Carla Lewis-Balden gee wenke oor hoe om pragfoto’s met jou selfoonkamera te neem.

 

Selfoonfotografie is besig om toe te neem in gewildheid.

Selfoonfotografie is besig om toe te neem in gewildheid.

Met ’n onlangse besoek aan Italië en Thailand het ek my D-SLR-kamera al hoe meer in die hotelkamer gelos en eerder my iPhone gebruik om reisfoto’s te neem.

Die iPhone was lig, klein en ek kon met die regte apps dadelik my foto’s redigeer en dit op Facebook en Twitter laai. In die verlede moes ek altyd gewag het om by die huis te kom, die foto’s af te laai en dit dan met Photoshop te redigeer.

Kyk, daar is sekere aspekte waar jy ’n D-SLR en selfoonkamera glad nie kan vergelyk nie, maar as jy jou oog regkry, weet watter apps om af te laai en met jou selfoonkamera rondspeel, sal jy jou vriende groen van jaloesie met jou foto’s maak.

Liézel Els, ’n multimediajoernalis en kranige iPhone-fotograaf meen die krag van tegnologie het die fotografiese speelveld gelyk gemaak.

“Jare terug het die pa van die huis die kamera hanteer. Hy het die gesinsfoto’s en die spesiale oomblikke afgeneem. Toe kom die digitale kamera, almal neem hordes foto’s en die goed lê op hardeskywe… maar niks gebeur daarmee nie.”

“Toe kom slimfone met apps en natuurlik, sosiale media. Nou kan jy die foto’s wat jy met jou foon geneem het redigeer en vir jou vriende wys en die wêreld instuur. Dis lekker wanneer jy ’n foto oplaai en iemand ‘like’ hom, net soos dit lekker is as jy in die straat loop en ’n vreemdeling sê vir jou jy is mooi,” skerts Liézel.

 

Volg die volgende wenke om soos ’n wafferse pro te lyk met jou selfoonkamera:

Carla Lewis-Balden het die foto in Burano, Italie geneem. Sy  het Camera+ gebruik en 'n "Clarity"-filter vir ekstra contra's gebruik.

Carla Lewis-Balden het die foto in Burano geneem. Sy het Camera+ gebruik en ‘n “Clarity”-filter vir ekstra kontras gebruik.

Kry die regte apps

’n Saai foto kan ’n treffer wees as jy vir hom bietjie redigeer en optert met ‘n filter. Ons hou van die volgende fotografie-apps vir slimfone. (Kry dit by Apple se App Store vir Apple-toestelle en by Google Playbook.)

Camera+ ($1,99 vir Android en iPhones)

Die app het talle professionele toepassings. Jy kan jou filters by jou foto’s voeg, hulle crop en verskillende raampies by hulle voeg. Ek vind dit is ’n maklike app wat ’n tegno-dommie soos ek sommer gou onder die knie gekry het. Ideaal vir beginners

Snapseed (Gratis vir Android en iPhones)

Snapseed is soortgelyk aan Camera+, maar bied gebruikers meer gevorde toepassings. Die New York Times beskryf dit as “eersteklas fotoredigeringsagteware”, terwyl CNET meen die program ongelooflike beheer aan fotograwe bied, wanneer dit by spesiale effekte en filters kom.

Instagram (Gratis vir Android en iPhones)

Sien dit as Facebook, net met foto’s. Met die program kan jy spog met wat jy eet en regstreeks vakansiefoto’s oplaai. Jy kan hulle ook redigeer met verskillende filters. Dit is terselfdertyd ’n fotoredigering-app en ’n sosiale netwerk.

VSCOcam (Gratis vir Android en iPhones)

Liézel sê dit is haar nuwe gunsteling-fotoredigering-app. As jy bietjie meer van fotoredigering weet, sal jy baie van die app hou, dit is amper soos ’n meer verbruikersvriendelike weergawe van Photoshop. Jy kan die kontras en temperatuur van jou foto’s stel en ook verskillende filters gebruik. Vir gevorderde selfoon-fotograwe.

 

Wenke vir wenfoto’s

LeonCoetzee

Leon Coetzee – Hy bly op die strate van Melville. Liézel het ’n onderhoud met hom gedoen en toe die foto met haar foon geneem. “Dit was vir my belangrik om sy oë vas te vang, want sy oë vertel ’n storie wat woorde net nie kan nie. Daarom het ek so naby gegaan en seker gemaak hy maak die hele foto vol.”

Laat daar lig wees

“Lig bepaal so baie in ’n foto, so dit is vir my die belangrikste,” sê Liézel. Maak seker die lig skyn nie in jou foon se lens in nie. As jy egter ‘n lens flair wil hê, eksperimenteer met die son en die lens, ’n mens kan só baie mooi foto’s  neem. “Selfone se kameras het baie lig nodig. Dis altyd beter om ’n foto te neem wanneer daar genoeg lig is, anders is die foto’s uit fokus of dof.”
Onthou ook die goue uur, dit is die beste tyd van die dag om ‘n foto te neem. Die lig is dan gewoonlik op sy mooiste. Dit is gewoonlik ’n uur nadat die son opgekom het en ’n uur voor sonsondergang.

Kom nader
“Moet nooit jou foon se zoom-funksie gebruik nie, stap eerder nader aan die objek wat jy wil afneem,” sê sy.

Uit ‘n ander hoek
Wees kreatief en dink aan ander hoeke vir die foto. “Pleks daarvan dat jy iets net so van die kant af afneem, sit dit op ’n mooi lappie of voor ’n mooi agtergrond of neem dit van bo af. So kry jy ’n heeltemal ander foto,” is haar raad.

App-soluut fantasties

“Hou die app wat jy moontlik wil gebruik in gedagte, dit help soms om die perfekte foto te neem met die perfekte filter.” Speel rond met die verskillende apps en hul filters. Aan die begin het ek mal gegaan met die apps, maar baie keer kom jy agter Iess is more. Tog weet jy wat elke filter se sterkpunt is en by watter tipe foto hulle die beste werk. “Laastens, moenie bang wees om te eksperimenteer nie, iPhoneography en selfoonfotografie het nie reëls nie”,  sê Liézel.

Liézl het die foto in die ry geneëm. "Dit was net so mooi hoe die reendruppels teen die venster gesit het met die groot straatlig agter, so kan mens ook jou iPhone dwing om op die reëndruppels te fokus en nie die lig nie.

Liézel het die foto in die ry geneëm. “Dit was net so mooi hoe die reëndruppels teen die venster gesit het met die groot straatlig agter. So kan mens ook jou iPhone dwing om op die reëndruppels te fokus en nie die lig nie.

 

Liézel Els is ’n multimediajoernalis en het in 2012 tweede gekom in die iPhoneographySA 2012 kompetisie en is in 2013 gekies as beoordelaar. Volg haar op Twitter by @li3zel, op Instagram by liez3l en op Facebook by Liezel Els Productions


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Kiek soos ’n kenner met jou selfoonkamera