As jy die ware Kroasië wil ervaar, vermy die groot passasierskepe en oorweeg eerder plaaslike verblyf in ’n klein vissersdorp op een van die eilande, skryf Carla Lewis-Balden.

As ek terugdink aan die dorpie Lumbarda, op die oostelike deel van Korčula, ’n eiland langs Kroasië se Dalmatiese kus, sien ek vier kleure in my geestesoog: Die gryspers laventel van die berge op die agtergrond, die donkergroen van die wingerde, die surrealistiese akwamaryn van die Adriatiese See en die spatsels terracotta van die teëldakke.
Ek en my man het uitgesien na ’n paar dae van rus en vrede nadat ons in die gewemel van Dubrovnik soos ware toeriste deur ou kerke, katedrale en museums geblits het.

Die dorpie Lumbarda.

Die dorpie Lumbarda.

Lumbarda is ’n rustige dorpie omring deur wingerde en wit strande. Val Apartments, waar ons gebly het, het ook verskeie pluimpies op die webwerf tripadvisor.com ontvang, waar reisigers lofpsalms oor die eienaar, Toni Samardzic, se gasvryheid en kookvernuf kwytgeraak het.

Samardzic lyk soos die stereotipe van die joviale Mediterreense oupa wat ’n mens in rolprente soos A Good Year sien. Die Franse bry word net vervang deur ’n harder Slawiese klank, maar met ’n sonbruin vel en ’n wynglas permanent in die hand is hy die toonbeeld van die goeie lewe.
Hy het lank reeds die stedelike lewe as ’n sjef in Split, een van Kroasië se grootste stede vaarwel geroep en bedryf nou ’n soort losieshuis vir toeriste in Lumbarda.
Sy grootste uitdaging, vertel hy, is om vir sy gaste ’n ordentlike ontbyt aanmekaar te slaan as hulle ’n besonderse vroeë veerboot moet haal. Moet hom ook net nie tussen 14:00 en 16:00 pla met ’n versoek nie, want dan vat hy sy daaglikse siësta.

tuxpi.com.1397565470

Die Adriatiese see. Ja, dit is regtig so blou!

Sit jy op sy bougainvillea-gedruipte stoep op die see en uitkyk, word jy genooi (of eintlik beveel) om ’n glas wyn of ’n knertsie tuisgemaakte kersiebrandewyn saam met hom te geniet. “You drink cherry brandy!” beveel Toni, voor daar ‘n glas van die donkerrooi vloeistof in jou hand geprop word. Dié word in groot glashouers op sy stoep gefermenteer en sy gaste verwys daarna as Samardzic se “moonshine”.
So verdag as wat dit mag klink, is tuisgemaakte likeurs ’n trotse tradisie in Kroasië.
Amper almal het die een of ander verdagte brousel op hul stoep, balkon, of vensterbank – en almal wil jou ’n proetjie daarvan gee. Party is glad en heerlik; ander, soos die Bosnian Spesiality (sic) herinner aan verfverdunner.
In die laatmiddag kom die buurman Harold die Engelsman, wat sy kinders se erfporsie op ’n vakansiehuis in Lumbarda en ‘n Thaise vrou verkwansel het, gewoonlik verby Samardzic se huis gewandel, reeds ’n bottel wyn voor.
Elke aand vertel hy vir ons hoe vies sy kinders vir hom is en elke aand moet Samardzic hom taktvol probeer verwyder voordat hy ’n laspos van homself maak.
Dit is egter Samardzic se kos, gekombineer met ’n poskaart-uitsig van sy stoep, wat dié plekkie een van die mees gesogte adresse op Korčula-eiland maak. As jy besluit om by Samardzic te eet plaas jy in die oggend reeds jou bestelling sodat hy al die produkte op die plaaslike varsproduktemark kan koop.
Ryk seekosrisotto deurdrenk met elke moontlike kreatuur in die Adriatiese See wat kan kruip of swem, vars vis gebak in foelie met Mediterreense groente en kruie, heel calamari op die vuur gerooster, paprika-bokmelkkaasslaai en varsgebakte brood is maar van die disse waaronder ons tafel gekreun het.
Lumbarda is ook ’n paradys vir buitelugliefhebbers en daar is talle stap- en fietsroetes waar jy Samardzic se seekosrisotto en kersiebrandewyn kan afstap.

Die pad wat ons kies, kronkel verby die dorpie en die plaaslike strand voordat dit weg- swenk na die binneland. Hier loop jy weer deur wynplase, met rooidakvillas wat plek-plek kop bo die groen massa uitsteek.
Die eiland is ook oortrek van die ou bouvalle van antieke beskawings soos die Grieke, Romeine en Illiriërs dit deur die eeue bewoon het.

tuxpi.com.1397565331

As jy gaan gaan stap op die eiland word jy met uitsigte soos dié beloon.

Later kronkel die voetpaadjie deur denneboomwoude, met nog kronkelpaadjies wat weer wegbreek na die see se kant.
As jy dié paadjies volg, loop hulle uit op rotsstrande waarvan sommige kaalbaai toelaat.
Dié natuuurlike voorkoms is te gewaagd vir ons Calvinistiese opvoeding en ons maak ons tuis op die Vela Przina-strand, wat gewild onder families en toeriste is.
Later besoek ons ’n wynplaas waar ons ’n sogenaamde grk-wyn proe, ’n witwynkultivar wat op Korčula verbou word. Die woord “grk” beteken letterlik “bitter” in Kroaties.
“Dit klink of jy ’n post nasal drip moet hê as jy die naam sê,” sê-grap my man. Ek dink eerder die naam is ‘n verwysing na die geluid wat ‘n mens maak wanneer jy die wyn drink. “Grk-grk.” Nee dankie, dan vat ek liewers maar ‘n chardonnay.
Toe ons die veerboot vroeg die volgende oggend moes terug neem Split toe, is dit of daar ’n melancholiese Sondagmiddag-atmosfeer oor die boot hang.
Maar soos die pers berge op die horison verdof en die boot by die hawe uitvaar, bly die kleure van Lumbarba steeds glashelder in my geestesoog.

tuxpi.com.1397565222

Wingerde waar die grk-kultivar druif gegroei word.

Voor jy reis

Veerbote van die maatskappy Jadrolinija vertrek in die somer- en lentemaande daagliks van Split en Dubrovnik na Korčula. Besoek www.jadrolinija.hr vir tye en pryse.

Samardzic verskaf ’n gratis taxidiens vir sy gaste en sal jou by die hawe gaan oplaai en weer aflaai.
Besoek Val Apartments se webwerf by www.korcula-val.com of stuur ’n e-pos na info@korcula-val.com vir nog inligting. Besprekings is noodsaaklik; tot ses maande voor die tyd as jy in die somermaande wil gaan.

Suid-Afrikaners het ‘n visum nodig om Kroasië te besoek.

Toni se kersie-moonshine

Jy benodig
Ongeveer 1 kg ryp
kersies, gewas
4 k suiker
halwe liter grappa
’n groot, gesteriliseerde glashouer
Metode: Plaas die kersies in die groot glashouer, bedek met die suiker en plaas dit op ’n plek waar daar die hele dag volson is. Los dit daar vir 40 dae. Ná 40 dae, maak die houer oop, gooi die halwe liter grappa in en laat staan vir nog ’n dag


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Korčula: Die ware kleure van Kroasië

  • Reply
    martie Smith

    Toer graag maar met treurige rand Is dit maar effe moeilik. Hoe bekombaar is n visum? Die taal kwessie? Watter tyd van die jaar is beste en goedkoopste?

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Hi Martie
      Die kuna is darem nie so erg soos die euro nie, tans is dit min of meer R1.8 vir een Kuna. Jy het wel ‘n visum nodig om Kroasië te besoek en die vereistes is maar dieselfde as vir ‘n Schengen. Vir meer inligting kyk hier.http://za.mfa.hr/?mh=331&mv=2046. Wat ek wel kan sê is dat dit steeds goedkoper is as lande soos Italië en as jy in die klein vissersdorpies langs die Adriatiese kus bly, dan is dit maar soos die Kaapse pryse tydens piekseisoen. Dubrovnik is duur, maar een van die mooiste stede wat jy in jou lewe sal besoek. Die mense sukkel met Engels, maar hulle is altyd vriendelik en gewillig om jou te help. Met stomstreke kom jy ver. Ons het die land aan die begin van Junie besoek, dit was besig, maar nie ‘n vertrapping nie. As jy wil swem, sal ek laat Mei tot middel-Junie voorstel en weer September. Julie en Augustus is die besigste en duurste. As jy nog inligting soek, of hulp nodig het met ‘n reisplan, stuur ‘n e-pos na info@reismier.com. Ons help graag.