Carla Lewis-Balden neem haar man, skoonouers en ouers op ‘n toer deur Italië. Sy moet ook net onthou om die Rescue Remedies in te pak

Om saam met familie te reis is altyd moeilik, veral as jou familie soos myne is. Ons is almal hardkoppig, uitgesproke en ons familierelletjies kan gou vir Don Corleone en sy mafioso-gesin soos welaangepaste lede van die samelewing laat lyk. Wanneer ons baklei, staar mense gewoonlik.

My gesin. Van links is my ma, pa, ek en my man, tydens 'n vakansie in Botswana.

My gesin. Van links is my ma, pa, ek en my man, tydens ‘n vakansie in Botswana.

Ons is almal ook so bietjie verstrooid, wat groot sports afgee, veral as jy teen skemer by die enigste hotel in ’n Botswana-eendonkiedorpie aankom en hoor die bespreking wat jy gemaak het, vir die vorige maand was. En hulle is vol, dankie. Dis nou nadat ek vir my skoonouers oortuig het om saam met my familie op vakansie te gaan en vir my ma en pa ‘n goeie preek afgesteek het om hulself te gedra.

Elke jaar, na die Groot Familievakansie belowe ek myself nooit weer nie. En voor ek my oë uitvee, is dit drie maande later en berei ons onsself voor vir die volgende groot Familie Avontuur. Die waarheid bly staan, beide ek en my man is bevoorreg om steeds albei ons ouers te hê en almal is gesond en aktief. Dis die avonture wat ons nou beleef, wat gaan sorg vir die herrinneringe van more. Al begin dit met “Onthou jy die keer toe ons onwettig op die strand in Mosambiek gery het, en die grenspolisie ons met AK’s gejaag het?” #truestory.
Of “Onthou jy die keer toe Pappa se malariamedisyne hom mal gemaak het en hy jou met die videokamera gegooi het?” #truestory.

Vanjaar gaan ons groot en het ek vir ons ’n Italiaanse avontuur, genaamd die #ReismierAvontuur beplan. Ons reis onafhanklik, wat nie altyd so goeie idee is met ’n familie soos myne nie, maar dit aansienlik goedkoper maak. Een van die beste maniere om geld te spaar wanneer jy reis, is om ‘n groep mense bymekaar te maak. Hoe meer mense, hoe minder geld.

IMG_3643

 

Ek was al twee keer in Italië vir werk en dit bly een van my gunsteling-lande en ’n bestemming wat ek nog altyd met my man, sy en my ouers wil deel. Ek het ons reisplan uitgewerk sodat ek hulle ’n hoogtepunt van alles kan wys, drie dae in Rome, drie dae in Toskane en dan drie dae in die Cinque Terre, vir ’n bietjie son, see en natuur.

Ek het ook nou al verskeie kere by vriende en familie gehoor van hoe oulik Airbnb is en hoeveel geld jy daarmee kan bespaar en het meeste van ons verblyf deur hulle bespreek. My ma en skoonma-hulle hou van bietjie luuksheid en ek het vir ons relatiewe ghrênd woonstelle bespreek, maar hulle kos steeds die fraksie van ’n hotel.

Die realiteit is dat die Euro vir die rand aanhou bloedneus slaan en Europa en veral Italië ’n duur bestemming vir Suid-Afrikaners is. Alhoewel ek nou nie gaan poog om Rome op tien Euro per dag probeer doen nie, is ek opsoek na waarde vir my geld. Ek wil steeds lekker eet en drink, en dit so goedkoop as moontlik doen. Ek wil ook vir jou wenke gee oor hoe jy ’n soortgelyke toer kan aanpak, sou jy dit onafhanklik wil doen.

Volg die hashtag #ReismierAvontuur om op hoogte te bly van ons Italiaanse reis.

Volg die hashtag #ReismierAvontuur om op hoogte te bly van ons Italiaanse reis.

Volg in die komende paar dae die hashtag #ReismierAvontuur om op hoogte te bly van my familie se Italiaanse reis. As jy vrae het oor Italië, veral oor Rome, Siena, en die Cinque Terre, laat waai op ons sosiale mediakanale. As jy enige voorstelle het, of weet waar jy die lekkerste, goedkoopste pizza in Rome kan opspoor, wil ons ook van jou hoor. Meer belangrik, as jy weet van ‘n lekker bottel Chianti-wyn onder vyf Euro, wil ons ook beslis van jou hoor.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 thoughts on “Maak reg vir die Italiaanse #ReismierAvontuur

  • Reply
    Christine du Toit

    Ek reis graag en geniet dit om julle webtuiste te besoek en te lees. Ek gaan vir 10 nagte in San Gimignano bly, eerste helfte van November. Die vervoer na ander dorpies lyk moeilik. Kan julle miskien aanbeveel hoe mens dit moet hanteer? Sal graag Sienna, Volterra en Lucca wil besoek.