoe en gryp vas aan ’n stuk seegras. Die robbe tree anders teenoor jou op wanneer jy daar onder die water is, saam met hulle.” Ons spring in die water en die yskoue dring deur na ons duikpakke, duikmaskers en paddavoete, maar gou word ons weer warm.

Dit is ’n ander wêreld hier onder die see, ’n souterige gewiglose plek, waar dit voel asof die realiteit buigbaar is. Robbe kom verby ons gepyl. Hulle loer vir jou deur stringe borrels, pêrels wat soos suiwer lig uit hul besnorde bekkies uit loop.

Hulle skiet neer na jou en dobber dan weer op tot by die water se oppervlak, waar hulle vir jou loer, en dan weer wegskiet met ’n draai van hul gladde roblywe. Die grotes hou daarvan om bo die seegras te dryf, terwyl die jongetjies rats rondom hulle swem. Hulle oë is groot diep poele, wat die vreemde wesens in die swart pakke aandagtig dophou.

Snorkelling-with-seals-2

Alles is oraait. ‘n Snorkelaar onder die water.

’n Jong rob het my ewe skielik in sy visier. Skielik swem-storm hy my, ’n onderwater hond met lang tande wat reg op my afpeil. Ek koes en hy swem verby my skouer. Ek kyk terug en ek is seker daar is ’n glimlaggie op daardie smoel van hom. Dit neem ’n rukkie om te ontspan en jou asemhaling reg te kry, as jy op die oop see ronddryf. Jy probeer maar na ’n halwe minuut se lug te snak, af te skop ondertoe en aan ’n stuk seegras te gryp, terwyl jy na die robbe kyk.

’n Ou gryse en ’n tiener is besig om te speel, met die jongetjie wat aan saggies aan die vet velle van die oue vasbyt. Ek kyk hoe hulle onder die water swaai en draai, eers boontoe na die sprankelende oppervlak en dan weer af na die donker dieptes. Twee blink lywe tussen ’n simfonie van robbe.

'n Simfonie van robbe onder die water.

‘n Simfonie van robbe onder die water.

Tussen hulle swem Nathan, ook besig om deur die water te gly en te duik, ’n grinnik op sy gesig terwyl hy ’n oog oor ons landdiere hou. Dis duidelik dat sy lyf vir die water gebou is. Die res van ons bobbel lomp op die oppervlaktes, ons gemaskerde gesigte gedraai na die bodem en ons Go Pro’s steek soos voelers bo die water uit. ’n Uur later is ek egter reg om te verkluim en ek swem terug boot toe. Die res van ons groep was reeds daar, hul gesigte deurtrek van genoegdoening soos Nathan en sy span warm water oor hul duikpakke om hul warm te maak. Hul vingers is gevou rondom koppies warm sjokolade en almal gesels saam oor hul ontmoetings met die robbe.
Terug op land bibber ons steeds, ten spyte van die warm sonstrale op ons lyf. Die herinneringe van die robbe spoel deur ons kop en proe soos rubber en sout. Dis nat en wild, ’n algehele vrye wêreld daar onder die see.

Cape-Fur-Seal-Pup-4

Hallo daar! ‘n Robwelpie inspekteer die snorkelaars van nader.

Animal Ocean Seal Snorkeling bied daaglikse snorkeltoere saam met die robbe vanaf Houtbaai. Besoek Seal Snorkeling Adventures vir meer inligting en volg hulle op Instagram vir foto’s van hul avonture. Besoek Nathan Allandale se Instagram-rekening vir nog foto’s en videos van robbe.

Milton Schorr is ’n skrywer en akteur. Hy het ’n agtergrond in teater en skryf graag toneelstukke, draaiboeke en reisartikels. Besoek www.miltonschorr.co.za vir meer inligting en volg hom op Instagram.

Die storie het oorspronklik op die reisblog The Good Holiday verskyn.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *