Landbouweekblad se kosredakteur Arina du Plessis gee drie maklike resepte met kaas.

Franse uiesop met kaas-croutons

Arina onion soup (425x640)

Franse uiesop is ’n eenvoudige, ekonomiese resep, maar dit bly ’n staatmaker-dis. Die reuse kaserige croutons komplementeer die diep, aarde geure van die sop.

Jy benodig

6 groot uie, in dun ringe gesny

60 ml botter

1,5 l beesaftreksel

30 ml gesmelte botter, gemeng met 15 ml koekmeel.

1 medium Franse of Italiaanse brood, in skywe gesny

Olyfolie om oor die brood te sprinkel.

60 ml bloukaas, gekrummel

60 ml Parmesaan-kaas, gerasper

60 ml sterk Cheddar-kaas, gerasper

Metode

Plaas die uie saam met die botter in ’n kastrol. Verhit stadig totdat die uie liggies verbruin. Bedek die pot en smoor die uie tot hul sag is. Verwyder die deksel en braai die uie tot hul ligbruin en gekarameliseer is.

Voeg die aftreksel by en verhit totdat dit begin kook. Laat dit liggies prut vir ongeveer 15 minute. Meng die gesmelte botter en koekmeel en verhit in die mikrogolfoond tot dit kook. Meng nou ’n teelepel van die mengsel by die sopmengsel, terwyl jy dit stadig roer. Laat nog prut, totdat die sop begin dik raak. (As die sop nie wil verdik nie, voeg nog van die botter -en meelblommengsel by.) Hou dit warm.

Verhit nou jou oond se rooster. Plaas die snye brood op ’n bakplaat en sprinkel met olyfolie. Meng nou die drie tipes kase by en skep ’n bietjie daarvan op die brood. Rooster die brood totdat dit bros is en die kaas gesmelt is. Verhit die sop en bedien saam met die kaserige croutons.

Genoeg vir ses porsies.

Camembert, ingelegte vye -en filodeegpakkie

Arina filo parcel (425x640)

Jy benodig

2 heel wiele Camembert

1 halwe houer roomkaas

3 heel ingelegte groen vye

3 velle filodeeg

45 ml gesmelte botter

Metode

Verhit jou oond tot 190 °C.
Sny elke Camembert-skyf horisontaal, om twee dunner sirkels te vorm. Smeer ’n bietjie van die roomkaas op drie van die sirkels. Sny die vye in dun skyfies en rangskik op die Camembert, op die kant wat jy die roomkaas gesmeer het. Rangskik nou die sirkels bo-op mekaar, met die sirkel sonder die roomkaas wat heel-bo gaan.

Smeer nou elke vel filodeeg met die gesmelte botter en pak die drie velle bo-op mekaar. Sit nou die Camembert-toring in die middel en vou toe om ’n pakkie te vorm. Plaas die pakkie op bakpapier en bak vir ongeveer 20-30 minute, tot die Camembert sag en warm is, maar nie te loperig nie.

Bedien met warm, vars brood.

Genoeg vir 8 porsies

 

 

Naanbrood met uie-marmelade, Brie en roket.

Arina naan bread (425x640)

Jy benodig:

6 naanbrode

125 ml uie-marmelade

2 stukke Brie, in dun skywe gesny

2 hande vol roketblare

100 ml Parmesan-skaafsels

Vars suurlemoensap en olyfolie om oor te sprinkel.

Metode

Voorverhit jou oond se rooster. Plaas die naanbrood op ’n bakplaat en smeer ’n klein bietjie marmelade op elkeen. Voeg die Brie by en plaas onder die rooster tot die kaas begin smelt en borrel. Verwyder van die oond en voeg die roket, Parmesan en ’n paar druppels olyfolie en suurlemoensap bly. Bedien dadelik. Genoeg vir ses porsies.

Wenk: As die marmelade te soet is, kan jy dit met pesto vervang.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *