Die Mount Grace Country House & Spa net buite Magaliesburg in Gauteng is ’n behoorlike bederf-wegbreek, skryf Daniëlla van Heerden. En wanneer jy hier met ’n glasie vonkelwyn in die hand sit en kyk hoe die son sak, is dit moeilik om te glo jy was minder as twee ure gelede nog vasgevang in ’n vieslike Sandton-verkeersknoop.

“Dit sou nou lekker gewees het,” sê ek en kyk verlangend na die seepgladde oppervlak van ons villa se private plonspoel. “Net jammer dis so vrek koud.”
Die water lyk inderdaad aanloklik, so met die uitsig oor Magalies en sonsondergang wat die prentjie vanaf ons Mount Grace-villa se stoep perfek afrond.
Manlief gaan druk egter sy hand en die water en begin dan sommer sy skoene uittrek.  “Dan is dit seker ‘n goeie ding dat dit verhit is,” verklaar hy.
Maar my stadsnukke het duidelik nog nie gewyk nie. “Maar…ek’t nie my swembroek ingepak nie.”
Hy sug . “En jou punt is…?”
Ek kyk rond. Hier is inderdaad niemand – buiten die suikerbekkies en mossies wat langs die plonspoel op ’n tak baljaar – wat ons kan raaksien nie. 
En hulle lyk veel meer geïnteresseerd in die doringboom as twee Johannesburgers se langnaweek.
Ek gaan druk ook my voete in die water. Hemels. “Ek gaan haal vir ons handdoeke!”

Die verhitte plonspoel is 'n groot bederf in die winter. Foto's Cornel van Heerden

Die verhitte plonspoel is ‘n groot bederf in die winter. Foto’s Cornel van Heerden

Die verhitte plonspoel is maar net één van die aspekte wat van Mount Grace die perfekte winterswegbreek maak.
 Ons villa het ook ’n gaskaggel, ondervloerse verhitting en – welgeluksalig!- ’n Nespresso-masjien.
Dis só knus dat ons oorweeg om die hele naweek slegs tussen die bed, bank en koffiemasjien te beweeg; maar die eerste aand se besprekings is reeds gemaak by die bekroonde Rambling Vine à la carte-restaurant.
Dis skaars 10 minute se stap teen die steilte af na die restaurant, maar dit word al hoe kouer. En omdat dié ’n bederf-naweek is, maak ons gebruik van die gholfkarretjies wat gaste enigetyd op-en-aflaai .
Reeds met die eerste glas wyn en voorgereg vergeet ons van die planne om in ons villa te bly – die diverse spyskaart nooi jou op ’n kulinêre reis. 
Drie ure, vyf gange en ’n bottel wyn later word die gholfkarretjie weer ingespan om ons terug te vat villa toe. 
Dis moeilik om te glo Mount Grace is skaars ‘n uur se ry van die Goudstad af – die lug is skoon en vars en die aandstilte is ‘n welkome verandering. 
Ons skakel alle moontlike alarms en selfone af om seker te maak ons kan laatslaap.

Die Rambling Vine is 'n fynproewers-restaurant op die perseel van die Mount Grace.

Die Rambling Vine is ‘n fynproewers-restaurant op die perseel van die Mount Grace.

Die laat ontbyt (dankie tog dit word tot 10.30 bedien, want ek kon my wynlyf eers 09:00 uit die bed sleep) is net so ’n dekadente affêre – buffet-styl met te veel opsies om van te kies.
’n Omelet, glas sjampanje en wafel later besluit ons om dié keer maar liewer die bult terug villa toe te voet aan te durf. 
Dis veral Mount Grace se boustyl wat my opval – dit is elegant en skakel in by die omgewing. Geen aangeplakte tema hier of oordrewe Afrika-dekor om oorsese toeriste tevrede te stel nie.
Klip en neutrale kleure oorheers, met sagte mentgroen aksente wat ’n tikkie modern by die klassiek voeg.

Die villa’s en wooneenhede is teen die heuwel gebou en wanneer jy die dorpie Magaliesburg inry, is Mount Grace nie ’n seer oog nie – inteendeel, as jy dit nie reeds besoek het nie, sal jy dit nie sommer raaksien nie.
‘n Paar uur se boeklees later besluit ons dat die stappie tussen die restaurant en villa nie veel van die oormaat kilojoules wat tydens ontbyt verorber is, gaan verbrand nie.

Trek jou tekkies aan en gaan verken die hotel se landgoed - Na 'n dekadente ontbyt sal dit beslis jou gewete sus.

Trek jou tekkies aan en gaan verken die hotel se landgoed – Na ‘n dekadente ontbyt sal dit beslis jou gewete sus.

Boonop het ek nog nie die hele oord gesien nie.
Hier is ’n gimnasium by Mount Grace, maar wie wil dan nou op die trapmeul gaan hardloop as jy by trappies kan op en af hardloop met ’n waterval en ’n uitsig? Of kan bergfiets ry in die talle paadjies in en om die oord? 
Indien laasgenoemde egter nie genoeg adrenalien vir jou is nie, is daar baie opsies in die nabye omgewing om die bloed deur jou are te laat bruis: van perdry en vlieghengel tot warmlugballonritte en sweeftuie. Of jy kan in die Wieg van die Mensdom se grotte gaan rondkruip.
My drafsessie (veel meer uitdagend as verwag weens die stywe bulte) is net betyds klaar sodat ons in die villa op TV kan kyk hoe die Bokke vir Wallis ’n stewige loesing gee. 
Ná nog ’n aand van uitrus voor die kaggel sypel die laaste Jozi-spanning uit my lyf.

Die spa is een van Mount Grace se groot trekpleisters.

Die spa is een van Mount Grace se groot trekpleisters.

Die spanning word egter vervang met seer spiere toe ons die laaste oggend van ons winter-wegbreek wakker word.
Die trappe wat ek gistermiddag so oorywerig drie keer uitgehardloop het, lag inderdaad nou laaste.
Die vollyf Sweedse massering wat by die spa wag, is gelukkig beter as enige spier-doepa. 
Mount Grace se spa is alombekend en dis duidelik waarom: ’n luukse gebou met dieselfde panoramiese uitsig as ons villa.
Gaste by Mount Grace kan boonop enigetyd van die fasiliteite gebruik maak – en dit sluit in ‘n verhitte dryf-swembad, stoomkamer en die gimnasium. Dit is ook oop vir dagbesoekers.

Die argitektuur van die hotel is smaakvol en klassiek.

Die argitektuur van die hotel is smaakvol en klassiek.

Mount Grace en sy geriewe maak van die hotel die ideale luukse naweek (of week!) weg. Gauteng se winters is maar vaal, dor en dikwels ongewild by sy inwoners – maar híér word die jaar se koudste seisoen só sexy verpak dat dit sommer stof in die lente se oë skop.
Ek kom ongewtyfeld binnekort weer terug – en dan saam met ‘n spul vriendinne vir ‘n volle dag se bederf by die spa!

Die Mount Grace Country House and Spa het verskeie spesiale aanbiedings tot 15 Desember. Besoek hul webblad vir meer inligting.

Daniëlla van Heerden is ‘n bekroonde TV-joernalis by eNuus en Cornel van Heerden is ‘n bekroonde fotograaf by Foto24. African Pride Hotels het die koste van Daniëlla en Cornel se besoek aan die Mount Grace gedra.

 


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 thoughts on “Mount Grace: ‘n Toevlugoord vir gestresde stadsjapies