Die buitelandse korrespondent Hannes Myburgh het die fout gemaak om in die donker by sy nuwe blyplek aan te kom. ’n Vreemde land, ’n nuwe taal en versengende hitte het hom in Maputo begroet. Hy skryf hoekom sy eerste goeie indrukke van dié kusstad eers die volgende oggend kon kom.

Maputo

Met sonsondergang gloei die Mosambiekse hoofstad, Maputo, oor die baai. ‘n Heelwat minder intimiderende vooruitsig. Foto: Hannes Myburgh

Kyk, twee dinge vermy jy wanneer jy na ’n wildvreemde stad in ’n nuwe land  trek: jy suiker nie in die nag daar in nie en jy vorm ook nie ’n mening oor dié stad op ’n leë maag en sonder ’n goeie nagrus nie.

As Maputo my ’n paar goed geleer het, is dit nou dié twee lesse.

Ja, in retrosprek het die land my betower met kaffeetjies, 2M (Dos M)-bier en ’n uitsig oor die wye baai. Soggens was daar koffie terwyl die president se motorkade verbyjaag werk toe in die woeilige middestad. Ek onthou soel subtropiese aande met Latynse musiek met die stormsee langs jou . . .  ’n eksotiese taal en die beste hoender en vis wat jy nog in jou lewe sal teëkom.

Maar voor dit moes ek eers ’n Mosambiekse doeane-beampte by die Komatipoort-grenspos omkoop om my groen Fiat – gelaai met al my aardse besittings – deur te laat, op pad om joernalis-joernalis in ons buurland, Mosambiek, te speel.

Die kontras met Suid-Afrika tref jou dadelik. Aan Mpumalanga se kant staan die piesangplantasies en landerye so ver as wat die oog kan sien. Reg oor die grens is jy nog in dieselfde klimaatstreek, maar ongerepte bos strek vér anderkant die horison.

Dan die laaste 100 km Maputo toe, ’n afdraai, en ’n blindelingse aankarring in die donker tot in die hoofpad, Avenida 24 de Julho.

Dis net motors en ligte en mense en hitte en deurmekáár. Váderland! Waarin het ek myself begeef?(!)

Daar vind ek toe heel toevallig my tydelike blyplek op die tweede vloer van ’n woonstelblok. Die karige woonstel sonder meubels en vensters wat te min weerstand bied teen die gille van plaaslike (straat?)kinders wat in die verlate motor onder in die pad speel.

maputo_night

In skrille kontras met die helder, subtropiese seestad bedags is Maputo snags ’n vreemde stad met donker systraatjies. Foto: Hannes Myburgh

“Você é o novo jornalista?” vra my landlady my in Portugees. “Is u die nuwe joernalis?” Ek verstaan skaars, maar kry darem ’n “si” uit.

Ek kyk die storie so – ’n ou matras op die vloer en ’n toegespykerde ou gebou van die toendertydse joernaliste-vereniging oorkant die pad en besluit net daar as ’n mens van depressie sal doodgaan, is dit nou in dié woonstel.

Ek kan skaars my eie naam in Portugees sê, maar ek wandel toe die stad in op soek na iets te ete en stop by die eerste en die beste plek met helder ligte. My klere is nog aan my lyf vasgesweet en Maputo kan ’n bedompige plek wees.

Daardie eerste vetterige hoenderbredie was balsem vir my siel. En natuurlik yskoue 2M-bier. Dit was ’n goeie vriend se gunsteling en het my herinner aan die geliefdes wat ek in Suid-Afrika agterlaat.

Terug by die woonstel val ek soos ’n vrot vel plát op daai matras en slááp ek toe lekker in die 35-grade hitte!

Die volgende dag raas die verkeer my wakker. Mosambiek skitter in helder kleure: strate, geboue, bome, mense, klere. Dit leef. ’n Plek vol potensiaal, vol stories en senutergende beloftes.

Soos nag en dag

Maputo verskil soos dag en nag van mekaar … bedags is dit ‘n “vriendelike”, kleurvolle stad. Foto: Hannes Myburgh

Hiermee kan ek deal, vertel ek aan myself.

Ek trek drie dae later by mense in wat oor die volgende twee jaar sielsvriende sou word, en ’n hele nuwe wêreld gaan voor my oop.

Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

 

 


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Maputo: Wenke vir ’n nuweling

  • Reply
    Antoinette Opperman

    Whaau Hannes!
    Amazing storie!! Dit laat my net weer besef dat elkeen van ons in sy eie ou mishoop sit en nikkkks weet wat in ons familie se lewens aangaan nie!
    En ek deel jou empatie …sou graag meer wou weet. My nuuskierige geaardheid kry my onder! Ken jy vir FOMO…fear of missing out!
    Van huis tot huis!
    Baie liefde