Kat Potgieter het die waters van die Breederivier aangedurf tydens ’n river rafting-ekspedisie saam met OBiKWA-wyne en Bundi Adventures.

As jy die waters van die Breederivier saam met Bundi Adventures wil aandurf, maak seker jou wekker is vir vroeg gestel. Die Bundi-span wil jou so gou as moontlik by hul kampeerterrein naby Worcester, rég op die skone Breederivier kry.

Voor jy die bruisende waters aandurf word jou energievlakke darem aangevul met ’n ligte ontbyt en broodnodige koffie. Daarna was dit tyd om ons toerusting reg te kry. Seda, ’n stralende gids van Turkye, en Chris, ’n entoesiastiese 2013 matrikulant, het gesorg dat elkeen van ons toegerus is met ons reddingsbaadjies en roeispane. Na ’n veiligheidsdemonstrasie is ons summier op die water gewerp.

Die kospakkies wat jou energievlakke moet konstant hou. Roei is harde werk! FOTO: OBiKWA

Die kospakkies wat jou energievlakke moet konstant hou. Roei is harde werk! FOTO: OBiKWA

Bewapen met ’n sonhoed en sonskerm, ’n paar peuselhappies en ons OBiKWA-waterbottels (gevul met water, natuurlik) het ons in kleiner, twee-twee spannetjies ons tewaterlating trotseer.

Ons kon nie ’n beter dag gekies het vir ’n roei-avontuur nie: die sielsblou lug en skitterende rivierwater van die Breederivier het gou van my stadstres ontslae geraak. Hier gaan dit net oor die plons van jou roeispaan in die rivierwater, om jou bootjie op koers te hou en die landskappe om jou.

Ons roete het oor verskeie kanale gevloei; van rustige breë strome, tot nouer vinniger rivierstrome. My hart smag maar altyd na ’n bietjie spoed en ek het dié gedeeltes veral geniet.

Bundi se gidse maak vir twee roeiers touwys. FOTO: OBiKWA

By die halfpadmerk het ons skielik aan wal gegaan en is gevra om ons reddingsbaadjies soos ’n baba se doek aan te trek. Dit was tyd vir die nappy run-gedeelte van die avontuur.

Volg die raad vir ’n wonderlike nappy run: Maak jou oë toe. Raak bewus daarvan dat jy besig is om op jou rug te dryf  in die middel van ‘n rivier. Jy laat jou kop agtertoe sak in die koel, strelende rivierwater. Jy kan niks meer hoor nie, behalwe die sagte gesuis en klinkelende klotseling van die rivierwater om jou hele lyf en kop.

Jy maak jou oë oop en al wat jy sien is brokkies en flitse van boomtoppe en sonstrale wat skugter hier en daar verby glip. Jou liggaam word deur die stroom meegevoer, maar jy is okei daarmee. Saligheid spoel oor jou.

Jy kry ’n voorgevoel dat jy jou oë moet oopmaak en ook maar goed. Ewe skielike tref jy ’n parmantige stroomversnelling en jy hoor jouself uitbundig lag en uitroep.

Dan, net soos dit, is dit verby – en jy gryp Chris se hand aan die onderkant van die stroom. Die meeste van ons se eerste reaksie was ’n sorgelose, ‘nog asseblief!’

Een van die roeiers word deur Chris, 'n gids van Bundi vergesel tydens die Nappy Run. FOTO: OBiKWA

Een van die roeiers word deur Chris, ‘n gids van Bundi vergesel tydens die Nappy Run. FOTO: OBiKWA

Toe dié stukkie lekkerte verby is ons weer vort, verder met die Breederivier af. Niks maak jou so honger soos roei nie. Met die vooruitsig van ’n smullekker, eg Suid Afrikaanse braai wat op ons wag terug by die houtdek, het ons omtrent vlink geroei!

Terug by die kampeerterrein kon ons darem stort en vars aantrek voordat ons begin kuier het met ’n glasie OBiKWA-wyn van ons keuse. Sedertdien die wyn in 2009 aan die plaaslike mark bekendgestel is, is dit ’n gunsteling by reisigers opsoek na sakpas-wyn van goeie gehalte. Die bottels is ook 25% ligter as normale wynbottels, wat beteken dat jy jou rugsak darem nie te swaar sal wees nie wanneer jy jou wynproviand saamneem op ’n uitstappie.

Op so ’n lekker somersdag wou ons die witwyne probeer: die OBiKWA Sauvignon Blanc, Chardonnay, Chenin Blanc en Moscato het almal ’n rondte in ons glase doen.

Verbasend genoeg was die stroperige Moscato my gunsteling (ek hou nie gewoonlik van soeter wyne nie). Die lekker ding van dié wyne is dat hulle toeganklike én gehalte wyne is.

Bundi se Breederivierekspedisies is perfek vir:

Gesinsuitstappies. Vra gerus uit oor hul enkelouer, ma-en-dogter en pa-en-seun-uitstappies.

Spanbousessies. Hulle fokus veral op jeugkampe, feeste en korporatiewe geleenthede

Daguitstappies vir avontuurlustiges en natuurliefhebbers van enige ouderdom. Hul kamp langs die Breederivier is slegs ‘n uur van Kaapstad af weg.

Beginners of ervare roeiers met geen toerusting van hulle eie nie. Bundi se ervare gidse sal jou gou touwys maak.

’n Naweekuitstappie. Bundi het oornagfasiliteite met ensuite-houthutte wat oulik toegerus is. Hulle houtdekke kyk uit op die Breederivier. Die verblyf is bekostigbaar, gerieflik geleë en jou petrolkittie gaan nie uitgeroei wees na ’n naweek se kuier nie.

    • Bundi se uitstappies is perfek vir jeugnaweke en korporatiewe spanbou. FOTO: OBiKWA

      Bundi se uitstappies is perfek vir jeugnaweke en korporatiewe spanbou. FOTO: OBiKWA

Kontakbesonderhede

OBiKWA:

Twitter: @ObikwaWines

Facebook: OBiKWA Wine: https://www.facebook.com/obikwa

Webwerf: www.obikwa.com

Bundi Aventures:

Facebook: Bundi River Rafters: https://www.facebook.com/pages/Bundi-River-Rafters/232164756961255

Pryslys: http://www.bundi.co.za/breederiverprices.htm

Roeiopsies/beskrywings: http://www.bundi.co.za/breederiverrafting.htm

E-pos: info@bundi.co.za

Webwerf: www.bundi.co.za

Kontaknommer: 021 975 9727

Die Reismier en Kat Potgieter was ’n gas van Bundi en OBiKWA, wat ook die kostes van die uitstappie gedek het.

 

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *