Steel twee dae by jou jaarlikse verlof en besoek die skone Kaapstad in die winter, tydens die week. Nie net kry jy toegang tot vele spesiale aanbiedings nie, jy word ook nie vertrap deur duisende toeriste wat ’n bietjie son en see tydens die Noordelike Halfrond se winter kom soek nie. Carla Lewis-Balden wys jou om die beste van ’n vinnige Kaapse draai in die winter te maak.

So goed, kom ons praat verblyf

Ek het ’n paar ekstra bokke wat rondlê
As jy ’n spesiale geleentheid vier en wil bly waar supersterre soos Mariah Carey hul koppe neerlê, oorweeg die One & Only Cape Town, naby die Waterfront. Hulle het tans ’n winteraanbod aan die gang, waar Suid-Afrikaanse burgers kan oorbly vir R3250 per kamer, per aand, bed en ontbyt ingesluit. Alhoewel dit miskien na baie klink, kan jy jouself regmaak vir vyfster diens (elke kamer kom met ’n kussingspyskaart en ’n geurspyskaart!), ’n ontbytbuffet waar jy soveel oesters kan eet as wat jy wil, sowel as vonkelwyn. Dis ’n gulde geleentheid om te sien hoe die bevoorregte 1% van die samelewing leef.
Die hotel het ook twee uitstekende fynproewersrestaurante, ons eie Rubens van sjef Ruben Riffel, sowel as Nobu, wat deur een van die wêreld se beste sjefs Nobuyuki ‘Nobu’ Matsuhisa gestig is.

Die uitsig vanaf jou berguitsig-suite by die One & Only-hotel in Kaapstad.

Die uitsig vanaf jou berguitsig-suite by die One & Only-hotel in Kaapstad.

Warm Wenk:

As jy ’n spesiale geleentheid vier, kan ons die sesgang Winter Omakase-spyskaart by Nobu aanbeveel. Alhoewel amper R600 per kop sommige mense se bank mag breek, is dit steeds waarde vir geld, as jy in ag neem dat jy by een van die gesogste restauranttakke in die wêreld eet. Die porsies, alhoewel dit nie massief is nie, is net genoeg en jy gaan beslis nie na die tyd voel asof jy by McDonalds moet stop om daardie ekstra gatjie te vul nie.

My bankbestuurder het sy stem dikgemaak
As jy op ’n begroting is, oorweeg dit om by iemand se AirBnB oor te slaap. En wie beter as om ’n gasheer te kies, as ’n reisskrywer of blogger? Dee Lou, reisblogger van The Good Holiday huur haar woonstel uit op Airbnb en alhoewel sy die wêreld vol rondrits, sal sy jou steeds kan verwys na ’n paar van Kaapstad se versteekte juweeltjies. Die woonstel is in Soutrivier, een van Kaapstad se up-and-coming buurte. Jy is naby publieke vervoer en ’n paar minute se stap vanaf The Old Biscuit Mill. Die woonstel kos minder as R500 per dag (€ 25) en kan tot vier mense slaap, (alhoewel twee mense eintlik beter gaan werk.)

Die reisblogger Dee Lou se woonstel in Salt River kan op AirBnB gehuur word.

Die reisblogger Dee Lou se woonstel in Salt River kan op AirBnB gehuur word.

 Wanneer is die beste tyd om te gaan?

Die skone Kaap se bui is maar wispelturig, en weergewys is jy maar aan die noodlot oorgelaat. Jy kan ’n pragtige dag ervaar as die Kaap besluit om haar dansrok aan te trek. Dan loop jy sommer in die middel van Junie met ’n kortbroek en T-hemp rond. As die Kaap egter ’n biets op haarself trek, doen sy dit behoorlik, Tafelberg word toegegooi onder ’n wolkkombers, sambrele breek en jy wil dit nie buite waag nie. Die bonus van die wintermaande is egter dat alles gewoonlik goedkoper is. Hotelle en restaurante het talle spesiale aanbiedinge en hier is nie soveel toeriste soos oor die somermaande nie.

First Thursdays
As dit egter moontlik is, beplan jou besoek oor First Thursdays, of die eerste Donderdag van die maand. Al die groot galerye in die stad bly tot laat oop en daar is kostrokke waar jy aan gourmet-straatkos kan smul. First Thursdays gee ook mense die geleentheid om veilig en tot laat in die middestad te kuier

First Thursdays is een van die lekkerste maniere om deel te wees van die Kaapse kunste.

First Thursdays is een van die lekkerste maniere om deel te wees van die Kaapse kunste.

“First Thursdays voel amper soos ‘n Europese aandmark, dis net mense waar jy kyk, met kostrokkies en musiek. Al die galerye en spesialiteitswinkeltjies bly tot laat oop. Dit ’n fantastiese geleentheid vir mense wat nie in die dag of oor naweke kans kry om die nuutste kunsuitstallings te sien nie. Party aande raak die galerye egter so besig dat daar selfs uitsmyters by die deur staan om seker te maak die galerye raak nie te vol nie!”
-Jean Le Clus-Theron, ’n kunskonsultant van Tamboerskloof

As die weer gaga is?

Iziko Nasionale Kunsgalery
Ek was al by talle internasionale kunsmuseums, maar dis ’n skreiende skande dat ek so lank gevat het om ons eie Nasionale Galery te besoek. Die galery is by die Kompanjietuine geleë en bevat belangrike internasionale kunswerke, sowel as van Suid-Afrika se belangrikste kunswerke en kunstenaars. As jy een kunswerk moet sien, is dit Jane Alexander se ‘Butcher Boys’, iets wat binne die Suid-Afrikaanse kunskonteks net so belangrik is as Michaelangelo se ‘David’ vir die Renaissance. Drie demoon-gargoyleagtige figure sit op ’n bankie en lyk besonder gatvol vir die lewe. Die eerste ding wat jou aangryp is hul oë, diep donker poele wat by ’n mens spook, ure nadat jy die standbeeld onder oë gehad het. Die standbeeld lewer sosiale kommentaar oor hoe Apartheid, beide sy slagoffers en oortreders van hul menslikheid ontneem het. Volwassenes is R30, studente, skoolkinders en pensioenarisse R15 Die galery is by Governmentlaan in die Kompanje Tuine.

Die Butcher Boys deur Jane Alexander is te sien by die Nasionale Galery.

Die Butcher Boys deur Jane Alexander is te sien by die Nasionale Galery.

Drink ’n snapsie gin
Almal weet jenewer. oftewel gin is die nuwe craftbier en as jy jou hipster-flenniehemp werd is, is jou ‘drink of choice nie meer Indian Pale Ale nie, maar ’n fynbos- en boegoe gegeurde gin. Hope on Hopkins is Kaapstad se eerste gin-stokery in die middestad en hulle sal vir jou ’n privaattoer en gin-proe, op afspraak kan reël. Die toere word op ’n Dinsdag en Saterdagmiddag aangebied, kos R85 per kop en moet lank voor die tyd bespreek word. Stuur ’n e-pos aan lucy@hopeonhopkins.co.za vir meer inligting.

Drink 'n snapsie gin by

Drink ‘n snapsie gin by Hope on Hopkins.

Dis ’n dansrokdag

Seepuntpromenade
Dit begin gewoonlik so hier teen 7:00 lig te raak in die Kaap. Trek aan jou tekkies (ontwerpers, verkieslik) en gaan powerwalk saam met al die Seepunt-mammas op die promenade. Neem ’n selfie by een van die vele kunswerke op die promenade en wanneer jy moeg is, koop ’n koppie koffie by een van die stalletjies (of groen groentesap, want dit is Seepunt,) gaan sit op ’n bankie en kyk net vir die mense. Jy kry die idee dat ’n oulike volbloedhond een van die belangrikste modebybehore in die voorstad is, ek het nog nooit soveel Franse bulhonde, Schnautzers en Boston terriers op een plek gesien nie.

Die Seepunt-promenade is 'n lekker plek vir mense kyk.

Die Seepunt-promenade is ‘n lekker plek vir mense kyk.

Winter in die Kompanjietuine
Die Kompanjietuine is net so ’n lekker plek om ’n gedeelte van jou wintersdag deur te bring en is hope pret vir kinders. Bring neute om die eekhorings te voer, die outjies is mak en bekruip jou sommer as dit net lyk asof jy lus is om ’n meevallertjie na hul rigting toe te gooi. Gaan drink ’n cappucino by die die koffiewinkel by die tuine, hul speelarea is ’n pragtige parkie, gevul met reuse neste wat soos vinknessies lyk. Nie dat dit net vir kinders is nie, ons het hoeka ’n grootmens binne een van die neste betrap met ’n boek. Dis ’n heerlike plek om in die stad asem te skep en die pryse van die koffiewinkel is ook heel billik.

Winter in die Kompanjietuine is 'n pragtige tyd, wanneer die yl wintersonnetjie deur die Gingko Biloba-boom filter.

Winter in die Kompanjietuine is ‘n pragtige tyd, wanneer die yl wintersonnetjie deur die Gingko Biloba-boom filter.

Vir meer inligting oor Kaapse wintersaanbiedinge besoek die Kaapse toerismeowerheid by http://www.capetown.travel.

Die bloginskrywing is deur die Kaapse toerismeowerheid en CheapFlights.com geborg. Opinies en menings bly die van die skrywer.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 thoughts on “Kaapstad in die winter