Parys, die stad van lig en liefde is propvol doendinge. Ons wys jou hoe om die beste van ’n naweek in die Franse hoofstad te maak.

Vrydag

17:00 Die buurt Montmatre is die beste plek om jou naweek te begin. Dit troon 130 meter bokant die stad uit en die uitsig is genoeg om jou opgewonde oor die volgende paar dae te maak. Neem die metro na Pigalle en stap op na die  Basilique de Sacre Coeur, ’n Bisantynse katerdraal waarna party mense as “Die troukoek” verwys. Die uitsigte vanaf dáár sal jou ’n heerlike voorsmakie van die stad gee. Gaan daarna na die Place du Tertre en verkyk jouself aan die kunstenaars op die sypaadjies, straatkafeetjies en nou stegies met historiese argitektuur.

Mont Martre het 'n pragtige uitsig oor Parys. Foto: Wikimedia Commons

Mont Martre het ‘n pragtige uitsig oor Parys. Foto: Wikimedia Commons

19:00 Die bekende Moulin Rouge kan bietjie van ’n tourist trap wees, maar dit is steeds die moeite werd. Knyp jou oë toe, maak jou beursie oop en bederf jouself met ’n spyskaart wat egte sjampanje en foie gras insluit. Na ’n rukkie sal die dansers se bates jou van die Rand/Euro se wisselkoers laat vergeet.

Saterdag

08:00 Ja, ons weet dis vroeg, maar hoe gereeld kom jy in Parys? Gee jou hotel se vervelige buffetontbyt ’n mis en gaan soek die naaste boulangerie. Koop ’n sakkie fyngebak van croissants, pains aux chocolat en ’n brioche en gaan soek ’n straatkafeetjie. Bestel ’n noisette of ’n cafe au lait en verkyk jou aan die mense.

09:00 Die Eiffeltoring is eerste op jou lysie. Daag vroeg op om die lang rye te vermy of koop jou kaartjie aanlyn. As jy Parys in die somer besoek, maak maar reg om lank te staan. As jy braaf en fiks is kan jy die trappe na bo neem, anders neem die hysbak.

Koop jou kaartjies aanlyn vir die Eiffel-toring om lang rye te vermy. Foto: Wikimedia Commons

Koop jou kaartjies aanlyn vir die Eiffel-toring om lang rye te vermy. Foto: Wikimedia Commons

11:00 Gaan ry fiets langs die Seine-rivier. Vélib is ’n fietshuurstelsel waar jy ’n fiets vir so min as E1.70 per dag kan huur. Jy hoef ook nie eers een te bespreek nie, jy daag net op by ’n Vélib-stasie, kies jou fiets en volg die instruksies op die masjien. As jy klaar is, los jy net weer die fiets by jou naaste Vélib-stasie.

11:30 Ry verby die rivier se oewer tot by die Quai Branly. Die museum was ’n projek van oud-president Jacques Chirac en het artefakte en versamelings uit Afrika, Asië, die Stille Oseaan en die Amerikas. Gaan daarna na die Les Invalides-millitêre museum. Die pragtige gebou huisves die graf van Napoleon Bonaparte. As jy ’n geskiedenisboffin is moet jy die museum besoek, wat gewy is aan Frankryk se millitêre geskiedenis.

Een van die beste en goedkoopste maniere om Parys te verken is op 'n Vélib-fiets. Foto: Wikimedia Commons

Een van die beste en goedkoopste maniere om Parys te verken is op ‘n Vélib-fiets. Foto: Wikimedia Commons

Ry nou op die Quai d’Orsay, verby die Assemblee Nationale (die parlement) voordat jy links draai en die Pont de la Concorde op die Regteroewer oorsteek. Gaan drentel in die Jardin des Tuileries wat na die Louvre Museum toe lei.
Onthou dat die rye by die Louvre lank is, maak nie saak watter tyd van die jaar jy die museum besoek nie. Belê in ‘n Paris Museum Pass, wat jou toelaat om ‘n groot verskeidenheid van Parys se bekendste museums te besoek. Nie net spaar jy geld nie, die pas laat jou ook toe om die lang kaartjierye te mis. As dit jou eerste keer by die Louvre is, besoek eerste die Grande Galerie, waar van die wêreld se bekendste kunsmeesterstukke hang. Die museum se versameling van vroeë kuns van die Midde-Oosterse beskawings is beslis ’n besoek werk. En natuurlik moet jy die mosh pit voor die Mona Lisa aandurf.

Die Louvre-piramide. Foto: Wikimedia Commons

Die Louvre-piramide. Foto: Wikimedia Commons

15:00 Tyd vir ’n laat middagete. Loop oor die Pont des Arts aan die einde van die Louvre. Dis die brug waar minnaars dikwels slotte aan die brug vasmaak om hul ewige liefde aan mekaar te verklaar. Jy is nou in die St Germain des Pres-buurt. Draai regs en loop in die rigting van die Notre Dame-metro. Op die rue Saint Andre des Arts is die pannekoekwinkel Creperie Saint-German. Die restaurantjie het ’n groot verskeidenheid soet en sout Franse crêpes wat jy met ’n glas appelwyn kan afsluk.

16:00 Steek nou die Pont Neuf, Parys se oudste en seker bekendste brug oor. Die laaste toneel in Woody Allen se Midnight in Paris speel daar af en dit was ook al in ander flieks soos Before Sunset en Les Amants du Pont Neuf met Juliette Binoche. Die brug neem jou na die Ile de la Cite, een van twee mini-eilande in die stad met Parys se gunsteling-aantrekkings.

Aan die linkerkant is die Sainte Chapelle-kerk met sy pragtige loodglasvensters en aan die regterkant is die Notre Dame-katedraal, wat uit die 12de eeu dateer. Die katedraal se tuine agter die gebou lei tot die tweede eiland, l’ile Saint Louis. Die brug wat die twee eilande met mekaar verbind het gewoonlik iemand wat ‘n trekklavierspeler speel, met ’n deuntjie so reg uit Richelieu-advertensie speel. Vat ‘n blaaskans en drink die atmosfeer in.

Die Ile de la Cité, waar jy die Notre Dame-katedraal sal vind. Foto: Wikimedia Commons

Die Ile de la Cité, waar jy die Notre Dame-katedraal sal vind. Foto: Wikimedia Commons

17:00 Verken die die Marais-distrik. Die hart van Parys se Joodse gemeenskap sluit in die Picasso-museum en talle kuns -en modeboetieks. Wanneer jy die rue des Francs-Bourgeois bereik, draai regs na rue Rambuteau en die futuristiese Pompidou-sentrum, wat ook die Musée National d’Art Moderne huisves. Die sentrum spog ook met van die mooiste uitsigte oor Parys. Die Beaubourg-area, waar die Pompidou-sentrum geleë is, bevat talle restaurante, straatkafeetjies en kroeë en is die ideale plek om Parys se naglewe te verken.

Sondag

09:00 ’n Uitstappie na Parys sal nie volledig wees sonder ’n uitstappie na ’n kosmark nie. Neem die metro na Denfert Rochereau en draai in Rue Daguerre in. Die straat is die tuiste van een van Parys se bekendste kosmarke. Alles van vars vrugte tot oesters en perdevleis word hier verkoop. Probeer een van die delikastesse vir ontbyt.

11:00 Die Katakombes is net ’n klipgooi weg van die Rue Daguerre. Dit is omtrent soos ’n ondergrondse stad, met grotte en tonnels wat eens op ’n tyd Parys se myne was. Kopbene, bene en grafstene vorm nou deel van kilometers van ondergrondse tonnels.

As jy van makabere uitstappies hou, is 'n besoek aan die Katakombes beslis 'n besoek werd. Foto: Wikimedia Commons

As jy van makabere uitstappies hou, is ‘n besoek aan die Katakombes beslis ‘n besoek werd. Foto: Wikimedia Commons

13:00 Aangesien jy nou tussen die dooies ronddwaal, neem die metro na die Père Lachaise-begrafplaas. Parys se grootste begrafplaas bevat die oorskotte van die wêreld se bekendste kunstenaars en skrywers, wat mense soos Oscar Wilde en Doors-sanger Jim Morrison insluit. Vir middagete kan jy stop by die Koerdiese restaurant Zagros op die rue Chemin Vert vir eenvoudige maar smaaklike kos.

Die Père Lachaise-begrafplaas, waar Doors-sanger Jim Morrison begrawe is.

Die Père Lachaise-begrafplaas, waar Doors-sanger Jim Morrison begrawe is.

14:00 Jou laaste stop is by die wêreld se bekendste straat, die Champs Élysées. Hier moet jy maar net kyk, want die pryse hier word die hoogtes geskiet deur die duur huur wat winkels en restaurante op die stukkie gesogte eiendom moet opdok. Een ding wat wel die moeite werd is, is om die makrolletjies by Ladurée te probeer, dié bakkery maak glo die beste makrolletjies in die wêreld. ’n Dosie met 8 van die koekies kos ’n koel € 17.80, dis amper R30 per makrolletjie! Tog is die moeite werd om die heerlike happies te probeer, wat net as twee stukkies geluk wat met liefde aanmekaar gesit is, beskryf kan word. -Aanvullende bron: Reuters Life!

Makrolletjies van die bekende Ladurée-bakkery.

Makrolletjies van die bekende Ladurée-bakkery.

 


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 thoughts on “‘n Naweek in Parys

  • Reply
    Linda

    Dis baie moontlik om Parys in 48uur te doen, my vraag is…hoekom sal ek dit wil doen? Ek LOVE daai stad.

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Hi Linda, ons stem heeltemaal saam! Die Louvre alleen is ‘n hele naweek se besoek werd. Parys word egter meer van ‘n ‘hub’ met aansluitingsvlugte na regoor die wêreld. Baie mense besluit om vir ‘n dag of twee aan te bly en die hoogtepunte te sien. Ons hoop die gids van ‘hooftrekke’ sal hulle darem op die regte pad sit. Maar om die stad regtig te ervaar en onder haar vel te kom het jy nogal ‘n tydjie nodig om te verwyl.