Mlilwane in Swaziland mag miskien ’n klein wildreservaat wees, maar wat dit kort in grootte, maak dit op in biodiversiteit en die verskeidenheid van avontuuraktiwiteite. Boonop is daar geen gevaarlike roofdiere nie, wat dit die ideale wegbreek vir families maak. Deur Carla Lewis-Balden

Dis die goue uur in Mlilwane Nasionale Park, daardie magiese tyd van die dag wat alles in ’n sagte, warm lig omvou. Ek sit en skommel in ’n oop Landrover, wat op pad is na ’n uitkykpunt wat my ’n panoramiese uitsig oor Swaziland se Ezulwini-vallei sal gee.  Ezulwini beteken “Die Hemelse Vallei” in siSwati, iets wat jy heeltemaal kan verstaan wanneer jy enkele flitse van die landskap deur die bome sien.

Mlilwane4

Stew ons gids, op pad na Execution Rock. Foto: Jean le Clus.

Ons ry deur bloekomboomwoude en kruis bergstroompies wat deur broodbome omring word. Dit ruik groen, met ondertone van Vicks wat sypel uit die gekneusde bloekomblare.
Die Swazi-mense het ’n spesiale woord vir die tyd van die dag:“selibantfu bahle” of “Die lig wat almal pragtig laat lyk.”

Ek weet nie van mense nie, maar dit doen wonders vir die landskap. Met elke haarnaalddraai vorm ons monde “oehs en aahs” en ons smeek ons gids, Stew Hlongwane om te stop. Hy’s so klein bietjie teesinnig, want beter dinge lê nog voor. Boonop is ons besig om teen tyd te jaag, die son is reeds besig om agter Swaziland se groen heuwels in te skuif.

Die uitsig oor die Ezulwini-vallei. Foto: Jean Le Clus.

Die uitsig oor die Ezulwini-vallei. Foto: Jean Le Clus.

Wanneer ons die Nyakato-uitkykpunt bereik, is val die laaste sonstrale van die dag oor die vallei.
Aan ons linkerkant lê Sheba’s Breasts, twee groen heuwels met twee grys graniettepels op hul kruin. Aan ons linkerkant is Execution Rock, ’n granietkruin met ’n onheilspellende geskiedenis. “Mense wat van toorkuns of kriminele aktiwiteite verdink is, is hier afgegooi,” vertel hy. In die “selibantfu bahle”-lig lyk dit egter vreedsaam, met geen teken van die grusame geskiedenis nie.
Ons maak ’n koue bier oop en kyk hoe skemerte die vallei insluk.

Mlilwane is ideaal vir families met kinders, omdat daar geen gevaarlike wild op die vlaktes rondloop nie. Daar is wel seekoeie en krokodille in die dam, so hou maar die telg ver weg van die waters. Ek kan nooit verstaan hoe ouers dink hul kan ’n liefde vir die natuur by hul kinders kweek, deur hul in ’n lugverkoelde kar rond te ry, opsoek na die volgende olifant of leeu nie.Die beste manier is om hul reg in die natuur te kry, sonder die filter van ’n karvenster.

'n Trop sebras loop sommer gereeld deur die ruskamp. Hier is die diere gewoond aan mense. Foto: Carla Lewis-Balden

‘n Trop sebras loop sommer gereeld deur die ruskamp. Hier is die diere gewoond aan mense. Foto: Carla Lewis-Balden

Die diere in Mlilwane is gewoond aan mense en kinders het die geleentheid om hul van nader te beskou. Daar is nie heinings rondom die kampe nie en daar is gereeld troppe sebra’s en rooibokke wat deurbeweeg, asook ’n ou njalabul wat in die ruigtes rondsluip.

Alhoewel Mlilwane jou toelaat om self in die park rond te ry, is dit die beste om jou kar te parkeer en aan die verskeie avontuur-aktiwiteite deel te neem wat die park bied. Of trek jou stapskoene aan en gaan verken die park te voet.

Fietsry

'n Bergfiets is een van die lekkerste maniere om die stofpaaie van Mlilwane te verken. Foto: Carla Lewis-Balden

‘n Bergfiets is een van die lekkerste maniere om die stofpaaie van Mlilwane te verken. Foto: Carla Lewis-Balden

’n Wildsrit kry nuwe betekenis wanneer jy verby groen vlaktes en onder kiaatbome deurry, waar vlaktewild soos blesbok, sebra, impala en blouwildebeeste wei. Mlilwane is een van die min Suider-Afrikaanse wildsparke wat jou toelaat om op ’n bergfiets te verken, sonder ’n gids. Neem die afrit deur die bloekomboomwoud of stop by een van die damme, daar sal wel een of ander aktiwiteit wees. Tydens ons fietstoer het ons afgekom op ’n swerm rooikeelbyevreters wat ’n stofbad geneem het. Dis amper om te kyk hoe ’n reënboog tussen die grond baljaar.
Mlilwane huur bergfietse uit, maar om een vir meer as ’n uur te huur kan duur wees. Dit kos R145 per uur om ’n fiets te uur, maar jy kan ook jou eie bring, teen geen ekstra koste nie.

Perdry

Hou jou lyf "Lucky Luke" en verken die oop pleine van die veld. Foto: Jean Le Clus

Hou jou lyf “Lucky Luke” en verken die oop pleine van die veld. Foto: Jean Le Clus

Ek het altyd gedink perdrysafaris is net vir ervare ruiters. By Mlilwane se Chubeka-trails het meeste van die gaste nog nooit eers op ’n perd gesit nie. Die perde is mak, goed opgelei en jy hoef basies net op een te sit en saam te ry, terwyl jou perd die gids volg. Daar is verskeie opsies, van enkele ure oor die savanne tot twee-nag uitstappies. Ons het vir ’n uur perdgery en die roete strek oor strome en vlaktes. Die wilde diere is ook baie meer ontspanne wanneer jy op ’n perd se rug is, hulle sal jou goed bekyk voordat hulle aangaan om te eet. Perde word nie gesien as ’n gevaar nie en jy kry die geleentheid om reg tussen die troppe te beweeg wanneer jy op ’n perd se rug is. Vir meer ervare ruiters is daar die halfdag Execution Rock-roete, asook een en twee-nag uitstappies, wat verblyf en kos insluit. Vanaf R210 p.p per uur en R1800 vir die oornagroete.

Stap en voëlkyk

Daar is ’n hele reeks staproetes by Mlilwane wat jy op jou eie kan stap. Dit strek van roetes deur die vlaktes en deur die bos, tot meer uitdagende roetes na Nyakato-uitkykpunt. As jy ’n voëlkyker is, besoek die park tussen Oktober en Maart, wanneer meeste van die migrasievoëls in Afrika is. Staan maar vroeg op in die oggend, nog voordat die son op is en betyds vir dawn call, in die somer raak dit bloedig warm en kan ’n mens nie veel tussen 09:00 en 15:00 uitgerig kry nie. As jy gelukkig is sien jy miskien ’n bosloerie of ’n bloukuifloerie. Vanaf R190 p.p. vir ’n 2 1/2 uur wandeling met ’n gids. Om op jou eie te loop is gratis.

As jy deur die bloekomboomwoude wandel, is jou kanse goed om 'n bosloerie te sien. Foto: Carla Lewis-Balden

As jy deur die bloekomboomwoude wandel, is jou kanse goed om ‘n bosloerie te sien. Foto: Carla Lewis-Balden

Skaars wild en bedreigde spesies

Alhoewel ek myself as ’n belese reisiger van Afrika beskou, het ek talle bokspesies vir die eerste keer by Mlilwane gesien. Omdat daar nie enige gevaarlike roofdiere is nie, is dit die ideale plek om skaars bokspesies soos bastergemsbok, soeni, blou duikers en njala te sien. By Reilly’s Rock bly ’n familie bosnagape wat met skemerte uitkom om hul kwota piesang vir die dag te kom haal. As broodbome jou opgewonde maak, neem ’n wandeling deur die botaniese tuine van Reilly’s Rock. Ted Reilly, Swaziland se doyen van bewaringhet graag broodbome versamel en daar is ’n hele paar spesies by Reilly’s Rock wat uitgesterf is in die natuur. Vanaf R890 p.p. per aand, wat al jou parkfooie, ontbyt en aandete by Reilly’s Rock insluit.

Die botaniese tuine by Reilly's Rock. Hier kry jy skaars bok -en broodboomspesies.

Die botaniese tuine by Reilly’s Rock. Hier kry jy skaars bok -en broodboomspesies.

Kortliks

Kom so daar: Mlilwane is omtrent vier en ’n halwe uur se ry vanaf Johannesburg, deur Carolina. Ons het die grens oorgesteek by Oshoek en Ngwenya, wat ons minder as 20 minute geneem het. Bring jou paspoorte, kar se registrasiepapiere en R50 vir padbelasting. Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Swaziland nie.

Bly hier: As jy saam met ’n groot groep vriende of familie reis, oorweeg dit om Gran Down se selfsorghuisie te huur (R2580 per aand) Die huis kan tot 7 mense huisves en het en-suite geriewe en ’n stoep en braai area met seker van die mooiste uitsigte in Swaziland. Jy kry so bietjie van ’n Karen Blixen, I-had-a-farm-in-Africa-gevoel wanneer jy op die stoep staan, G&T in die hand en oor die Ezulwini-vallei tuur.

Die tradisionele Swazihutte is vet pret en bied uitstekende waarde vir geld (370 p.p per aand). Verblyf is basies, maar met en-suite geriewe en geweef uit riete en gras, volgens die tradisionele Swazi-manier. ’n Hoogtepunt was om voor die hutte te sit en te kyk hoe ’n trop sebras voor ons wei.
Die hutte het egter nie kombuise nie en jy moet by die park se restaurant eet. As jy egter opsoek is na selfsorg verblyf, is die Lontweni-rondawels (R425 p.p per aand) ideaal. Daar is ook kampgeriewe teen R95 per persoon per aand.

Die seSwati-hutte is groot pret vir kinders. Boonop kom groet die plaaslike Sebrabevolking elke dag. Foto: Carla Lewis-Balden

Die seSwati-hutte is groot pret vir kinders. Boonop kom groet die plaaslike Sebrabevolking elke dag. Foto: Carla Lewis-Balden

Beste tyd om te gaan: Besoek die park tussen April en Mei en Augustus en September, wanneer dit nie so warm is nie. Die park word bloedig warm in die somer (November tot Februarie), maar dis die beste tyd om voëls te kyk.

Besprekings: Vir meer inligting stuur ’n e-pos na reservations@biggameparks.org of besoek www.biggameparks.org. Jy kan hulle ook bel by +268 2528 3943/4

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *