Suid-Afrikaners wat ons buurlande se nasionale parke besoek, het gewoonlik ’n penarie: Daar is ’n groot tekort aan luukse selfsorgverblyf teen billike pryse, skryf Carla Lewis-Balden.

Of jy moet jou huis se maandelikse paaiement gaan opdok by ’n lodge wat wonderlik is terwyl jy onder wit lakens van Egiptiese katoen slaap en personeel agter jou rondloop met nat lappies wat na rooswater ruik.

Die kredietkaart-babelas gaan jou egter daarna dwing om vir ’n paar maande ’n pap-en-water-begroting te volg.

Die meeste van ons moet maar die kampterreine en twyfelagtige ablusieblokke aandurf, maar dis nie altyd lekker om eers praatjies te maak met die bure, toiletrol in die hand op pad na die ablusieblok nie. Wanneer jy ook hiënas moet begin rondjaag wat jou kampstoel of potjie as ’n heerlike snoephappie beskou of vir twee dae lank nie gestort het nie omdat die olifante die waterpype by die ablusiegerief uitgepluk het, dan kan ’n mens baie bitter raak wanneer ’n groep selfvoldane toeriste, met hul nekserpies en varsgestorte lywe in ’n oop Land Rover verby jou ry.

Die Kapula Tented Camp in die Hwange- nasionale park in Zimbabwe is die antwoord op gebede van Suid-Afrikaners wat op soek is na ’n bietjie ongerepte luuksheid, maar teen ’n bekostigbare prys.

Die selfsorg-lodge het al die geriewe van ’n vyfster-lodge, maar teen ’n fraksie van die prys. Dit voel of jy diep in die gramadoelas is. Enorme ana-, kameeldoring- en mopaniebome troon bo ons uit toe ons die tweespoorpad na Kapula se konsessie neem.

Die hoofkuierarea by Kapula se North Camp. FOTO: Kapula

Die hoofkuierarea by Kapula se North Camp. FOTO: Kapula

North Camp se vier tentstrukture wat rondom ’n vlei gerangskik is verseker privaatheid en eksklusiwiteit.

In die aand slaap jy op ’n reuse-bed onder die sagte drapering van ’n muskietnet. Die safari-tente het almal ’n reuse-stoep van waar jy kan kyk hoe buffels en olifante verbyloop en daar is selfs ’n buitelugstort waar jy onder die sterre kan stort.

In die nag is jy reg in die middel van die aksie. Met ons besoek het daar ’n trop buffels en olifante deur die kamp beweeg. By die sentrale kuierarea kan jy steeds in ’n groot sagte bank wegsak, G&T in die hand, terwyl jy die diere dophou. Etes word geniet by ’n groot, 12-sitplek tafel van Rhodesiese kiaat. Die kombuis is ook ten volle toegerus, van spierwit porseleinborde tot koffiedompelaars, groot yskaste en gasstowe.

Die beste van alles?

Die vriendelike personeel takel die kombuis dat dit in die oggend lyk asof Mr Muscle daardeur was. Gevegte oor wie se beurt dit is om die skottelgoed te was, word sommer ook dadelik uitgeskakel.

Hulle vra ook vir jou hoe laat jy wil stort sodat hulle die chalet se donkie kan stook vir warm water, sowel as hoe laat jy wil opstaan sodat hulle ’n pot kookwater kan reghê vir boeretroos.

In die oggende word daar reeds 'n vuur vir jou gestook, vir daai koppie boeretroos in die bos.

In die oggende word daar reeds ‘n vuur vir jou gestook, vir daai koppie boeretroos in die bos.

Ons het Kapula in die winter besoek en die wild was volop. Die pad vanaf Hwange se hoofkamp was maar bra vervelig betreffende enige interessante wild-aktiwiteite, en my man het droogweg opgemerk dat al die wild hier uitgeskiet is.

Toe ons verby die Shumba-dam is moes hy sy woorde sluk. In minder as ’n kwartier het ons ’n trop swartwitpense, ’n enkele bastergemsbok sowel as ’n trop buffels gesien. Kapula-kamp is ook skaars 10 minute per motor van die Masuma-dam waar al die aksie plaasvind. Die beste is om vroeg op te staan, nog voordat die son op is, en jouself tuis te maak by die dam se skerm met ’n fles koffie en beskuit. Die tonele wat hier afspeel is meer boeiend as enige National Geographic-dokkie.

Laatmiddag by die Masuma-dam in Hwange.

Laatmiddag by die Masuma-dam in Hwange.

Met ons aankoms die eerste oggend was daar reeds twee olifantbulle wat hul dors by die watergat les. Kampeerders by die Masuma-dam vertel ons ook ons het ’n krokodil wat ’n springbok gevang het met enkele minute misgeloop.

Kort daarna daag ’n trop wildehonde (sowat 12 van hulle) op om te kom suip. In die verte sien ons ’n groot stofwolk wat kort daarna manifesteer as ’n trop van ongeveer 200 buffels.

Terug by die kamp kan jy uitspan op die groot, gemaklike banke en jou aan die voëls verkyk. Ek tik bosveldpapegaaie, Jameson se vuurvinkies, ’n kardinaalspeg, kakelaars, ’n kuifkophoutkapper, verskeie spesies vinke, spreeus en arende binne enkele ure in my Sasol-voëlboek af.

’n Goeie tyd om weer by die Matsuma-dam te sit, is so van 15:00, 16:00 se kant. Maak seker dat jy jou koelerboks volmaak, want vir ’n beter plek vir skemerkelkies sal jy ver soek.

Laatmiddae lyk dit asof die hele olifantbevolking van Hwange op dié watergat toesak. Sosiale norme geld nie hier nie en die klomp breek winde, mis in die water en ’n paar bronstige bulle probeer hul geluk met die koeie. Dit krioel, wriemel en trompetter.

Die lug ruik na modder, olifantmis en die silhoeëtte van Ilala-palmbome reis bokant die massa grys olifantlywe uit.

Soos die bekende kredietkaart-advertensie sê: Doos rooiwyn: R95; kampstoel: R500; die geleentheid om ’n stukkie Afrika vir jouself te hê: Onskatbaar.

Die tente kyk uit oor pragtige savanne met reuse Anabome.

Die tente kyk uit oor pragtige savanne met reuse Anabome.

Voor jy vertrek

  • Kapula is in die Hwange- nasionale park in Zimbabwe geleë. Die kamp is ongeveer 95 km van Hwange se hoofkamp en 65 km van Hwange-dorp gelëe. Die paaie is sleg en ’n mens ry net sowat 30 km/h in die park.
  • ’n 4×4 of bakkie word aanbeveel.
  • Kapula bestaan uit twee kampe; North Camp en South Camp. Eersgenoemde bestaan uit vier tente waarin twee persone in elkeen kan slaap. Daar is net een gemeenskaplike kuierarea en die eienaars stel voor dat gaste die hele kamp bespreek as hulle privaatheid verlang.
  • South Camp is nie so luuks soos North Camp nie, maar het nog al die geriewe om jou verblyf so gemaklik as moontlik te maak. Dit bestaan ook uit vier en-suite safaritente, en daar is ’n gemeenskaplike kombuistent.
  • Kry ’n groep vriende en maak die kamp vol. Dit is duur as jy net as een paartjie gaan, maar tariewe raak goedkoper hoe meer mense bespreek.
  • Die GPS-koördinate is 18° 44’ 29.125 S en 26° 15’ 55.55 O.
  • Vir meer inligting oor die tariewe besoek hul webwerf by www.kapulacamp.com, skakel 012  803  7601 of stuur ’n e-pos na stay@kapulacamp.com.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *