Yolandi Groenewald kon nie genoeg kry nie van geel Thaise kerrie op Kho Ya Noi, ’n klein eilandjie langs die kus van Phuket.

photo 4

“Die sjef by ons hotel, Kho Ya Noi Pavillions se La Sala restaurant, het tradisionele Thaise kookkuns vermeng met Franse fynproewerskos.

“Sedertdien het ek hard probeer om haar geel kerrie te repliseer en vandeesweek se poging was nie versmaai nie. Dit was ook net betyds vir die eendeweer. Dit bring die sonskyngeure van Thailand binne jou huis as dit nat en triesterig is.”

Bestanddele

2 koppies baba-mielies, opgekap

5 klein preie, opgekap

3 klein uie, opgekap

halwe pynappel, in blokkies gesny

1 teelepel fyngedrukte knoffel

1 teelepel fyngedrukte gemmer

1 teelepel sonneblomolie

een 270ml blik klapperroom

1/4 koppie Thaise geel kerriepasta

een en ‘n 1/2 koppie hoenderaftreksel

een 270ml blik klapper melk

1kg medium garnale dermpie verwyder en skoongemaak

1 eetlepel gerasperde palm suiker

2 eetlepels vissous

1 eetlepel lemmetjiesap

1/3 koppie vars koljanderblare, opgekap

1 lang, rooi brandrissie, fyn gesny

Metode

Verhit ’n wok oor hoë hitte en voeg olie by. Wanneer die olie warm is, voeg die opgekapte preie en uie by en roerbraai vir ‘n minuut. Voeg dan die pynappel en babamielies by, saam met die gemmer en knoffel en roerbraai tot gaar maar steeds ferm en krakerig. Sit die groente eenkant

Vee die wok skoon met handdoekpapier. Skep die dik boonste laag van die klapperroom in die wok.Verhit oor medium hitte, en roer so nou en dan vir 6-8 minute of totdat die olie skei en begin dryf. Voeg die geelkerrie pasta by. Roer vir 2 minute of tot die kerrie se geur begin uitkom.

Voeg geleidelik die hoenderaftreksel, klappermelk en oorblywende klapper room in die sous. Bring tot kookpunt. Verminder die hitte na medium-laag. Prut tot die mengsel effens verdik.

Voeg die groentemengsel (pynappel, uie en mielies) by en laat dit vir nog 10 minute prut. Verhoog die hitte weer tot medium en bring tot kookpunt. Voeg garnale by.

Kook vir 2 tot 3 minute of tot die garnale pienk word. Roer die palmsuiker, vissous en lemmetjiesap by. Sit die hitte af en gooi die koljander blare en rissie bo oor die kerrie.

Laat staan vir 5 minute. Bedien saam met basmati -of jasmynrys.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *