Annami Mailovich se reismaat na Indië het twee weke voor hul vertrek koue voete gekry . . . en op dié reis was Eva’s haar reisengele.

Sowat twee weke voordat ek en ’n vriend op die vliegtuig Moembai toe moes klim, kry ek ’n oproep: “Ek gaan so 20 dae laat wees vir ons maand lange reis.”

Hy moes sy suster se gradeplegtigheid bywoon.

Nie wat ek in só ’n laat stadium verwag het nie. Ek brom ’n bietjie, maar kom gou daaroor – my opgewondenheid oor die reis wat voorlê, is sterker as my teleurstelling.

’n Paar dae later kry ek nog ’n oproep. Hy reis nou glad nie meer saam nie. Sy werk stuur hom Frankryk toe.

Voor ek myself kon keer, sis ek: “Weet jy wat, dit is nie okay nie . . .  ek kan om die waarheid te sê nie nou met jou praat nie,” huil-sê ek van woede en smyt die foon neer.

Ek het Indië altyd voorgestel as ’n eksotiese, byna magiese bestemming, maar dit was ook die laaste land ter wêreld wat ek alleen wou aandurf.

Maar ek was ’n jaar en ’n half laas behoorlik met verlof. En ek sit met ’n retoer-vlugkaartjie na Moembai.

“Basta met die vertwyfeling. Ek gaan,” sê ek hardop aan myself.  Het mos nog altyd ’n bietjie waagmoed gehad.

Die Subkontinent 

Só gebeur dit dat ek die eerste aand in Indië in ’n verskuilde hotelletjie in die Moembaise voorstad Andheri East beland.

Klein hotelletjie.

Die Sapphire Residency, ‘n skoon, dog derderangse hotelletjie in die Moembaise voorstad Andheri East.

En in ’n restaurant waar alkohol bedien word. En ek sien nét mans.

Ek het my mede-Eva’s se raad onthou:  Dress code: so min as moontlik moet uitsteek.

Moembai is ’n malhuis: Iets eenvoudigs soos om ’n straat oor te steek, raak ingewikkeld en is gevaarlik.

Die eerste keer was ek huiwerig en kon nie vinnig genoeg agter iemand anders inwurm om saam die pad oor te steek nie. Twee meisies het my uit die bloute aan die hand kom vat en ons is saam oor.

Toeris-toeris

In Nieu-Delhi neem ek ’n bustoer: een wat tempels, parlementsgeboue en te veel museums insluit.

Dit is te danke aan my reisagent – die man met die tulband, raafswart oë en welige baard. Ek glo alles wat hy in ’n rustige stem aan my oorvertel.

Een van die tulband-man se gesante gryp my aan die hand en ons haal die bus nét betyds.

Om my is daar nét Indiese gesigte. Skielik voel ek baie bleek (van gelaat) – en effe op my senuwees.

DSC01487

Op die Hindi-bustoer in Nieu-Delhi.

Ek kan nie eers mooi verstaan wat nou aangaan nie. Voorlangs sit ’n groep mans met wit knopieshemde wat lyk asof hulle op ’n kerkuitstappie is. Agter giggel ’n groepie studente.

“Am I on the right bus?” vra ek aan die ewe verwarde toergids terwyl ek die opgefrommelde voucher wat die tulband-man in my hand geprop het aan hom oorhandig.

Hy knik en beduie dat ek langs een van die swetende “kerkmans” moet gaan sit.

“You are on a Hindi-tour,” sê die toergids in sy sukkel-Engels.

Toe wou ek giggel. “Wel, hier is ek nou,” dink ek.

Die “kerkmanne” probeer almal ’n beurt kry om met my te gesels terwyl hulle ogies maak. Die een het besluit ek is sy persoonlike fotograaf en raak sommer befoeterd as ek nie dadelik na sy pype dans nie.

Een van die studente vat my weer aan die hand. Preeti Bhagwati is ’n 20-jarige ingenieurswese-student wat my al by die eerste tempel “gered” het.

My ouderdom en ongehude status het baie belangstelling op die bus gewek.

Ek en Preeti gesels later op die grasperk langs Mahatma Gandhi se graf.

Sy sê grootoog: “I wish I was independent like you . . . I don’t want to get married yet.”

DSC01575

Mahatma Ghandi se graf in Nieu-Delhi in Indië.

DSC01533

Preeti Bhagwati, die barmhartige Samaritaan.

Ewe grootoog

Later op my reis bevind ek my op ’n smal bergpaadjie naby Mukhteshwar, Uttarakhand in die noorde van Indië.

Annakarin Svedberg is 79 jaar oud. In haar jong dae het sy baie tyd in Indië deurgebring en het selfs met Indira Gandhi bevriend geraak. Sy het ook agt jaar in Dharamsala gebly.

Dié bejaarde Sweedse vrou moet dié steil paadjie trotseer om vir oulaas tyd in haar geliefde Himalajas deur te bring. Met elke moeisame treetjie wat sy gee, dink ek: “Ek wil soos jy wees.”

Die ashram waarheen ons onderweg is, is in die voue van die bergreeks versteek, synde dié gebied so moeilik bereikbaar is.

Só gebeur dit dat ek en Annakarin, skrywer en fortuinverteller – agter die groot groot sneeupieke aan – al met die kronkelpaadjies langs sukkel.

In die middag moes sy ’n bietjie gaan lê. Dit was ’n lang dag.

Voor ek die volgende oggend moes vertrek, het sy eers my “kaarte” gelees. Blykbaar het ek nog nie my “prins” ontmoet nie.

Haar laaste en énigste oorblywende versugting bly my by: Om van China af per trein tot diep in Tibet te reis.

Ek wil ook.

 

Die fortuinverteller - Annakarin Svedberg.

Die Sweedse fortuinverteller en skrywer Annakarin Svedberg stap rus-rus tot by die ashram waar sy gebly het toe sy vir oulaas haar geliefde Himalajas besoek het.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “’n Gids vir elke pad

  • Reply
    Anel Swart

    Liewe Annami,ek kan so saam stem met jou storie.Ek werk,woon en speel hier in Indie vir net langer as n maand lank.Iemand baie wys het op my eerste dag vir my gese “there is something about this place,but you’ll only know once you leave”.Elke dag is nog n skok vir die sisteem maar dit bly n belewenis!!:-D