Gerda van den Bos, ’n Graskop-inwoner vertel van haar gunsteling-doendinge in die pragtige dorpie.

Soms vergeet ek, ek bly in ‘n vakansiedorp. Dis nie moeilik om te begryp waarom reisigers gaande is oor Graskop nie. Ek dink dit is die omgewing. Ons sit hier tussen die berge, bo-op die Platorand. Kyk in enige rigting en jy sien net berge en plantasies. Boonop is hier aktiwiteite vir almal, of jy nou ’n adrenalienslaaf is, of sommer net opsoek is na ’n luilekker naweek

Vir die avontuurlustiges

Laat die adrenalien deur jou bloed vloei deur te gaan swaai op die Big Swing, een van die wêreld se hoogste brugswaaie. Jy kan ook die bosse gaan verken saam met ons plaaslike DJ/staalkunstenaar en motorfietsentoesias, wat jou oor die berg, na Pelgrimsrus sal neem. Dit is ook die moeite werd om God’s Window uit te klim tot heelbo. Selfs die fikste van die fikste stappers trap so bietjie klei, want dis hoog, baie hoog. Dis egter die moeite werd want daar doer bo, op God’s Window is ’n stukkie versteekte reënwoud.

Gorge Waterval

As adrenalien deur jou are druis, kan jy gaan brugswaai by die Big Swing.

Vir die stille rus-en-vrede-soeker

Begin jou dag met ’n lekker ontbyt by die Busy Bee-koffiewinkel, oorkant die poskantoor. Die winkeltjie is maklik om te kry. As jy van Sabie se kant af inkom, ry oor die treinspoor, draai links by die stopstraat en weer links by die volgende stopstraat. Die winkel sit heel regs in die hoek. Dié koffiewinkel is deel van Graskop se enigste kwekery. Denise is aan bewind van sake hier en sy is altyd gereed met vriendelike diens en baie lekker kos. Bestel een van hul koeke, ek kan dit regtig aanbeveel.

Busy Bee koek-2

Die fyngebak by Busy Bee is uit die boonste rakke.

Nou is dit tyd vir inkopies doen.

Los sommer jou motor net daar en stap af met Louis Trichardstraat, verby die biblioteek en munisipale kantore tot by die straatsmouse se kleurryke stalletjies. Drentel verder aan en verlustig jouself in alles wat The Window jou bied, van klere tot by speelgoed. ’n Hanetree verder is die Digger’s Hut. Hier moet jy beslis stop en eers ‘n foto laat neem. Dit is nie sommer enige ou foto nie. Daar is ’n verskeidenheid van outydse kostuums waarin jy kan optof en die foto word in sepia gedruk. Het jy Billy The Kid-aspirasies? Poseer sommer met jou hande en kop op ’n blok vir ’n regte “Wanted” foto uit die Wilde Weste se dae.

Poseer vir 'n foto uit die Wilde Weste se dae.

Poseer vir ‘n foto uit die Wilde Weste se dae.

Net langs Digger’s Hut verken jy die wonderwêreld van Africa Silks. Die kleure en ryk teksture van die sy betower jou onmiddelik. Gaan drink ’n koffie in hul piepklein koffiehoek, voor jy na agter gaan. Hier wys die vroue jou presies hoe word ’n sywurmkokon uiteindelik omtower in ’n syserp. Kry sommer ook die aanwysings en telefoonnommer na die syplaas toe. Dit is Suid-Afrika se enigste sywurmplaas en beslis ’n besoek werd. Hier sien jy hoe die sywurms opgepiep word met ’n verwarmer. Jy hoor ook hoe klink dit as duisende sywurms tegelyk aan moerbeiblare knibbel.

Die Africa Silks-sywurmplaas

Die Africa Silks-sywurmplaas.

Terug in Louis Trichardstraat, loop vir interessantheid aan die anderkant van die straat terug. Jy sal verby die bekende Harrie’s Pancakes stap…as jy die honger-word reuke kan weerstaan. Hul pannekoeke val in ’n ander klas. Verlustig jou in die sjokoladewinkeltjie en maak ’n draai in die curiowinkel voordat jy weer die motor bereik.

Kies jou roete

Jy kan of reguit met die pad af ’n slapdraai na links maak en die Panorama-roete aandurf, waar die Pinnacle, God’s Window, Wonderview, Lisbon en Berlin-watervalle op jou wag. Draai regs en gaan kyk hoe die avontuurlustiges die stilte met hul gille versteur terwyl hulle oor die afgrond swaai. As jy oorslaap, kry jy kans om die Graskoppers te ontmoet. Ons is maar ’n unieke spesie, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Die pragtige uitsig by God's Window.

Die pragtige uitsig by God’s Window.

Bly hier

‘n Dagbesoek in Graskop is lekker, maar ’n langnaweek is beter. Graskop is sentraal geleë en jy kan ’n besoek aan die Kruger Nasionale Park inwerk, Sabie se koffieplaas besoek, al die watervalle gaan besigtig (daar is baie) en met die Panorama-roete langs kuier tot by Bourke’s Luck se kolkgate en die Blydepoortdam.

Reis terug na ’n 17de eeuse sprokie by die Flycatcher Castle. Dis ideaal vir romantiese wegbreke en as jy opsoek is na ’n bietjie Victoriaanse oordaad.

Settler’s Village bied bekostigbare, selfsorg verblyf in fraai, pionierstyl-huisies. Hierdie selfsorgkothuise voorsien twee enkelbeddens of een dubbelbed elk en verskaf slaapplek vir twee.

Die Mulberry Lane Suites het elk ’n jacuzzi en is weggesteek tussen die moerbeiboomplantasies by die African Silks-sywurmplaas. Dis bekostigbare luuksheid op sy beste.

Sheri’s Lodge & Backpackers het 10 rondawels en ‘n kamer vir rugsakreisigers beskikbaar. Die eenhede kan tot vier gaste huisves (op ‘n dubbelbed en stapelbed). Hierdie eenhede het ook ‘n verwarmer vir kouer aande. Elke rondawel het ‘n stoepie.

Gerda van den Bos is ‘n vryskut-joernalis en sosiale media bestuurder van Graskop Nuus. Besoek die webblad vir meer toerisme-inligting oor Graskop en sy aantrekkings of “like” hul Facebook-blad.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *