In Ponta do Ouro, Mosambiek (of Ponta, soos die regulars hom noem,) is jy verseker van pragtige strande, digte duinwoude en blouselblou water wat jou die perfekte toestande bied om te duik of te snorkel. Lerone Lazenby meen dis die perfekte plek vir ’n langnaweek-wegbreek.

Ponta 5

Die Motel do Mar is amper reg op die strand geleë.

Bly hier

Ons het by die Motel do Mar tuisgegaan. Die cabanas is goed ingerig met ’n klein kombuis en slaapplek vir 4 mense per chalet. Dis loopafstand strand toe – nie eers 200 meter nie. Hemels!

Ek het ons bespreking vier maande voor die tyd deur reservations@ponta.co.za of www.pontodoouro.co.za gedoen. Probeer so vroeg as moontlik bespreek, dan het jy ’n groter keuse van verblyf teen goedkoper pryse. Verblyf vir drie aande, met ontbyt ingesluit het ons oor die Paasnaweek R1200 per persoon uitgewerk.

Wat om te pak en wat om te koop

Probeer om jou vleis, vars groente, lekkernye, gebottelde drinkwaker en alkoholiese verversings saam te neem, daar is nie altyd goeie vleis en vars groente in Ponta beskikbaar nie. Soms raak ’n doeanebeampte haaks en wil jou kar deursoek. Bly net kalm en beleefd en beantwoord al hul vrae, dit is min dat hulle jou moeilikheid gee. Vir meer inligting oor wat jy oor die grens mag neem is die AA-webtuiste ’n goeie hulpbron. Lees hier vir Die Reismier se smokkelwenke.

Ons het gereeld gebraai en elke aand soos konings geëet. As jy van plan is om vars seekos te koop is dit beter om dit so 60 km noord van Ponta, of in Ponta Malongane te koop. In Ponta do Ouro is dit nogal duur en die vis is nie altyd so vars nie. Wat jy egter wel moet koop is pao, tradisionele Portugese brood. Een lang brood kos maar R3.50. Doop dit in olyfolie en balsamiese asyn – dis vingerlek-lekker.

Die tuisgemaakte rissiesous wat jy by die plaaslike mark koop is heerlik en ’n moet as jy Mosambiek se befaamde garnale gaan eet.

Ponta1

Tydens laagwater kan jy die riwwe en rotspoele verken.

Vyf doendinge in Ponta do Ouro

1. Ponta do Ouro is fotogenies, so neem jou kamera en stap deur die straatjies na die plaaslike mark. Hier kan jy ook kibbel met die smouse van enigiets van kos,drank, rissiesous en pao tot rokkies en hemde met Ponta en Mosambiek se embleem.

2. Drink ’n R&R. Die Mosambiekse mengeldrankie is al ’n instelling in Ponta. R&R staan vir Rum and Raspberry en word gemaak van Tipo Tinto-rum en Sparberry-koeldrank. Vakansiegangers kan hulself goed marineer met die drankie. As dit te soet vir jou smaak is, teug aan ’n 2M (uitgespreek dosh-em). Dit is ’n Mosambiekse bier en les enige dors as dit yskoud gedrink word.

3. As jy lus is om jou partytjieskoene aan te trek is daar twee strandkroeë, Pinto’s Bar en Fernando’s wat die lekkerste mengeldrankies maak. By Fernando’s kan jy die aand om dans. Ons het in die aand rondgeloop en nie een keer bedreig gevoel nie, maar wees maar ten alle tye bewus van wat om jul aangaan. Indien dit moontlik is, beweeg in ’n groep.

4. Ons grootste motivering om Ponta te besoek was om saam met die Ponta do Ouro Dolphin Centre (http://www.thedolphincentre.com) dolfyninteraksie te hê.
Al die geld wat ingesamel word, word weer teruggeploeg in dolfynnavorsing en bewaring om die voorbestaan van Ponta do Ouro se dolfyne te verseker. Die sentrum is een van net twee geregistreerde dolfyninteraksiesentrums in die Ponta-area. Hulle het ’n streng gedragskode sodat die wilde dolfyne nie bedryg voel nie. Maak seker jy kies ’n sonskyndag vir dié aktiwiteit.

Dolphin Centre 1

‘n Dolfyninteraksie is een van die spesiaalste oomblikke wat jy kan hê.

5. Duik of snorkel. Daar is verskeie duikskole loopafstand van die strand met goeie pakkette wat toerusting insluit. As jy jou eie snorkeltoerusting het, kan jy tydens hoogwater by die rif naby die hoofstrand snorkel. Die see se temperatuur wissel van 24° C tot 27° C en jy kan heeldag in die see baljaar. Gaan snorkel by die rif naby die hoofstrand.

Let wel: In die somermaande (Oktober tot Februarie) is daar ’n moontlikheid van reënval, so maak seker jou tent is waterbestand as jy wil kamp. Dis ook ’n goeie idee om ’n droeë plek te hê om te kuier.

 

Die pad, pitstoppe en grensposte

Ons het die N17 en N2 pad deur Piet Retief en Pongola gebruik tot by ons eerste pitstop langs die Pongola-dam. Die Jozini Tiger Lodge en Spa (www.jozinitigerlodge.co.za), wat oor die dam uitkyk en op die oewer geleë is, is ’n ideale plek vir ’n oornagstop as jy van ver ry en ’n ruskans soek. Die lodge bied ’n verskeidenheid aktiwiteite, asook gemaklike kamers vir twee mense of ’n gesin van vier. Verblyf is bekostigbaar as jy vroegtydig bespreek. Die uitsig van jou kamer se stoep is pragtig tydens sonsondergang en sonsopkoms.
Bespreek deur LekkeSlaap.

Jozini 4

As jy van ver kom, is die Jozini Tiger Lodge en Spa die perfekte plek om te oornag en asem te skep.

Vanaf Jozini Tiger Lodge het ons die pad oor die damwal gevat, wat later die D1836 word. Die pad lei na die Kosibaai/Farazela-grenspos. Daar is talle donkies en beeste langs die pad, ry maar stadig en hou jou oë op die pad. 
Jy kan ook die Komatipoort-grenspos gebruik, maar ek verkies Kosibaai omdat die proses daar vining gaan. Hier hoef jy nie soveel ekstra reistyd in te reken nie.

Mosambiek staan ongelukkig gebuk onder die stigma van korrupsie en jy wil ook nie jou wegbreek met drama afskop nie. Daar is ’n nuwe slenter waar korrupte doeanebeamptes nie jou paspoort behoorlik stempel wanneer jy die land binnekom nie. Ons het dit eers met ons terugkeer agtergekom. Ons het darem die boete vermy deur ons groep van vyf se paspoorte op een slag in te handig. Gelukkig het niemand iets agtergekom nie en kon ons die duur boete vryspring, maar daar is talle verhale van mense wat duisende rande in “boetes” moes opdok om weer in Suid-Afrika te kom. Maak dus dubbelseker jou paspoort is gestempel voor jy deur die grenspos ry.

Die AA-webwerf stel voor dat jy ’n 4×4-voertuig moet hê wanneer jy vanaf die Kosibaai grenspos die 10 kilometer tot by Ponta do Ouro op sand ry. Ons het ook vriende gemaak met ’n groep wat die pad in ’n 2×4 Toyota Hilux aangedurf het en hulle het geen probleme ondervind nie.

As jy egter nie geseënd is met ’n 4×4 nie, en nie R450 per dag wil opdok om een te huur nie, kan jy ’n lift saam met ene Isak vang. Vir slegs R160 per persoon sal hy jou veilig Ponta toe en terug neem. Daar is veilige parkering by die Kosibaai-grenspos vir R30 per dag. Ons het al twee keer van Isak se dienste gebruik gemaak en kan hom met ’n oop gemoed aanbeveel. Kontak hom by +258 842 003 717.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 thoughts on “Kom kry R&R by Ponta do Ouro

  • Reply
    Ronel

    Wonder wanneer sal ek kan pak en ry….die artikel maak mens lus vir ‘n laaaaaang wegbreek.

  • Reply
    Willem Engelbrecht

    Baie goeie artikel en ‘n lekker “blog”. Baie dankie! Ek en my ouers toer die Junie vakansie deur die Transkei tot in Ponta. Gaan by Sodwana en Ponta scuba, so sien nou sommer ekstra uit. Wat behels die “dolphin enqounter”? My ma is gaande oor dolfyne en wil haar hele lewe nog saam met hulle swem. Is dit moontlik? Baie dankie!