Die inligting wat Albert van Niekerk hier deel gaan hom heel waarskynlik in groot moeilikheid by Phuket se expat mafia kry.

Bon Eiland, of Koh Bon is seker Phuket se bes bewaarde geheim. Net soos met Alex Gardner se mitiese strand in die boek “The Beach” word dit word of mouth tussen die expats en nuuskierige reisigers versprei. As ’n oud-Phuket expat gaan ek vreeslik suinig voel as ek die eiland slegs vir myself hou.

Koh Bon se strande is leeg in vergelyking met die vertrapping op Phuket.

Koh Bon se strande is leeg in vergelyking met die vertrapping op Phuket.

Phuket raak onsettend besig tydens hoogseisoen. Die strande is stampvol vakansiegangers en dit is moeilik om ’n oop stukkie sand te vind om jou handdoek neer te lê, veral op Patong-strand. Sodra jy wel ’n oop plekkie vind, word jy lastig geval deur strandsmouse wat al wat ’n ding is aan jou probeer afsmeer. Dit is glad nie my idee van ’n rustige dag by die strand nie.

Dit is moeilik om te glo, maar daar is wel ’n strand in Phuket wat nie deur toeriste oorval word nie. Hier sal jy nie gepla word deur die gedruis van motorbootenjins en strandsmouse nie. Dit klink soos die paradys né? Bon-eiland is net ’n klipgooi van Phuket se suidelike kus en word die maklikste vanaf Rawai-strand bereik. Dit lyk amper of dit naby genoeg is om na te swem, maar ek stel voor jy neem maar liewer ’n langstertboot na die eiland.

Huur 'n langstertboot om jou na die eiland toe te neem.

Huur ‘n langstertboot om jou na die eiland toe te neem.

Daar is ’n restaurant aan die oostelike punt van die eiland, maar ek twyfel of dit regdeur die jaar oop is. Aan die noordelike kant van die eiland is daar ’n klein klipperige strandjie, wat lekker is vir ’n vinnige swem. Die beste deel van die eiland is aan die suidelike kant. Dié deel word besit deur ’n hotelgroep in Phuket wat destyds ’n paar chalets en ’n kroeg hier gebou het. Meeste van die strukture bestaan nog steeds, maar dit is erg vervalle. Ek weet nie waarom die hotel nie meer gaste hierheen stuur nie, maar ek is bly hulle doen nie. Ek en my mede-expats kon dit besoek net wanneer ons wou.

Hedonisme in die son, reg in die middel van die Andamaanse see.

Hedonisme in die son, reg in die middel van die Andamaanse see.

Die strand lyk soos iets uit ’n brosjure, blouselblou water en helderwit sand. Wanneer ons nie klas gegee het nie, het ons die strandjie reeds vroegoggend besoek en die hele dag daar deurgebring. Die koelerboks is gepak met bier en koeldrank en somtyds het ons selfs ’n strandbraai gehou.

Partykeer het daar tog ander bote met toeriste opgedaag, maar hulle het snaaks genoeg omgedraai wanneer hulle gesien het ons is die enigste mense. Dalk het hulle gedink hul maak inbraak op een of ander private strandpartytjie?

Jy kan selfs 'n strandbraai hou.

Jy kan selfs ‘n strandbraai hou.

Sodra jy jou voete op die eiland sit, voel dit asof die dag ekstra vinning verby gaan. Elke keer wanneer die son sak was die versoeking groot om op die strand te slaap. Vir my verjaarsdag het ek besluit dis presies wat ek wil doen. Blykbaar mag ’n mens nie aan die suidelike kant van die eiland oorslaap nie, aangesien dié deel nog aan die hotel behoort. Ons kon egter aan die ander kant, met die kleiner strand slaap.

Die Thaise mense wat ons afgelaai het was vreeslik vriendelik. Hulle het 5 uur die middag vir ons ’n groot krat ys gebring om ons bier koud te hou en later vars vis, wat ons gebraai het. Sover verjaarsdagpartytjies gaan, dink ek nie ek sal ooit dié een kan oortref nie. Hoeveel mense kan sê hulle het hul verjaarsdag gevier op ’n verlate strand, op ’n klein eiland in die middel van die Andamaanse see?

Skemer op Koh Bon. Daar is nie 'n beter plek om verjaarsdagvieringe te hou nie.

Skemer op Koh Bon. Daar is nie ‘n beter plek om verjaarsdagvieringe te hou nie.

As die massas toeriste en gepeupel jou onder kry met jou besoek aan Phuket, weet jy waarheen jy moet gaan. Bon-eiland het my nooit teleurgestel nie. Moet net nie vir niemand sê jy het daarvan by my gehoor nie.

Kom só daar

Die beste en maklikste manier om Bon eiland te bereik, is om ’n langstertboot te huur om jou soontoe te neem. Kibbel hard en moenie altyd die eerste en beste prys aanvaar nie. Probeer om saam met jou familie of ’n groep vriende te gaan, hoe meer mense saamry, hoe goedkoper raak dit per kop.

Albert van Niekerk is ‘n Kaapse kopieskrywer. Wanneer hy nie oulike klinkreëls uitdink nie, trek sy hart terug na eksotiese Suid-Oos Asië. Volg sy avonture by Here to Stray.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *