Na haar eerste besoek aan McGregor is Carla Lewis-Balden reeds besig om somme te maak om ‘n huisie in die hartjie van die Langeberge te koop.

McGregor is nie een van daai dorpies wat jy raakry nie. Jy ry nie daardeur, op pad na jou strandbestemming of ‘n vakansiedorp nie.
Om by die dorpie uit te kom, moet jy moeite doen. Dis ongeveer twee ure vanaf Kaapstad op die R60 na Robertson, waarna jy afdraai. Dit is egter een van die dinge wat die dorp so aanloklik vir inkommers maak, sê Mira Weiner, nie-amptelike toerismeambassadeur en inwoner van McGregor. Die muse woeker duidelik hier, of dit nou met ‘n verfkwas, of agter die kookpotte is, talle kreatiewe mense het hul heimat hier gevind.
Mira, wat vakansiehuise uithuur by McGregor Country Getaways en bemarking doen vir talle besighede op die dorp, moet ‘n fyn lyn loop. “Natuurlik wil ons mense na die dorp toe lok, maar ons wil ook nie hy moet uit sy nate bars en sy karakter verloor nie.” Hier is drie doendinge as jy vir ’n naweek die dorp besoek.

As jy eers deur McGregor se sjarme oorrompel  word, is dit moeilik om die dorp te verlaat. Foto: Carla Lewis-Balden

As jy eers deur McGregor se sjarme oorrompel word, is dit moeilik om die dorp te verlaat. Foto: Carla Lewis-Balden

Kyk hier: Edna Fourie Galery

“Dit was McGregor se stilte wat my hierheen gelok het, vertel die kunstenaar Edma Fourie. “Dis amper ‘n tasbare vrede wat hier om jou vou.” Edna was voorheen eers ‘n kunsonderwyser in die Kaap, maar wou haarself as ‘n kunstenaar vestig. McGregor was die perfekte plek om dit te doen.
Haar kunswerke, wat by die galery te sien is, gebruik vlug, hergeboorte en vere as die hooftemas. ‘n Mens kan werklik die stilte en rustigheid van haar omgewing in haar kunswerke aanvoel. Sy gebruik gedempte kleure en ‘n rustigheid word binne jou opgewek, wanneer jy in die teenwoordigheid van een van haar kunswerke is.
Een van Edna se gewildste verkopers is haar “Gogga”-reeks, waar sy insekte teen fyn voorwerpe soos ‘n blom of ‘n porseleinkoppie jukstaposisioneer. “My Gogga-reeks wys dat ‘n mens saam met alle lewende wesens kan leef, insluitende goggas. Om op die plaas, tussen die renosterveld te bly het my toegelaat om die waarde van dié klein diertjies te ervaar. Die reeks bring hulde aan hulle. Die kunswerke is klein, propvol detail en gewoonlik in ‘n pragtige raam geplaas.”

Edna is mal oor McGregor se rus en vrede.

Edna is mal oor McGregor se rus en vrede.

Drink hier: Bemind garagiste wyne

’n Mens kry boetiekbier en dan kry jy garagiste-wynmakers. Die gonzo-wynmakers sal gewoonlik ’n druiwekultivar aankoop en toor daarmee in hul eie keldertjie of garage (daarvandaan die naam, garagiste.)
Ilse Schutte se wyn se handelsnaam is nie verniet ‘Bemind’ nie. “Ek wil tydlose , elegante wyn maak wat almal sal geniet. Wanneer iemand ’n bottel Bemind oopmaak, wil ek hê hulle moet dit tot die laaste druppel geniet.” Ilse het by verskeie wynkelders gewerk, totdat sy vanjaar besluit het sy wil haar eie pot (of wynvat) krap.
Tans het sy twee tipes wyne, ’n Méthode Cap Classique en ’n Shiraz waaruit jy kan kies. Die 2014 Shiraz is heerlik, en het ’n speseryagtige nasmaak. Die bottel wat ek gekoop het, het ’n peperagtige neus, gemeng met bessies. Ek het hom voorgesit saam met ’n Marokkaanse tagine terug by die huis, wat ’n treffer was.
My gunsteling was egter die Methode Cap Classique, juis omdat hy so droog is. Die wyn word op die tradisionele Franse metode gemaak as sjampanje, maar Ilse voeg geen suiker of dosage by nie. Op ’n snikwarm Desemberdag in die Langeberge is dit net die ding om langs die swembad te drink. Stuur ‘n e-pos ilse@bemindwyne.co.za. Vir meer inligting bel 083 380 1648 of besoek hul kelder by 45 Voortrekker Street, McGregor, in die Wes-Kaap. Wynproe word per afspraak gedoen.

Bemind se Méthode Cap Classique val in 'n ander klas.

Bemind se Méthode Cap Classique val in ‘n ander klas.

Eet hier: Karoux

Ek is gewoonlik huiwerig oor restaurante wat se spyskaarte te groot is. Wie kan nou soveel bestanddele aanhou en sorg dat dit vars bly?
By Karoux verander die spyskaart gereeld en het jy net ‘n keuse uit drie geregte vir elke gang. Die sjef, Ryan Josten laat nie jou kop draai met te veel keuses nie. Dis hartskos met ’n haute-cuisine kinkel, hul soufflé sal vir Julia Child liries maak en die Oosterse varklies, bedien op noedels en ’n sampioenreduksie het my liries gehad. Hul lamskenkels en kapokaartappels is ook hoogs aan te beveel Die restaurantjie is piepklein en as jy oor ’n naweek kom, moet jy bespreek, mense ry van heinde en verre om Ryan se disse te probeer. Hulle is geleë in 42 Voortrekker Road, McGregor. Bel 084 924 3324 om te bespreek.

Bly hier:

McGregor Accommodation het ’n wye verskeidenheid van pragtige plekke om in te bly, van knus selfsorg huisies tot luukse vakansiehuise en gastehuise. Hulle het ook ’n groot verskeidenheid kinder -en troeteldiervriendelike verblyf. Mira is ’n uitstekende gasheer en sal jou vertel waar in die dorp kry ’n mens die lekkerste ontbyt en waar is die mooiste uitsig.

Die uitsig vanaf The Kite House, waar ons die naweek tuisgegaan het.

Die uitsig vanaf The Kite House, waar ons die naweek tuisgegaan het.

Vir meer inligting bel 023 625 1519 of 076 411 9477 of stuur ’n e-pos aan info@mcgregor-accommodation.co.za.
Besoek die webblad by www.mcgregor-accommodation.co.za.

Die inskrywing is deel van ’n reeks stories wat in die komende weke oor McGregor gaan verskyn. Hou Reismier in die komende weke dop vir meer inligting.


Leave a Reply to Edna Fourie Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Mmm Mmm…Mmmcgregor