Jy het gespaar, jou sente omgedraai en uiteindelik genoeg geld bymekaar geskraap om jou Europese droomvakansie te bewaarheid. Die probleem is, jy is nie eintlik iemand vir ’n begeleide toer nie, maar jy weet nie waar om te begin om jou eie toer te reël nie.

Reismierblog2

By Reismier kry ek gereeld vrae oor moontlike Europese toere, doen-dit-self-reisplanne, wat dit kos en of dit moontlik is. In Mei vanjaar het ek my familie op ’n #ReismierAvontuur deur Italië geneem. Ek het al die reëlings self getref, vir ons selfsorg-verblyf bespreek en ons het van publieke vervoer gebruik gemaak. Ek wys vir jou hoe jy ook so toer kan aanpak..

Kom ons val met die deur in die huis. Die eerste ding wat mense wil weet is hoeveel só ’n vakansie kos. En is dit goedkoper as ’n pakkettoer?

Ons vakansie het ons ongeveer R20 000 per kop uitgewerk vir 10 nagte. Dit sluit alles in, van verblyf tot sakgeld. Die volgende syfers is afrondings van wat dit per persoon, per kop uitgewerk het. Dit kan wissel van hoe luuks jy wil slaap, hoe ghrênd jy wil eet en watter tyd van die jaar jy ’n bestemming besoek.

Vliegtuigkaartjies vanaf Johannesburg na Rome en vanaf Genova na Johannesburg met Air France: R7500

Verblyf: R5000

Vervoer (Taxi’s vanaf en na die lughawens, bus -en treinkaartjies): R1200

Toegang tot museums, besienswaardighede en stadspasse: R1500

Geld vir eet, drink en roomys: R3000

Schengen Visum (vir Suid-Afrikaanse burgers): R1000

Reisversekering: R600. (Dis egter gratis as jy jou vliegtuigkaartjies met jou kredietkaart koop)

Totaal: R19800

Gemiddelde pryse in Italië

Pasta in ’n restaurant: €5 – €8
Glas wyn in ’n restaurant: €2.50 – €4
Bottel wyn in ’n supermark: €5 vir ’n “easy drinking” Chianti
Kaas -en ham panini: €3
’n Skyf wegneem-pizza: €2.50 – €4, afhangende van die vulsels
’n Bier in ‘n restaurant (330 ml) €2.50 tot €4
’n Driegangmaaltyd vir twee, met wyn in ’n redelike deftige restaurant: €60 tot €80
’n Roomys met 1 skeppie in ’n horinkie: €2 – €3

Die verblyf

Ons verblyf het ons gemiddeld so R500 per persoon per aand uitgewerk. Jy kan dit goedkoper doen, maar ek het probeer om vir elke paartjie hul eie kamer en badkamer te organiseer. Ons verblyf was ook luuks, al was dit selfsorgwoonstelle. As jy in privaatkamers slaap en bereid is om badkamers te deel, kan jy vir goedkoper wegkom.

Rome

Die woonstel in Monti, wat deur Loc'appart uitverhuur word.

Die woonstel in Monti, wat deur Loc’appart uitverhuur word.

Ons Roomse verblyf het ek bespreek deur Loc’appart, ’n Franse maatskappy wat vakansiehuise en woonstelle in Parys en Italië verhuur. Ek het vir ons ’n groot ruim woonstel met ’n lekker stoep gevind in die buurt Monti, wat ongeveer ’n kilometer ver van die Romeinse Forum en die Colosseum was. Die woonstel is geleë in ’n werkersklas Roomse buurt en die supermarkte en restaurante was stapafstand van ons woonstel. Die woonstel was smaakvol en minimalisties gemeubelleer, silwerskoon en die kombuis was uitstekend toegerus. Ons het elke aand pasta gemaak, wyn gedrink en tot laat op die stoep gekuier, wat ons seker ’n kwart gekos het as om in ’n restaurant te eet. Dis ideaal vir ’n groot familie of ’n groep vriende en slaap ongeveer ses mense.

Siena

Die woonstel het ek op Airbnb gevind en was ons luukste verblyf tydens ons Italië-uitstappie.

Die woonstel het ek op Airbnb gevind en was ons luukste verblyf tydens ons Italië-uitstappie.

Die Airbnb-woonstel in Toskane was seker ons mees indrukwekkenste verblyf. Dit was eintlik meer soos ’n deftige villa in ’n ou historiese gebou, wat uitkyk oor die Piazza del Campo, Siena se sentrale stadsplein. Die plafonne was beskilder met frescos en ons was reg in die middel van al die aksie. Omdat die woonstel reg op die plein geleë is, waar al die kroeë en restaurante is, kan dit bietjie raserig raak, veral oor naweke. As jy hou van stilte, bring oorpluisies of soek iets wat minder sentraal is. Vir ’n beter uitsig sal jy egter ver soek. Een van my gunsteling-herinneringe was om by die venster te sit, uit te kyk oor die plein en die toring van die stadsaal terwyl die son wegraak agter die wolke.
Ons het die verblyf oor Airbnb bespreek, ’n maatskappy waar mense hul woonstelle, eiendomme en villas kan uithuur.

Lees meer hier oor Airbnb.

Cinque Terre

Villa Francesca, bekostigbare verblyf naby die Cinque Terre.

Villa Francesca, bekostigbare verblyf naby die Cinque Terre.

Villa Francesca het my laat dink aan die ou Aventura-vakansieoorde waar ons as kinders vakansie gehou het, net met ’n bietjie Italiaanse flair, beter kos en pragtige uitsigte. As jy hou van die buitelewe is dit ideaal vir jou. Verblyf is klein villas in ’n nasionale park wat teen ’n berg klou en uitkyk uit oor die Mediterreense see. Daar is ’n swembad (bring jou swemkappie), tennisbane en ’n privaatstrand vir inwoners van die oord.

Die pryse is billik en ons het €25 ekstra betaal om aandete en ontbyt by te kry, iets wat ek werklik kan aanbeveel. Die ontbyt is eenvouding (moenie spek en eiers verwag nie), jy kry brood, konfyt, jogurt en muesli, maar die aandetes was werklik ’n groot bederf. Dink viergangmaaltye, met plaaslike lekkernye van die area. ’n Hoogtepunt was toe ons een aand skaapboud geëet het, wat net met Italiaanse kruie en ’n bietjie olyfolie gegeur was. Villa Francesca is so 30 minute se stap van Levanto, ’n pragtige stranddorpie waar jy die trein na die Cinque Terre vang, vyf helderkleurige visserdorpies wat teen die berghange klou in die Liguria-streek. Pak maar jou stapskoene in want jy loop deur klipperige paaie en deur woude, maar die ervaring is iets wat jy vir altyd sal koester.

Vervoer

Publieke vervoer is stresvol, maar as jy dit eers uitgewerk het, kan jy baie geld spaar. Ons het ‘n bus geneem vanaf Rome tot Siena en ‘n buskaartjie kos ongeveer €19. As jy hom ‘n dag voor die tyd of op die dag koop, kos hy €5 duurder.

Die Italiaanse busstelsel word bedryf deur SENA en om ‘n kaartjie aanlyn met ‘n kredietkaart te koop is baie maklik. Anders moet jy, soos ek die metro al die pad na die Tiburtina-busstasie neem om ‘n kaartjie te koop.

Die beste en maklikste manier om by die Cinque Terre uit te kom is per trein. Daar was vanaf Siena nie direkte treine na Levanto, naby ons verblyf nie en ons moes verskeie aansluitingstreine neem. Die kaartjies hiervoor was €17. Dit raak nogal wild, veral as die aansluitingstye tussen twee treine net vyf minute is en jy weet nie waar die platform is nie. Gelukkig kon meeste van die kondukteurs Engels praat en hulle het ons mooi gehelp.

Vir vervoer van en na die stasie en lughawe in die Cinque Terre het ons van Levanto Shuttle Service gebruik gemaak. Die eienaar en chauffeur, Gianluca is ‘n aangename man en sal jou selfs afslag gee as jy ‘n duur rit na die lughawe neem. Die naaste internasionale lughawens aan die Cinque Terre is Pisa en Genova en ons het vanaf Genova terug gevlieg Suid-Afrika toe.

Ons het met Air France gevlieg, wat die vinnigste manier is om tot in Italië te kom. Qatar was tydens ons besoek die goedkoopste, maar ons sal dan vir meer as 12 ure op Qatar se lughawe moes deurbring. Air France se aansluitings is ook vinnig, so jy hoef nie te lank in die duty free winkels rond te hang nie.

'n Fiat 500 op die Piazza Del Campo in Siena.

‘n Fiat 500 op die Piazza Del Campo in Siena.

Dit moet jy weet

Ek sien dikwels advertensies vir pakkettoere en begeleide toere in die koerant, waar jy vir goedkoper as wat ons betaal het kan toer. Ek was al op die tipe toere en die ou gesegde, “jy kry waarvoor jy betaal,” bly waar. Jy kan vir R5000 minder met ’n boottoer die Mediterreense kus besoek, maar dan bly jy op ’n passasierskip in ’n piepklein kamertjie en eet generiese buffetkos. Baie van die goedkoper pakkettoere se verblyf is nie altyd op standaard nie.

Begeleide toere se gehalte verskil, die toere van die Travelcorp (Trafalgar, Insight en Contiki) is bietjie duurder as sommige van hul mededingers, maar ek het op die ou einde gevoel ek kry meer waarde vir my geld met dié toere, as met goedkoper pakkettoere. Die gehalte van bestemmings, verblyf en ervarings was beter. As jy nie hou van sukkel nie en luuks wil bly, sal die tipe toere beter by jou pas.

Selfsorg-toere is nie vir almal nie, jy stap ver, jy het nie ’n tweetalige gids om jou uit te help of portiere wat jou bagasie dra nie. Jy verdwaal. Die tannie by die supermark verstaan jou nie wanneer jy vra vir kaas en tamaties nie. Dit dwing jou egter om op ’n voetsoolvlak met die bestemming te verkeer en ek glo die ervaring wat jy kry is ook meer outentiek.


Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *

18 thoughts on “Italiaanse #ReismierAvontuur: So doen jy dit

  • Reply
    Christine du Toit

    Carla, vanoggend na jou geluister op RSG. Ek is ook ‘n reismier, maar doen dit maar in ‘n groep; is nou ook al bietjie oud, maar gaan vanjaar op twee toere, Toskane en dan tot daar bo in die Alpe en nog na baie mooi plekke. Het dadelik die webtuiste oopgemaak en het nou heerlik gelees. Ek sal nou vir die tweede keer by Cinque Terre kom, hierdie keer dit per trein doen van dorpie tot dorpie; vorige keer was per boot. Ek het ‘n 2 jr Schengen visum, 90 dae, multi-entry, type C. Niemand kan my met sekerheid sê wat dit beteken, miskien weet jy: is dit ‘n totaal van 90 dae oor die 2 jr periode, of moet jy net nie langer as 90 dae per keer daar bly nie? Ek sal voortaan gereeld julle webtuiste besoek!!!

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Beste Christine, soveel dankies vir jou ondersteuning en mooi woorde. Jy is baie gelukkig om ‘n twee jaar visum te hê. Kyk na jou visum by die “from” gedeelte, dit sal vir jou sê van wanneer tot wanneer jou visum geldig is. Dit beteken dat jy tydens daardie tydperk nie weer vir ‘n Schengen visum hoef aansoek te doen, wanneer jy na een van die Schengen-state reis nie. Dit beteken egter nie dat jy vir 2 jaar aaneen in Europa kan aanbly nie, die 90 dae verwys basies na die aantal dae wat jy in die Europese Unie mag vertoef, oor die tydperk van ‘n halwe jaar.
      Die C-tipe laat jou ook toe om vrylik in en uit Schengen-state te beweeg. Hier is ‘n skakel (http://www.schengenvisainfo.com/schengen-visa-types/) wat jou meer inligting sal gee, maar vir 100% sekerheid stel ek voor jy kontak die konsulaat wat die visum uitgereik het. Party lande het somtyds ander reëls en dis somtyds beter om die inligting uit die perd se bek te kry. Lekker reis en stuur gerus vir ons foto’s!

  • Reply
    Gerda Smit

    My Italie toerplan van 2 weke het so gelyk: 3 dae Rome, met trein na Florence vir 2 dae, dagekskursie na San Gimignano vanaf Florence, met trein na La Spezia vir 2 aande daar geslaap om Cinique Terre met 5 plekkies per trein gedoen. Pisa Le op dieselfde treinlyn,so ons het vanaf Florence afgeklim by Pisa, ons tasse in lockers gesit, Pisa gedoen vir so 3 ure en toe na La Spezia gegaan. Vanaf La Spezia is ons via Milaan met trein na Lake Como vir 1 aand. Daarna is ons na Venesie met trein. Op dieselfde Lyn Le Verona, so ons het weer vir 3 ure by Verona gestop, ons tasse in lockers gesit en in Verona op ons eie A small city walk through Verona gedoen wat ek van die internet afgetrek het, die Veronacard gekoop vir 15 euro/ persoon. Ek kan dit aanbeveel. In Venesie het ons 3 nagte geslaap. Toe vlieg ons met Easyjet na Napels, slaap 1 aand in Napels, ry toe trein na Sorrento vir 3 aande. Vanaf Sorrento het ons Amalfi, Positano en Rovello op private ekskursie gedoen teen 45 euro/ persoon van 6 ure lank(kan dit sterk aanbeveel). Ons het Capri ook gedoen en Pompeii ook met privaat ekskursie deur die hotel gereel -Sorrento Prestige Hotel met sy eie free shuttlediens. Pompeii vervoer vanaf Sorrento na Pompeii vir 3 ure en toe na Napels stasie het 50 euro/ p gekos. Ons is toe met trein terug na Rome, vir 1 aand in Rome weer geslaap waarna ons terug gevlieg het SA toe. Met Lufthanza rederye het ons retoerkaartjie R5600 gekos vanaf JHB na Parys via Frankfurt en terug vanaf Rome via Frankfurt na JHB.

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Sjoe, dis ‘n droomtoer! Baie dankie vir al die inligting. Ek was nog nooit in die Suide van Italië nie, die Amalfi-kus is beslis op my moet-sien lys. Dankie dat jy dit gedeel het.

    • Reply
      Sheila

      More Gerda die toer wat jy gedoen het is presies die een wat ek en n vriendin wil doen. Vanaf 1 Junie – 12 Junie.
      Sal jy asb vir my jou reisplan kan stuur, ons eerste keer wat ons so n reis aanpak.
      Waar het julle gebly ens. Wil ook so goedkoop moontlik gaan.
      Sal dit waardeer as jy my sal kan help.
      He n wonderlike dag.
      Groete Sheila

  • Reply
    Stephen Theron

    Brilliant , dit is persies wat mens nodig het Carla , daar is n wanpersepsie oor koste van reis , ek ervaar dit in VSA jy kan ‘n fiets huur vir $9 per dag , en die hele stad platry . Jy moet meer van die doen . I love it !!

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Ek is bly jy geniet Denver, dis seker nou baie lekker daar in die somer! Ek is sommer jaloers!

  • Reply
    Len

    Goeie more Reismiere
    ek en my vrou is ook besig om ons vakansie na EUROPE te beplan.
    Ons het klaar ons vliegtuigkaartjies bespreek en betaal ( SAA VOYAGER MYLE ) . otel en gasterhuise ook kllar bespreek. Nou beodig ons die KORREKTE TREIN PASS. Ons vlieg DV op 7Sept. van JHB na Frankfurt, ons benodig ons eerste train op 8Sept. van FRANKFURT Main na AMSTERDAM. Dan trein ons van Amsterdam na PARIS op 10Sept. Dan verder op 13Sept na LUCERNE, en 15Sept. na VENICE. Laastens beplan ons per trein van VENICE terug na Frankfurt op 18/09.
    Watter is die korrekte treinpass , asb.
    groete
    len

  • Reply
    Christine du Toit

    Ek geniet julle reismier-stories! Binnekort op pad na Toskane en vir ‘n tweede keer na die Cinque Terre. Ons het dit die vorige keer per boot gedoen, hierdie keer het ons een volle dag om dit op ons eie per trein te doen vanaf La Specia. Ons sou graag wou stap tussen dorpies waar dit moontlik is en nie te rowwe paadjies is nie; ons is nie meer so jonk nie. Carla, kan jy dalk help hiermee, asb.? Hoe ver is die dorpies van mekaar en waar sal ons die staproete kan doen i.p.v. om per trein te ry? Ek weet van die pragtige tonnel tussen Riomaggiore en Manarola en gaan dit beslis doen indien die tonnel oop is. En, vertel tog vir almal dat reis die heel beste medisyne vir alle kwale is.

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Beste Christine

      Toskane en die Cinque Terre bly ‘n belewenis. Ek weet nie of julle toegang tot ‘n huurmotor het in Toskane nie, maar kyk of jy een vir ‘n dag kan huur en gaan toer die Val D’Orcia. Almal met wie ek gesels sê vir my dis die hartland van Toskane.
      Die padjies tussen die Cinque Terre is maar wispelturig. dit hang af van weer en veiligheid. Toe ons daar was, (seker so 3 maande terug) was slegs die pad tussen Monterossa en Vernazza oop. Dis ‘n taai stappie van ongeveer so 3 tot 4 ure en jy sal ordentlike stapskoene moet aantrek. Stap hom eerder van Monterossa na Vernazza, dis makliker en ry dan die trein na die ander dorpe. Dis egter die moeite werd, die uitsigte is pragtig. Onthou ook om ‘n “Trekking pass’ te koop, indien jy gaan stap.

      Daar is ook twee fraai dorpies naby, Levanto en Bonassola wat die besoek werd is. Die dorpies word met mekaar verbind met ‘n reeks tonnels en fiets- en voetgangerspadjies. Huur ‘n fiets en verken die dorpe.

  • Reply
    Marita Jordaan

    Ons wil graag in Junie-Julie vakansie italie toer Ons het al getoer op ons eie en in georganiseerde groepe. Dit is ek my man en student dogter (21) Is dit moontlik om ‘n toer aanmekaar te sit voir so 2 weke?

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Hi Marita, dit is beslis moontlik. Dit hang af wat jy in gedagte het, maar ek sal so 3-4 nagte in Rome, 3 nagte in Toskane en 3 nagte in die Cinque Terre aanraai. Puglia is glo ook baie mooi. Ek sal voorstel jy raadpleeg AirBnb vir verblyf, maar met die Euro wat die rand karnuffel sal ek voorstel jy wag so rukkie voordat jy bespreek. Ons het by Villa Francesca in die Cinque Terre gebly en ek sal dit vir enige iemand aanbeveel, hulle bied uitstekende waarde vir geld.

  • Reply
    Gerhard

    Hi Reismier, ek het jou geselsie op RSG so ‘n paar maande gelede geniet en kyk nou gereeld na jou webblad wat vol bruikbare raad is, waardeer wat jy so met ons deel.
    Op RSG het jy iets genoem van ‘n app wat mens kan gebruik om met google maps en jou slimfoon se GPS funksie jou pad te vind in buitlandse stede.
    Kan jy my help om die app te vind, ek is maar dom met slimfone en sulke goed.
    Groetnis

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Beste Gerhard
      Dankie vir die mooi woorde. Ek het vir jou ‘n e-pos gestuur met al my gunsteling-apps en katoeters.
      Groete!

      • Reply
        alma van heerden

        Reismier kan jy asseblief ook vir my die app vir google maps ens. wat jy vir Gerhard gestuur het ook epos. Ons gaan dv 1 Jun Italie toe op ons eie (ons is 2) en vra asseblief hulp en idees vir blyplek en waar om heen te gaan van almal wat reeds dit self gedoen het. Is maar skrikkerig en wil alles vooraf in SA bespreek en betaal. So enige hulp en raad sal waardeer word. Stuur asb enige informasie na my epos: almavheerden@mweb.co.za. Dankie byvoorbaat!

  • Reply
    Arno Timmer

    Hallo, is Oktober maand nog n goeie tyd om Italie te besoek. Ons wil Rome besoek en vandaar na Florence, Bergamo, Verona, Venesie en dan weer terug na Rome. Hoor graag.

    • Reply
      Die Reismier Post author

      Hi Arnold

      Oktober is die perfekte tyd om Italie te besoek. Die weer is nog nie snerpend koud nie, die herfskleure is pragtig en skares het verdwyn. Die pryse lyk ook goed.
      Venesie kan ‘n klein stukkie hel in die somer wees, veral op dae wanneer die kwik hier by 35 draai en dit ‘n vertrapping is.
      Ek het Venesie in Oktober besoek en was geseen met pragtige dae, maar wees gewaarsku, die weer is baie soos die Kaap. Die een oomblik skyn die son en dis pragtig, die volgende oomblik reen dit. Bring maar ‘n reenjas en pak daardie waterstewels, jy sal bly wees wanneer aqua alto (hoogwater) inskop.
      As jy die klein dorpies buite seisoen besoek, is baie restaurante nie oop nie, maar daar sal wel iemand wees wat vir jou kan voer.

      Geniet Italie, dis een van my gunsteling lande.